Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Leon van Nierop: Dié gehyg en sidder raak gou vervelig

Sex/Life
Sex/Life
. Met Mike Vogel, Adam Demos en Sarah Shahi. Geskep deur Stacy Rukeyser.  Op Netflix. Beperking 18.

Daar is ’n gehyg in die lug. ’n Kop wat vir die soveelste keer agteroorbuig met ’n sidderende sug en grimering swaarder as sommige IK’s oorheers die storie!

Dis geïnspireer deur 44 Chapters about 4 Men deur B.B. Easton wat nou ’n TV-reeks geword het wat aan sagte pornografie wil grens. Dis visuele stimulering vol van ’n seksuele geknoeiery. Dis ’n deurtrekker-kruising tussen 365 Days en Fifty Shades of Grey sonder die boeie, en met baie stoppels en haarjel.

Maar dis ook ’n geringskatting van die gevolge van seksuele plesier buite die huwelik. Want hier het ons ’n heldin (Sarah Shahi) wat alles het. Sy is getroud met ’n ontwerperman, Cooper (Mike Vogel). Hy is ’n sakeman – natuurlik mooier as ’n sonsondergang wat die Kaapse water streel.

Hulle het twee kinders. Maar die wanindruk word geskep dat ’n gelukkige huwelik nooit genoeg is nie. Geluk kan vervelig raak. Daarom hunker sy na die erotiese hygroman-landskap se gewildste karakter, die bad boy, in hierdie geval ’n voormalige minnaar en musiekvervaardiger, Brad (Adam Demos). Hy wys haar tot waar ’n mens kan bloos.

Soveel mooi mense, soveel eksplisiete beskrywings, so baie krete, soveel katels wat kraak, soveel ontblote lywe, terwyl ’n onderwerp soos hierdie eintlik ’n ernstiger hantering verdien as om van een kaaltoneel na ’n ander te spring.

Hulle ontmoet weer en die kyker is onseker of dit sy woeste kuif of sy stoppels is, maar hy prikkel haar versugting na verbode seksuele plesier totdat haar rekenaar bibber. Sy aanvaar dat te veel geluk eentonig kan raak indien jy avontuurlustig is.

Die heldin pen dan haar erotiese gedagtes in ’n joernaal neer.

Soveel mooi mense, soveel eksplisiete beskrywings, so baie krete, soveel katels wat kraak, soveel ontblote lywe, terwyl ’n onderwerp soos hierdie eintlik ’n ernstiger hantering verdien as om van een kaaltoneel na ’n ander te spring. En al drie hoofakteurs haal alles uit en wys. Dis slaptjips vir die oë en fluweel vir die lendene.

Fantasievervulling op die kassie het natuurlik sy plek, maar geen karakter word verder (of dieper!) ondersoek as ’n blote streling van ontblote vel nie.

Mooi is mooi tot ’n punt wanneer sespakke, biseps en borste op die TV-spyskaart alles dieselfde lyk en vervelig raak.

Dit trek reeds baie mense (Sex/Life is tans Netflix se gewildste program). Dis bedoel vir kykers wat suf is van pandemies, moord en doodslag in die media en ’n onpaar-paar speurders wat reeksmoorde oplos. Hulle sal dit moontlik opwindend vind en dit word vir hulle aanbeveel. Maar as jy na meer diepte of karakterisering soek: Lady Chatterley’s Lover het meer erotiek op een bladsy as hierdie hele reeks.

Prodigal Son met Tom Payne en Michael Sheen. Skeppers: Chris Fedak en Sam Sklaver. **** Op M-Net 101 Woensdae 21:30. Beperking 16.

Hier is nou meer pitkos vir ’n brein besmet met te veel broekie-lace-vermaak. En hoewel die storie werk, word dit in reeks 2 te lank uitgerek – ’n kwaal van kommersiële treffers.

Prodigal Son is ’n sielkundige ondersoek na onderwerpe soos psigose, waansin, neurose, paranoia en skuldgevoelens, maar sonder eksploitasie.

Dit gaan oor ’n super-aantreklike (hulle is altyd super-aantreklik!) sielkundige wat strafsake moet oplos of profiele moet opstel.

Die enigste verskil tussen hom en ander soortgelyke TV-karakters is dat sy pa, ’n senutergend goeie Michael Sheen, ook ’n mediese dokter en ’n reeksmoordenaar is wat soos dr. Hannibal Lecter in ’n sel aangehou word, net sonder die staal-mondering en ystermasker.

Hy help sy seun en later dogter om leidrade te gee oor hoe ’n reeksmoordenaar redeneer en hoe om lokvalle vir misdadigers te stel.

Maar die pa smokkel natuurlik met sy neurotiese seun se kop wat bewus is van die drange en vrese wat hy geërf het en besef: om te moor is maklik wanneer jy emosie afskakel en oorgee. En emosie is hoeka nie sy sterk punt nie.

Elke episode van Prodigal Son stel ons aan ’n ander faset van Malcolm Bright (’n uitsonderlike Tom Payne) voor en ondersoek hoe hy sy drange beheer en sy intelligensie en instink gebruik om moordenaars te vang. Maar dit bekyk ook sy stryd teen homself.

Die reeks is pakkend, intelligent en onderhoudend. As jy die eerste een gemis het, is dit jammer, want daar word die grondslag vir die res van die briljante seun se ondersoeke gelê.

Maar die tweede reeks kan ook op sy eie staan en kan jou dalk fassineer.

Meer oor:  Sex/Life  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.