Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Kyker sal nie ligte vermaak hiér kry

Stateless. Met Yvonne Strahovski en Jai Courtney. Skepper: Tony Ayres en andere. Op Showmax.
 ***

Hierdie reeks is die soort waar daar van ’n resensent verwag word om met superbeskrywings vorendag te kom soos “Briljant! Onmisbaar! Moet dit nie misloop nie!” Julle ken al daardie beskrywings in die oortreffende trap waaroor ’n mens dikwels erge en kwaai e-posse kry: “Na aanleiding van jou beskrywings het ek ’n Sondagaand vermors!”

Daarom trap ’n mens versigtig deur die koalabeertjies en tolbossies van hierdie hardekwas- Australiese reeks wat waar is. Dit is ingewikkeld, baie verhale word tegelyk vertel en min karakters is “televisievriendelik”.

Dit beteken: Die waarheid is grinterig. Dit is vol brandnetels. Geen versagting nie, min sagstellings, en geen gehoorvriendelike foefies en blitsromanses vol ontsnappingsoomblikke nie.

Dit gaan om asielsoekers wat ingeperk is in ’n Australiese fasiliteit waar onwettige immigrante aangehou word, dikwels onder moeilike, soms wrede omstandighede, en hulle ten alle koste moet oorleef.

Die probleem is dat te veel stories tegelyk vertel word, sodat dit tot kykersversmoring lei.

Die verbysterendste feit verskyn as aanhaling aan die einde van die reeks waarin die vervaardigers (ook Cate Blanchett) ons meedeel dat meer as 100 miljoen mense haweloos en staatloos is, om asiel aansoek doen en na ’n veilige heenkome soek. Hulle verlang veral visums en paspoorte om wettig in ’n veilige land soos Australië te mag werk. Die immigrante-/asielprobleem, veral in Europa en deesdae ook Australië, het die vervaardigers genoop om hierdie broodnodige reeks te vervaardig.

Hierin tree verskeie karakters aan weerskante van die asiel-grensdraad op: Die opsigters, wagte, bestuurders en ongewilde, apatiese immigrasieowerhede. Elkeen is ’n mens in eie reg, afhangende uit watter oogpunt hulle bestudeer word. En dis aan die akteurs se talente te danke dat selfs die wreedste en mees genadelose beamptes steeds as volbloed mense registreer.

Die storie begin met ’n man wat sy gesin uit Afganistan na veiligheid per boot stuur en feitlik al die vlugtelinge verdrink. Hy daag dan later by ’n vlugtelingkamp op. Daar ontmoet hy ’n blonde skisofreen (die genuanseerde Yvonne Strahovski) wat na Duitsland wil gaan “waar sy vandaan kom”. Dit lei tot die skok-ontknoping oor wie sy werklik is. Hierdie insident het die reeks eintlik laat ontstaan en gee aanleiding tot die titel.

Die probleem is dat te veel stories tegelyk vertel word, sodat dit tot kykersversmoring lei. Natuurlik vorm elke klein insident ’n mikrokosmos van ’n groter storie of verteenwoordig dit honderde ander stories. En dikwels oorweldig die insidente die kyker, om nie te praat van die hoeveelheid dilemmas waarmee die immigrasie-owerhede opgeskeep sit nie.

Waar staan jy, veilig daar op jou rusbank, te midde van hierdie asiel-pandemie?

Dit is ook vermoeiende kykmateriaal wat jou ontsenu en verbyster. Maklike kykmateriaal is dit nie. ’n Mens sou dit dus nie wou aanbeveel vir die omie wat knorrig kla oor “my Saterdagaand wat geruïneer is deur jou aanbeveling nie”. Elke reeks kan nie ontsnappingsvermaak bied waar mooi outjies bikini’s van meisies afstroop sonder om hulle swanger te maak nie. Vir sulke reekse, lees die rolprentresensies aan die einde van die bladsy.

Ons verkeer in moeilike tye, en sekere aspekte en insidente moet onder die aandag van kykers gebring word sodat hulle dan uit hul rusbankgemaksone geruk kan word en uit ’n ander hoek na koerantopskrifte kyk. (“Tientalle asielsoekers verdrink nadat boot omslaan”.)

Maar aan die anderkant: Enersyds is onwettige immigrante (kyk maar na die Suid-Afrikaanse situasie met miljoene onwettige asielsoekers of mense wat bloot deur riviere stap) ’n reuseprobleem, wat dreig om lande te ontspoor. Waarheen met derduisende werkloses? Andersyds ontstaan die vraag: Ná maande se ontberings en wrede omstandighede waaronder hordes verdrink of aan ontbering sterf, waar staan die regerings en diegene wat die asielsoekers wil help? Tog, menslik (en wetlik) is daar net soveel opsies wat gevolg kan word.

Maar, herinner die reeks ons: Die regerings moet ook hul eie belange beskerm. Soos dit hier uitgebeeld word (en die reeks is glo op die waarheid geskoei), word die grens tussen held en slagoffer, verwaarloosde sterwende immigrant en ’n oubaas wat al jare met sy koffer langs hom in die middel van ’n paradegrond sit, getakel.

Ook mense wat vir jare op ’n kamp se dakke oorleef en soebat om ’n visum, kry gesigte.

Dis strak, grusaam, ontstellend en lei ook tot stewige selfondersoek. Waar staan jy, veilig daar op jou rusbank, te midde van hierdie asiel-pandemie?

  • Niemand onder 13 nie as gevolg van taal en geweld.
Meer oor:  Stateless  |  Showmax
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.