Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Leon van Nierop: Films in teater én op kassie tref kol

Mulan
Mulan
 ****

Met Yifei Liu en Li Gong. Regisseur: Niki Caro.

Hierdie hervertelling van ’n legende wat haar oorsprong in Chinese volksverhale het, slaan jou asem weg. Miskien daarom dat kinders onder tien nie toegelaat word nie. Dit is so skouspelagtig met titaniese gevegte (van die bes gechoreografeerde oorlogstonele in jare) dat blootstelling daaraan in fliekteaters kleintjies kan oorweldig.

Dit vertel op kleurryke wyse die storie van ’n dapper Chinese vrou met die siel van ’n kryger wat haar pa se plek inneem wanneer een man per gesin moet aanmeld vir oorlogvoering, want die opperbevelvoerder wil China teen invalle beskerm.

Eintlik is Mulan ’n legende vir volwassenes waarby tieners aanklank kan vind. En anders as in die animasiefilm, is daar nie ’n liedjie van ’n dag oud nie! Dit vertel op kleurryke wyse die storie van ’n dapper Chinese vrou met die siel van ’n kryger wat haar pa se plek inneem wanneer een man per gesin moet aanmeld vir oorlogvoering, want die opperbevelvoerder wil China teen invalle beskerm.

Niemand vermoed Mulan is ’n vrou nie, maar haar optrede spreek van dapperheid, toewyding en respek vir die gevegskuns. Ook vir gesinstradisies. Sy ontkom die dood met die hulp van ’n wonderheks, Xian Lang, wat haar onverwags konfronteer, maar ook ondersteun.

Weet asseblief: Jy móét hierdie enorme oorlogsverhaal op die groot skerm beleef, want net die choreografie maak die ervaring so kragtig dat ’n TV-skerm dit sal verdwerg. Nie sedert Crouching Tiger, Hidden Dragon (2000) is sulke ratse, brawe en briljant uitgewerkte gevegstonele verfilm nie. Dit verwar soms die oog, want dit gebeur so blitssnel (sonder spesiale effekte), dat die gehoor dit net-net kan volg. Dit vul nie net leë gate in die storie nie – die gevegte is die storie. Want hier bewys die briljante Yifei Liu as Mulan hoe daar eervol geveg moet word.

Haar voet-, liggaam- en hand­koördinasie in nabyskote, gemeng met oorweldigende oorhoofse skote van titaniese gevegte waar die kyker deel word van die aksie en deel word van die prentjie (jy hou te alle tye by), word uitmuntend vergestalt. Maar uiteindelik gaan dit oor eer, respek en die liefde vir haar familie wat Mulan voortdryf om haar opponente aan te durf.

Neem die kinders bo tien, verkyk jou aan die massiewe oorlogstonele, maar konsentreer op die persoonlike verhaal van ’n vrou wat haar tyd vooruit was en bewys: ’n Vrou is in baie gevalle ’n beter soldaat as ’n man.

In fliekteaters.

  • Beperking 10 – 12 PG V (geweld).

Stam ****

Met Gideon Lombard en Tarryn Wyngaard. Regie: Louw Venter. Op BoxOffice.

Dié uitmergelende deurbraak in hierdie Afrikaanse Neo Wave-rolprent (waar fliekmakers met min geld moet veg om ’n rolprent gemaak te kry en met nuwe, ekonomieser metodes van verfilming vorendag moet kom) slaan ’n barshou vir ons filmbedryf. Wees gewaarsku: Erge geweld, gemotiveerde gekruide taalgebruik en onthutsende realisme kan sommige kykers ontstel.

Dié uitmergelende deurbraak in hierdie Afrikaanse Neo Wave-rolprent (waar fliekmakers met min geld moet veg om ’n rolprent gemaak te kry en met nuwe, ekonomieser metodes van verfilming vorendag moet kom) slaan ’n barshou vir ons filmbedryf.

Verskeie stories vloei soos vuil water in ’n rioolsloot langs mekaar totdat dit by ’n drein ontmoet. Dit wys die verkeerde kant van Kaapstad. ’n Klomp verwoeste en mishandelde mense skop, moor, skel, vlug en baklei hul pad oop in ’n rateltaai stryd wat die Suid-Afrika van vandag vernuftig raakvat.

Kortliks handel dit oor ’n polisieman (die briljante en ongedwonge natuurlike Gideon Lombard) wat probeer om ’n onvoorspelbare, gewelddadige dag te oorleef. Hy is verlief op ’n meisie by wie hy ’n kind wil hê. Maar sy grieselrige broer se optrede gooi die dag omver, en dwing hom om die wrede demone in homself te konfronteer en nie sy goeie bedoelings prys te gee nie.

Wat werk, is die realistiese kamerawerk deur Pierre de Villiers. Waar kykers gewoond is dat karakters smetteloos-suiwer belig word om op hul beste te lyk, kan die kinematograaf skaars byhou terwyl verskeurde, gemartelde siele net probeer om een dag op ’n slag in ’n chaotiese, korrupte land te oorleef. Dis moeilik om ’n ander rolprent op te roep wat ons land so verwoestend eerlik, onbevrees en wreed opsom.

Hy neuk jou met ’n ysterpan oor die kop tot jou harspan besef wat werklik in ons land gebeur.

’n Ekonomiese draaiboek met natuurlike taalgebruik soos mense deesdae wél praat, volronde multidimensionele karakters, ’n raakvat van die grys wêreld tussen oorleef en bestaan, en briljante spel kenmerk hierdie verbluffende produksie. Alle eer aan Louw Venter wat nie probeer soetkoekies bak vir ’n televisie-verslaafde gehoor nie. Hy neuk jou met ’n ysterpan oor die kop tot jou harspan besef wat werklik in ons land gebeur.

Spel-uitblinkers sluit in Chanelle de Jager, Tarryn Wyngaard en Inge Beckman.

  • Niemand onder 18.
Meer oor:  Mulan  |  Stam  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.