Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Leon van Nierop: Maar waar is daardie hamer, ou grote?

Ragnarok 2
Ragnarok 2
. Met David Stakston en Jonas Strand Gravli. Regisseur: Mogens Hagedorn. Op Netflix. **** Beperking 13.

’n Tweede reeks?

’n Mens bejeën so ’n glinstervervolg met agterdog, want die gesag van die eerste legende kan selde nageboots of selfs verbeter word.

Maar Ragnarok se woeste vervolg is net so bekwaam soos sy voorganger, want die skrywers dring ’n storie aan ons op wat bewonderaars met hamers sal laat speel. Die storie pas logies in die eerste reeks soos ’n Rubik se kubus. Die skrywers hoef nie gespierde blitskarakters en temas, wat weinig met die oorspronklike te make het, gim toe te stuur en by te sleep nie.

In hierdie een (sonder om iets te verklap) gebeur iets onnoembaar wat die kyker nie net onthuts nie, maar onkant betrap. Dit gee aanleiding tot ’n kettingreaksie wat jou na jou afstandbeheerder laat soek wanneer ’n episode eindig sodat die volgende episode uit die Noorweegse meer kan opstaan, nes met Your Honor.

Dit gee aanleiding tot ’n kettingreaksie wat jou na jou afstandbeheerder laat soek wanneer ’n episode eindig sodat die volgende episode uit die Noorweegse meer kan opstaan.

Hoe veg Magne (Thor) teen die bose fabriekseienaars/reuse wanneer hulle hom met een priemende kyk kan omslaan? Dit is die dilemma waarmee die god met die hamer worstel. Natuurlik speel die hamer ook ’n kernrol in die reeks, want saam met Magne se verlies van kragte verdwyn die magtige wapen ook en moet hy nie net as feilbare mens ’n nuwe een soek nie, maar selfs vervaardig. Die verwaande reuse boelie Thor dan.

Die Noorse mitologie word betrek, maar gee ook dieper insig as die Chris Hemsworth-vla-oor-die-oë-dramas oor Thor, sy avonture en sy ysterkabelspiere. Hierdie reeks is mensliker, want dit gaan oor super-families, hul jaloesie en die invloed wat vrees en naywer op mekaar het.

Die briljante kinematografie, die asemrowende yslandskap, die poskaartmooie dorp met die lintwurm in sy see en die stewige karakters sorg dat al ses episodes jou met die krag van ’n boemerang-vermaaklikheidsvoorhamer tref.

Your Honor. Met Bryan Cranston en Hunter Doohan. Skepper Peter Moffat. Op Catch Up. **** Beperking 16.

Iets soos Ragnarok laat ’n mens gretig vraatkyk, al het jy nie tyd om heel naweek voor ’n TV-stel te sit nie. Maar op sy hakke volg Your Honor, ’n reeks wat jou met die gaffel op die snoet slaan.

Hoewel vergesog en met ’n storie meer ingewikkeld as jou beurtkragrooster wat daagliks verander, sluit dit jou in ’n aanhoudingsel op. Die onderliggende woede en korrupsie peper jou met elke toneel.

’n Koel en regverdige regter (staatmaker met die padkaart vir ’n gesig, die briljante Bryan Cranston) se seun ry ’n motorfietsryer dood. Sonder om verder iets te verklap, gee dit tot ’n morele dilemma aanleiding. Moet die regter-pa sy seun aan die polisie oorgee en hom opoffer soos Jakob sodat hy tronkstraf opgelê word? Of moet hy teen sy grein en morele beginsels optree en sy seun beskerm met sy kontakte?

Die reeks gooi dobbelstene met goed teen kwaad, gewete teen vrees, skok teenoor kalmte en beredeneerde optrede teenoor emosioneel oorreageer. Maar dis die domastrante optrede van die regter se seun, irriterend goed gespeel deur Hunter Doohan, wat elke poging wat sy verskeurde pa aanwend om te help in die wiele ry. Maar dan word die gestorwene se familie betrek en dit veroorsaak ’n kettingreaksie wat die res soos deeg omroer.

Dit kyk na die invloed wat ’n onbesonne daad deur ’n jong man, wat nie verder as sy oorfone geluister het nie, op verskeie families het en dat smart dikwels gepaardgaan met wraakmotiewe, selfsugtige optrede en ’n oorreaksie.

Anders as anders reekse (ek trek nou by episode 6) neem die reeks nie afdraaipaadjies om die storie op te tert nie. Geen onnodige newetemas word bygehaal nie, nog minder word die gebeure gesensasionaliseer. Dit fokus op die morele en wetlike implikasies wat die moord op die regter se lewe het en die onuitspreeklike dilemma waarin dit hom plaas. Dit fokus ook op die feit dat leuens nie verbloem kan word nie en dat gewete die sterkste aanklaer en regter is. Daardie spinnerak omklem die skuldige vlieg.

As jy dus nie vasgevries voor Catch Up wil sit nie, hierdie reeks begin ook op 12 Augustus op Showmax en sal jou laat vra wat jý in hierdie omstandighede sou gedoen het as jy ’n slagoffer se dood “kon laat verdwyn”.

Aangrypend, soos die vooruitsig van ’n Eskom wat werk.

Meer oor:  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.