Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Kyk pas bekroonde ‘Stam’ hier
Inge Beckmann vertolk ’n hoofrol in ‘Stam’.

Fliekvlooie kan van 21 September (van 18:00) tot 1 Oktober (om middernag) die nuwe Afrikaanse rolprent Stam eksklusief op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se digitale platforms kyk.

Die prent is Saterdagaand as beste Suid-Afrikaanse rolprent op die internasionale rolprentfees in Durban bekroon.

Stam is geskryf en geregisseer deur Louw Venter en vervaardig deur die filmspan van Inxeba (Die wond) wat in 2017 met vele pryse bekroon is.

Volgens Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, is Stam ’n uitsonderlike Afrikaanse rolprent wat belangrike kwessies aanpak. “Dit sou landwyd in rolprentteaters uitgereik word, maar weens die Covid-19-pandemie was dit onmoontlik. Dit is vir die KKNK ’n groot voorreg om dit eksklusief aan die publiek beskikbaar te stel vir ’n kort tydperk.

“Dit is vir sowel die KKNK as die rolprentmakers belangrik om gesprekke rondom die vraagstukke wat die fliek uitlig, aan die gang te sit en daarom bied ons ook geleenthede vir gesprekke met die rolprentmakers en kenners om verder oor dié onderwerpe te gesels,” sê Theart. Hy sê die gesprekke sluit in temas soos: Wat ons nie van geslagsgegronde geweld sê nie; die trauma van versorging (’n gesprek met lede van die polisie, verpleërs, dokters en ander noodsaaklike werkers); en die verhouding tussen verslawing en verbondenheid. “Toegang tot en deelname aan hierdie drie gesprekke is by die kaartjiepryse ingesluit.”

Stam verweef die lewe van vyf uiteenlopende karakters deur die loop van ’n paar uur in die middestad van Kaapstad. “Ons word nou meer as ooit vantevore gedwing om na die betekenis en belangrikheid van menslike verbintenisse te kyk – dié tema vorm die kern van die rolprent,” sê Venter in ’n verklaring.

“Die pandemie het onomwonde bewys dat daar magte is wat ons aan mekaar verbind, magte wat kragtiger is as wat ons ooit sou kon dink. Ons is almal deel van mekaar se stories. Stam is ’n ontginning van die onsigbare kettings wat ons aan mekaar bind. Verbintenisse en verhoudings wat baie verder as faam, die ekonomie, geslag, ras of sosiale aansien strek.”

Stam se rolverdeling word gelei deur Inge Beckmann (The Dark Tower, Troy: Fall of a City en Escape Room), Gideon Lombard (Suidooster, Lien se lankstaanskoene), Tarryn Wyngaard (Noem my Skollie en Arendsvlei) en Niza Jay (Inxeba en Validictory). Ander spelers is onder andere Armand Aucamp, Nicola Hanekom, Jill Levenberg en Oscar Peterson in ondersteunende rolle.

Kaartjies om Stam op die KKNK se digitale platforms te kyk, kos R50 en is beskikbaar by Quicket. Die kaartjieprys sluit ook drie eksklusiewe webinaars met van die rolspelers en kenners rondom die temas in die prent in.

Die drie webinaars waar die temas in die fliek bespreek word, kan eksklusief deur kaartjiekopers gekyk word en details sal via e-pos gestuur word nadat die kaartjie gekoop is.

Vir meer inligting besoek www.kknk.co.za/stam/

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.