Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
KYK: SA rolprent van 2014 herinner sterk aan Covid-19
Nicola Hanekom vertolk die hoofrol in ‘Pathology’. Foto: Quizzical Pictures / NFVF / Vimeo

Die regisseur en draaiboekskrywer René van Rooyen het vir ’n buitengewone rede “geskrik” toe die Covid-19-pandemie losbars en ’n staat van inperking in Suid-Afrika ingestel is.

Van Rooyen het in 2014 die kortrolprent Pathology gemaak, wat die huidige stand van sake byna op ’n haar weerspieël.

Dié fiksierolprent begin op 23 Maart 2020 – net vier dae voordat die staat van inperking werklik in Suid-Afrika begin het – en speel in ’n verlate en spookagtige Johannesburg af. Treine staan stil en strate is leeg omdat die regering (in die kortrolprent) ’n staat van inperking ingestel het om die verspreiding van ’n naamlose virus te bekamp. 

Die rolprent fokus op ’n patoloog, Eliza (vertolk deur Nicola Hanekom), wat in haar weelderige huis probeer om ’n entstof teen die virus te ontwikkel, terwyl haar suster, die gesondheidswerker Danielle (Daniela Grech Cumbo), siek en arm pasiënte in ’n informele nedersetting versorg.

“My ouers het my aan (die kortrolprent) herinner,” sê Van Rooyen. “In die eerste paar tonele beskryf Eliza die datum – 23 Maart 2020 – en dat die stad weens die virus in ’n staat van inperking is. Ek het self geskrik!”

Sy sê die kortrolprent, wat deur die Nasionale Rolprent-en-video-stigting (NFVF) en Quizzical Pictures vervaardig is, is gebaseer op ’n idee vir ’n eksperimentele sielkundige riller waaraan sy tydens haar studies aan Afda in Kaapstad geskaaf het. Dié idee was te danke aan haar pa, prof. Philip Spies.

“My pa was vir twee dekades die direkteur van die Universiteit Stellenbosch se Instituut vir Toekomsnavorsing (IFR),” sê Van Rooyen (35).

“Ek het in my vroeë twintigs ’n boek van hom met ’n reeks scenario’s oor Suid-Afrika se toekoms gelees. Die saadjie (vir die kortrolprent) is tydens die lees van die boek geplant, en ek het later besluit om te kyk na hoe die uitbreek van ’n virus in ’n nagmerrie-scenario sal uitspeel.”

Terwyl Suid-Afrikaners in hul wonings met mure omring en daarbinne vasgekeer is, sê Van Rooyen dit is ook opmerklik hoe mure in die distopiese kortrolprent ’n belangrike metafoor is.

“Die mure wat ons letterlik en figuurlik in ons samelewing bou, het ’n sterk metafoor gevorm waarmee ek die onderwerp van binne kon ondersoek,” sê sy.

Netwerk24 het Sondag berig dat die uitreiking van Van Rooyen se jongste rolprent – ’n grootskerm-verwerking van Dalene Matthee se laaste bosroman, Toorbos – ook weens die Covid-19-pandemie uitgestel is.Die rolprent sou op 1 Mei landwyd uitgereik word. ’n Alternatiewe uitreikdatum is nog nie bekend nie.

  • Pathology kan hierbo gekyk of gratis op https://vimeo.com/104458709 gestroom word.

Meer oor:  Koronavirus  |  Flieks  |  Covid-19  |  Toorbos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.