Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Lategan wen silwer vir kortfilm oor Kgalagadi
Joe Lategan se foto van twee sebras wat in die Kgalagadi-oorgrenspark baklei. Hoewel sebras nie in die park aard nie, is die diere in 'n stadium vir 'n kort tyd daar gehuisves. Foto: Joe Lategan
Joe Lategan (regs) en sy seun, Hardus, met die silwer eerbewys wat hulle vir die kortfilm oor die Kgalagadi-oorgrenspark ontvang het. Foto: Verskaf

Joe Lategan, bekroonde natuurfotograaf en rolprentmaker van Kleinmond in die Wes-Kaap, het Vrydag ’n silwer eerbewys van die International Tourism Film Festival Africa (ITFFA) ontvang vir ’n kortfilm oor die Kgalagadi-oorgrenspark.

Lategan het die eerbewys in die kategorie vir beste dokumentêr ontvang.

Sowat 900 deelnemers uit 65 lande het vanjaar ingeskryf vir dié kompetisie, wat daarop gemik is om toerisme te bevorder.

Suid-Afrika het die meerderheid van die eerbewyse in die kompetisie ingeryg.

Lategan sê hy is verheug dat die fliek en eerbewys nou meer bewustheid oor die Kgalagadi-oorgrenspark en bewaring kan skep.

Hy besoek die park al bykans 30 jaar en sê hy bring in geheel tot ses maande van die jaar hier deur.

Sy passie vir die park het begin toe hy saam met legendes soos Elias le Riche, parkhoof van die ou Gemsbokpark, en prof. Fritz Eloff, wat die leeus hier bestudeer het, tyd kon deurbring.

Ek het saam met hulle in die duine geslaap as hulle drade in die park reggemaak het. Dit is waar ek ’n onmiddellike liefde vir die park ontwikkel het.
’n Leeu in die Kgalagadi-oorgrenspark. Foto: Joe Lategan

“Ek het oom Elias in die veldwagterdae ontmoet en ’n verhouding met hulle opgebou. Ek het saam met hulle in die duine geslaap as hulle drade in die park reggemaak het. Dit is waar ek ’n onmiddellike liefde vir die park ontwikkel het.”

Dit is ook hier waar hy die geleentheid gehad het om tyd saam met Eloff deur te bring terwyl hy sy navorsing oor leeus gedoen het.

Hy besoek die park vier tot ses keer per jaar en sê dit is sy tweede huis.

Dit was ’n beginselbesluit om die bewaring van die Kalahari sy missie en visie te maak.

Onweer steek oor die Kgalagadi-oorgrenspark op. Foto: Joe Lategan

“Ek wou dit my taak maak om als in my vermoë te doen om die standaarde wat daar in die verlede was, hoog te hou.”

Dit is veral die oorlewing van die Kalahari-leeus waaroor hy bekommerd is en hy fokus deur sy werk sterk hierop.

Weens die gebrek aan onderhoud aan die omheinings aan die Botswana-kant van die park breek leeus gereeld deur na plase, waar hulle beeste plattrek en dan geskiet word.

“Dit gebeur vandag baie meer gereeld as in die verlede. Daar is nie meer ’n veearts wat uitkom as ’n leeu deurbreek om die leeu te verdoof en te skuif nie. Die leeus word dus geskiet.”

Lategan sê benewens dié gebruik om die leeus van kant te maak, skep stropery en die smokkel van leeubeendere ’n kommerwekkende probleem.

Hy wil graag hê dat mense die Kalahari moet bewaar soos hy is.
Twee gemsbokke in die Kgalagadi-oorgrenspark baklei. Foto: Joe Lategan

“ ’n Mens sien hoe alles in die wêreld agteruitgaan en ek is bang die Kalahari sal ook skade ly. Dit is maar ’n hart-en-siel-ding en daarom belê ek hierin.”

In ander pogings om bewustheid te skep, bedryf hy ook verskeie profiele op sosiale media, soos Kgalagadi Photography in sy YouTube-kanaal, Joe’s Camera, waar hy bewustheid oor die park en die Kalahari bevorder.

Twee gemsbokke in die Kgalagadi-oorgrenspark baklei. Foto: Joe Lategan

Hy probeer hierdeur veral wêreldwye bewustheid op die internasionale verhoog skep.

“Hoe meer die bewuswording, hoe beter is die openbare toesig oor die park en sy prosedures.”

Hy wil graag hê dat mense die Kalahari moet bewaar soos hy is.

“Veral vir die Boesmans wat hier oor is en sukkel. My hart gaan uit na hulle en ek probeer om mense aan te moedig om ou klere en speelgoed vir kinders by die Kgalagadi Lodge af te laai as hulle die omgewing besoek.”


Meer oor:  Kgalagadi  |  Silwer  |  Fotograaf  |  Rolprentmaker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.