Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Leon van Nierop: SA riller spog met Kim én gehalte

Reyka
. Met Kim Engelbrecht en Gerald Steyn. Regisseur: Zee Ntuli. **** Op M-Net, Sondag 25 Julie 2021. Beperking 16.

’n Ontvoerder-booswig, wat indirek vir die profieloptrekker Reyka (sy voormalige slagoffer) insigte gee oor hoe ’n reeksmoordenaar se kop werk, maak haar meer vasbeslote om ’n booswig vas te trek wat vroue in suikerrietplantasies vermoor.

Dié tema is so oud soos speurreekse self (The Prodigal Son, The Silence of the Lambs, om twee te noem). Daarom moet ’n reeks wat dieselfde land omploeg, iets vernuwend uit die sooie spit om saad te laat ontkiem en daarin slaag Reyka.

Soos met die minder suksesvolle Skemerdans vol nabootsings, gaan dit oor donkerte wat in die kinematografie weerspieël word omdat dit neig na seker ’n moeilike genre, film noir, en daarin slaag Reyka goed.

Die verrinneweerde, soms beangste Reyka het eggo’s van Mare of Easttown (met Kate Winslet op Showmax) omdat die hoofkarakter deur haar eie demone geteister en verwoes word. In dié geval is Reyka as kind deur die gruwelikheid Speelman ontvoer, en daardie letsel sit.

Soos met die minder suksesvolle Skemerdans vol nabootsings, gaan dit oor donkerte wat in die kinematografie weerspieël word omdat dit neig na seker ’n moeilike genre, film noir, en daarin slaag Reyka goed.

Hierdie resensent het slegs een episode onder oë gehad, daarom kan die ligte kritiek wat gelewer word in daaropvolgende episodes verander. Maar eers die goeie nuus. Die spel van veral Kim Engelbrecht, wat lankal so ’n stewige rol verdien het, is uitstekend, veral die wisselende emosies wat op haar gesig en in haar slim liggaamstaal weerspieël word wérk.

Goeie regie, ook wat betref die omgewing waar die suikerriet simbolies is van die magdom neurose en talle (soms vals) leidrade, kenmerk die reeks. Dis ’n slim keuse vir die plasing van die storie, want die riet sny en daar is ook slange en rotte in.

In episode 1 pla dit bietjie dat die storie soms te dig word en te veel in die tydsduur indruk. Dit verander dalk in latere episodes. Dit neem nogal ’n rukkie om aan die baie karakters gewoond te raak en hulle te onderskei.

Wat seker is, is dat ons met elke nuwe, veral Engelse reeks ’n reusetree vorentoe gee om die plaaslike bedryf te verryk. Weer word wêreldgehaltespel deur veral die deurwinterde Anna-Mart van der Merwe, asook Kenneth Nkosi en Ian Roberts (wat ’n mens regtig mis op ons skerms) gelewer. Ook die verrassende Gerald Steyn, wat ’n klein rol speel in episode 1.

Talle verrassings kleur en krabbel die gebeure en stuur storielyne in ander woeste rigtings as die gemiddelde Amerikaanse reeks met ’n soortgelyke aanslag. Ander sosiopolitieke tentakels wat aan die storie vassuig, is karakters wat ’n beter heenkome in ander lande soek, hoe die gereg oorweldig word deur talle sinlose moorde, hoe chaoties bloedig ons land is en die dapperheid van ’n karakter, in dié geval Reyka, vir wie die soektog persoonlik raak en wat elke greintjie instink en kennis in die kookpot werp om die moord(e) op te los.

Hier betrek die regisseur die kyker stewig.

Natuurlike dialoog, ’n stygende spanningslyn en die beklemming van die suikerrietplantasies verhef dit na ’n TV-reeks wat jou aandag verdien as ’n intelligente vernuwing in televisie. Dit begin Sondag 25 Julie om 20:00 op M-Net en kan jou dalk net verras.

Young Royals. Met Edvin Ryding en Omar Rudberg. Regie: Erika Calmeyer. Op Netflix. **** Beperking 16.

Aanvanklik bou kykers ’n weerstand hierteen op. Diegene wat nie “lees terwyl hulle fliek nie” sal vlug, en ander sal aanneem dis alweer ’n tienerskoolreeks oor ’n buitestander (bleeksiel) wat nie inpas nie.

Maar met sy oorsprong in Denemarke, dra dit die stempel van Nordiese Noir. Nie dat hier van film noir sprake is nie, maar die demone waarmee die held worstel en sy innerlike landskap wat omgeploeg word, word prikkelend ontgin.

Prins Wilhelm is tweede in lyn vir die koningskap van Denemarke en beland, ná ’n rebelse insident, in ’n ander privaat skool. Hy ontdek hy dat hy meer van ’n maat hou as wat hy veronderstel is, en hy bevraagteken sy seksualiteit.

Dit gaan ook oor Deense tradisies, dominansie en subtiele breinspoeling wat hierdie gesofistikeerde en verrassende reeks ’n ander pad laat loop as die gewone storie oor tieners wat hul maagdelikheid saam met hul puisies wil verloor.

Dis nie vir almal nie, maar vir kykers wat soek na iets anders.

Meer oor:  Reyka  |  Leon Van Nierop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.