Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Leon van Nierop: 70’s-riller laat jou naels erg les opsê

The Serpent
. Met Tahar Rahim en Jenna Coleman. Regisseur: Hans Herbots. **** Op Netflix. Beperking: 16.

Dit is ’n sensasie!

Waar ’n mens jou ook bevind word The Serpent bespreek.

Maar dis nie sommer ’n ligte ou Bridgerton-parfumerasie-geskinder nie. Dis hardebaard-vermaak. Toe nóg ’n groep my vra om hierna te kyk en dit te resenseer was dié resensie noodsaaklik.

Kyk! Dié reeks gryp jou aan die keel (en ander dele!) en skok die blou duiwelsdrek uit jou.

Dit is boonop op die waarheid gegrond, wat dit nog meer makaber maak. Die indruk word gewek dat jy na die waarheid kyk sonder enige versagting of verfraaiing. Dit slaan jou wiele seerder as ’n slaggat; daar is ’n gebrek aan versagtende emosie en die aandag aan karakterisering en detail is prysenswaardig en uitermate oortuigend.

Kyk! Dié reeks gryp jou aan die keel (en ander dele!) en skok die blou duiwelsdrek uit jou. Dit is boonop op die waarheid gegrond, wat dit nog meer makaber maak.

Maar nog beter. Hoe beeld jy ’n psigopaat oortuigend uit sonder die Hollywood-smaal om posbuslippies of die fyntrek van oorgegrimeerde oë? Jy kyk deur ’n ander karakter, wat betower word deur die moordenaar, se oë na hom. En jy merk saam met haar dat daar weinig emosie agter sy brilglase skuil. Jy kon netso wel na ’n steenmuur gekyk het.

Maar iewers is die kyker steeds bewus van ’n verwronge, menslike element. Jy neem waar hoe ’n apatiese sjarme eenvoudige slagoffers in vlamme laat opgaan.

Letterlik! Meer wil mens nie verklap nie.

Dit handel oor die duiwelse Charles Sobhraj (meesterlik gespeel deur Tahar Rahim van A Prophet) wat hippies en duimgooiers in die sewentigerjare in Asië in sy strik gelok, hulle gebruik het om nie net met juwele te smokkel nie, maar hulle sommer ook beroof en bedwelm en hul identiteit oorgeneem het. Die slang seil dan kalm na sy volgende slagoffer.

Die reeks se sterkste punt is die oorbluffende Jenna Coleman as die meisie in Charles se lewe.

Sy het tevore koningin Victoria in Victoria gespeel. Wat spel en voorkoms betref is sy onherkenbaar. Net haar gesigsuitdrukkings (amper so strak soos die grote Frances McDormand s’n, en dit sê baie!) weerspieël die gruwels wat sy waarneem en haar oë is ’n vertoonkas van die kyker se verskroeide emosies.

Dit is nie sommer ’n Big Mac-met-tjips-reeks nie. Jy sit vasgenael en staar na die moeilike waarheid, wat bietjie opgeknap en televisiematig ingeklee is.

Maar dit is steeds die waarheid! Nog ’n sterk punt: Dialoog word spaarsamig aangewend.

Gaan verstom jou aan Netflix se The Serpent. Watter reeks ook nou jou aandag kaap, kan wag.

Hierdie een pik jou aan die hakskeen en kinkel sy luislangspiere om jou enkels. Dit sal jou met weersin vervul, maar ook fassineer.

’n Waarskuwing: Dis gewelddadig, maar die geweld is gemotiveer.

Who Killed Sara? Met Manolo Cardona en Carolina Miranda. Regisseur: José Ignacio Valenzuela. ** Op Netflix. Beperking 16.

Wie van die ontwerper- gespierde narsiste het Sara vermoor?

Nie dat ’n mens ’n dood ligtelik wil afmaak nie, maar televisie het die manier om die dood te oorvereenvoudig en verfraai. Die klem val gedurende die dood op koel musiek, natuurtonele en lywe.

Lus vir ’n sekssambreeltjie in jou moordmengeldrankie? Dan is dié reeks vir jou. Maar vroeg reeds lei dit aan “sequelitis”. Hoeveel episodes kan uit ’n storie gepers word? Dit voel of jy in ’n drukgang geplaas word en wag vir jou doodsinspuiting.

Die reeks fladder van sespak tot bikini-bandjies tot bultende swembroekies. ’n Mens kan ook net so lank na selfvertroetelende sekskapades kyk voordat dit nie meer saak maak wie vir Sara vermoor het nie.

’n Pragtige meisie (die suster van ’n verdagte) begewe haar, saam met spiertiere, op ’n boot en begin ski. Kort voor lank blom haar valskerm kleurvol oop en daar sweef sy soos ’n besete by deur die lug agter die boot aan.

Maar iemand het aan die veiligheidsbandjies gepeuter en sy sterf. Wie haat haar so dat sy vermoor word? Boonop sit die verkeerde “moordenaar” vir 18 jaar in die tronk om die ware skuldige te beskerm. Ai, die mafia het darem kruikevol leedvermakerige mag. ’n Man (?) het die pragtige Sara die ewigheid in gejaag terwyl hy al swetende aan sy sespak gewerk het.

Dalk hou jy hiervan as glans jou opgewonde maak. Hierdie resensent het dié sexy reeks voorspelbaar, afgesaag en sieldodend eentonig gevind. Maar, nouja.

Dis uitsonderlik gewild en trek baie aandag.

Meer oor:  The Serpent  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.