Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Leon van Nierop: Die soort moord wat reguit na jou kyk

Sophie: A Murder in West Cork
met Ian Bailey en Barry Roche. Op Netflix. ***

Twee weke gelede het ’n reeks oor Suid-Afrikaanse moordverhale op M-Net begin.

Daarom is dit tydig dat dié reeks oor die moord op ’n Franse vrou nou op Netflix wys.

Kort voor Kersfees in 1996 is ’n Franse vrou wat met ’n rolprentvervaardiger getroud was, Sophie Toscan du Plantier, buite haar afgeleë huis in Ierland vermoor.

Aangesien daar feitlik nog geen moord in daardie gemeenskap gepleeg is nie, is die gemeenskap oorbluf.

Maar dan begin die mense om ondersoek in te stel (die polisie skyn nie veel te doen nie) en maak skokkende gevolgtrekkings.

Maar ’n joernalis toon ’n onnatuurlike en vreemde belangstelling in haar moord.

’n Mens durf nie meer verklap nie, maar Sophie is met ’n soort rotsblok stukkend geslaan.

Dit was die dae voordat DNS-bewyse nog algemeen aanvaar is, maar daar was ’n voetspoor langs die lyk.

Boonop was haar huis se sleutels in die deur en was daar twee glase wyn geskink, dus moes Sophie haar gas verwag het of vertrou het.

Maar dan kom die een ná die ander getuie na vore met die een teorie vreemder as die ander.

Maar nog erger: Wat gebeur wanneer die vermeende moordenaar daarmee spog dat hy Sophie vermoor het? En hoekom het haar bekende rolprentvervaardiger-eggenoot nie haar lyk kom uitken nie?

Daar is egter een doodgewone Ierse vrou wat die moordenaar 03:00 die oggend (toe Sophie vermoor is) vreemd op ’n brug sien optree het naby die plek waar sy vermoor is.

Wat het daar gebeur? En wat van die ander mense se getuienis?

Maar nog erger: Wat gebeur wanneer die vermeende moordenaar daarmee spog dat hy Sophie vermoor het? En hoekom het haar bekende rolprentvervaardiger-eggenoot nie haar lyk kom uitken nie?

Almal is dit eens dat sy ’n lief-dierbare vrou was. Hoekom haar dan vermoor?

Die dokkie word ook in onderhoudvorm vertel, nes die Suid-Afrikaanse reeks op M-Net, maar hierdie ondervraagdes kyk dikwels penreguit na die kamera en blaker alles uit wat hulle weet. Die reeks beweeg rustig en deeglik, en dis eintlik die onbeholpe polisieondersoek wat beklemtoon word en die afgeleë landskap waaroor die kamera dikwels glip.

Maar wanneer jy sien wat uiteindelik gebeur het, mag dit jou heeltemal onkant betrap.

Gewete is ’n lelike ding en hy krap soos ’n tandarts se haak die enemmel van jou brein af totdat jy erken. Maar sal die skuldige ingee?

In die laaste episode is daar nog ’n kinkel in die kabel wat niemand verwag het nie.

Sorg dat jy dit sien. Dit sal jou vir dae aan die praat hou.

7500 met Joseph Gordon-Levitt en Omid Memar. Regisseur: Patrick Vollrath. Op Amazon Prime. **** Beperking 16.

Soms speel rolprente vir 90 minute op dieselfde plek af. Phone Booth (2002 met soms wegsnyskote), Buried (2010) met Ryan Reynolds wat deurgaans in ’n doodskis toegesluit is, en Tom Hardy se martelend-treffende Locke (2013), waar die hele rolprent in dieselfde motor voltrek word.

Dit is uniek en tog so uitmergelend soos om vir ’n dag sonder water deur die Moordenaarskaroo te strompel. Maar net genadiger, want die koelteboom is ’n blinkbrein-storie, hoewel die feite soms vergesog raak.

En nou 7500 (2019), waarin ’n vliegtuig na Parys gekaap word. Die hele rolprent speel in die benouende ruimte van ’n stuurkajuit af.

Klein spesiale kameras is gebruik om in versteekte gaatjies weg te kruip wat dit nog meer angswekkend maak en uit verskeie oogpunte verfilm word. Die storie is eenvoudig treffend. Terroriste wil ’n vlug na Parys kaap, maar ’n dapper medevlieënier, die jeugdige, gesaghebbende Joseph Gordon-Levitt, veg manalleen terug. Al word jy vir 90 minute in dieselfde ruimte vasgekluister soos Wait Until Dark (1967) raak jy nooit vermoeid of verveeld nie.

Die skrywers ken elke slaggat van ’n een-stel-rolprent waar jy nie uit ’n ingeperkte ruimte kan beweeg nie en elke paar minute is daar ’n vars, katswink-slaan-wending wat die storie holderstebolder van die een hoekie van die stuurkajuit na ’n ander klits totdat jou voorkop knoppe het van die slanery. Ook die planne waarmee die vlieënier vorendag kom om sy passasiers te red en die gruwels wat buite wag, is erg!

7500 is tops in spanning en wys wat kameras alles kan doen!

Meer oor:  Leon Van Nierop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.