Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘Laat Soedannese kunstenaars vry,’ vra rolprentbedryf

Die Vereniging vir Dokumentêre Rolprentvervaardigers (DFA) in Suid-Afrika het sy stem gevoeg by dié van internasionale organisasies en rolprentfeeste wat op die vrylating van vyf Soedannese kunstenaars, onder andere die bekroonde rolprentvervaardiger Hajooj Kuka, aandring.

Hajooj Kuka Foto: Facebook

Kuka, wat vroeër vanjaar lid geword het van die Academy of Motion Picture Arts and Sciences, die organisasie wat jaarliks die Oscars beslis, het op 13 Augustus getwiet dat hy en ’n groep kunstenaars by ’n teaterslypskool in die Soedannese hoofstad, Khartoem, deur “Islamitiese aanstigters” aangeval is.

Die polisie is, na verneem word, ontbied, maar het hulle volgens Kuka by die aanstigters geskaar en 11 kunstenaars, insluitende Kuka, in hegtenis geneem.

Volgens die International Coalition for Filmmakers at Risk (ICFR) is Kuka en vier van dié kunstenaars – Duaa Tarig Mohamed Ahmed, Abdel Rahman Mohamed Hamdan, Ayman Khalaf Allah Mohamed Ahmed en Ahmed Elsadig Ahmed Hammad – skuldig bevind op aanklagte van openbare opruiery en die versteuring van die publiek se veiligheid. Hulle is almal Donderdag twee maande tronkstraf opgelê en met 5 000 Soedannese pond (sowat R1 514) beboet. Die ander ses kunstenaars moet nog verhoor word.

Volgens die organisasie Gisa, waarvan Kuka ’n direkteur is, is die saak glo deur owerhede uit die era van die voormalige president Omar al-Basjir hanteer. Deadline berig dít dui volgens Gisa op ’n terugkeer na wetgewing wat Al-Basjir ingestel het om benewens kunstenaars menseregteaktiviste in die land te onderdruk.

Volgens Steven Markovitz, ’n Suid-Afrikaanse rolprentvervaardiger, is al die aanklagte teen Kuka “vals”. Markovitz het albei Kuka se rolprente, Beats of the Antonov (2014) en aKasha (2018), vervaardig.

“Hajooj is vandag (18 September) in die tronk geslaan en sy rastalokke is deels afgeskeer,” het Markovitz op Facebook geskryf.

“Hy word na ’n maksimumveiligheidstronk verskuif. Dit is ’n dringende saak.”

Markovitz het gevra dat enigiemand wat Hajooj en die ander kunstenaars wil help, dadelik die Soedannese ambassade in hul land moet kontak en by hulle moet aandring dat al die kunstenaars vrygelaat word.

Die internasionale rolprentfees in Toronto (Tiff), waar Beats of the Antonov en aKasha gedebuteer het, het uit samehorigheid met Kuka besluit om albei sy rolprente die afgelope naweek aanlyn te stroom.

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.