Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Leon van Nierop: Cruella se brakke vreet jou geduld op

Cruella
. Met Emma Stone en Emma Thompson. Regisseur: Craig Gillespie. *** In teaters. Beperking: Kinders tussen 7 en 9 vergesel deur volwassene.

Sy is aangewys as die venynigste, kwaadwilligste skurk ooit en saam met Maleficent (2014) die enigste tewerasie as antiheldin in ’n Walt Disney-fliek. Met Cruella (2021) voel dit of jy hondehare saam met stroop eet. Die duiwelrasie haat Dalmasiese honde (die rede word verduidelik) maar het self, soos Joker (2019), ’n demoniese kant waar haar siel in ink verdrink.

Aanvanklik maalkolk die struwelstorie al in die rondte met ’n verskeidenheid van personasies, waaronder die patetiese Estella wat later in Cruella sou verander.

Al haar drome word vir die brakke gegooi om verorber en (letterlik!) ontlas te word. Maar wanneer sy by die beneukte Barones (Emma Thompson) beland wat klere ontwerp en siele deur die sementmenger voer, besluit Estella net daar dat sý eintlik die sakeryk moet beheer omdat die Barones haar ma vermoor het.

Die rolprent slaan jou dronker as ’n vlieg onderin jou whiskyglas en verrinneweer jou – amper of dit kwaad is vir die pandemie-situasie waarin rolprente hulle tans bevind en nou visuele wraak neem.

Kort voor lank verander die pretpark-Disney-kinder-kaperjolle in ’n Rocky Horror Picture Show met ’n fopspeen of deur Hitchcock gemaak. Die karakters ontplof soos bottels gemmerbier agterin ’n motor en Cruella ondergaan ’n gedaanteverwisseling. Sy ontaard in ’n ongeskilde aartappel en ’n teatrale, vertonerige, diaboliese tipsietert waar die bakker se hand geglip het.

Voeg ’n snapsie Daphne du Maurier by en die warboel van style, ’n tempo vinniger as ’n wegholtrein en komete vir side-kicks wat vuursterte agter hulle aantrek en jy het ’n idee wat op die volgende bladsy gaan gebeur.

Dus: Al is die beperking niemand onder sewe jaar sal selfs kinders ouer as nege hulle aanvanklik vergaap en wonder of hulle in ’n tiener-The Handmaid’s Tale met brakke beland het. Die rolprent slaan jou dronker as ’n vlieg onderin jou whiskyglas en verrinneweer jou – amper of dit kwaad is vir die pandemie-situasie waarin rolprente hulle tans bevind en nou visuele wraak neem.

“Dis hoe groot rolprente weer moet word!” is ’n subteks.

Dit oorrompel die kyker, verbluf kinders en laat die vermaakkolle soos masels op jou uitslaan.

Jy rondomtalie in jou stoel, staar verstom na watter kulkunstoertjies Craig Gillespie nou weer gaan optower en raak soms geïrriteerd met Thompson se aansittery. Daarom moet Estella, wat intussen in Cruella de Vil verander het, soos ’n stukkie lekkergoed waarvan die papiertjie gestroop is vinnig van kostuum verwissel en die kyker verbouereerd maar gefassineerd laat. Disney het beslis ’n gedaanteverwisseling ondergaan sedert die eerste 101 Dalmatians in 1961 hul kolle gewys het. Stone is uitsonderlik as Cruella, daarom bly ons oorbluf aan haar kant.

Maar dan verdrink die rolprent in oordaad. Waar ’n mens die storie met uitbundige uitroepe gevolg het en die kostuums en stelle die fliek versier soos rosyntjies koekstruif opkikker, raak dit te lank en selfvertroetelend, wat Cruella ’n vierde ster gekos het.

Wanneer jy die uithouvermoë van ’n gehoor oorskry, word die naelstring tussen fliek en bewonderaars geknip.

Buitelandse kritici het gejuig oor die oormaat (“die eerste oordonderende fliek sedert die pandemie!”), maar hierdie resensent se ysbakkie loop oor. Dis lekker en verbysterend uitspattig. Jy geniet dit soos ’n taai gimnasium-sessie waar die pyn lekker is; totdat jou plesierspiere in treiterspiere verander.

Veral studente mag gil van plesier en WhatsApp: “Bru! Kry jou lyf in die fliek!” Maar iewers byt dié brakke-met-kolle jou aan die skeen dat jy Slush Puppie bloei.

Clarice met Rebecca Breeds en Michael Cudlitz. Skeppers: Alex Kurtzman en Jenny Lumet. Op M-Net (DStv-kanaal 101), Maandae 22:00. ** Beperking: 18.

Gewonder wat met Clarice Starling gebeur het sedert sy en Hannibal Lecter in The Silence of the Lambs (1991) ontmoet en die lammetjies geblêr het?

Sy word getreiter deur nagmerries en daar dryf baie grusame herinnerings in haar onderbewuste slyk rond.

Hierdie reeks wonder wat ná die tyd met haar gebeur het, veral wanneer haar duwweltjiepad weer met die oorspronklike slagoffer van Buffalo Bill en dié se ma kruis. Dit voel of jy op glasstukke loop. Dan ontmoet Clarice ’n tweeling en die gevaarlikste van die twee is amper meer duiwels as die Bill-demoon, maar net sonder ’n naaimasjien! Maar Clarice is van staal gemaak.

Die probleem is ons soek na Hannibal, wat nie voorkom nie, en die spanning is tweedehands.

Rebecca Breeds is darem oortuigend, al rafel die storie uit.

Meer oor:  Cruella  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.