Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Leon van Nierop: Verveling soos net VSA dit kan opdis

Godzilla vs. Kong
. Met Alexander Skarsgård en Rebecca Hall. Regisseur: Adam Wingard * In teaters. 10-12 Vergesel deur volwassene.

Die Empire State-gebou se klouterdief, King Kong, is in 1933 op die Skull-eiland gevind. Hy is groter as die houerskip wat die Suez­kanaal onlangs versper het en sy bors harder as joune ná ’n Cross­Fit-sessie.

Godzilla is ’n fantasmagoriese kolos-akkedis gekruis met ’n krokodil met twee pofferhandjies wat sy opponente verpulp.

Afgesaag en voorspelbaar kry nuwe betekenis. ’n Nare Amerikaanse duikboot, wat radioaktiewe stof lek, het die oerdier in 1954 uit sy Urbanol-sluimerslaap geruk, waarna hy Japanse stede platgevee en King Kong met sy blatante woede en frustrasie getroef het. Die twee is groter as waarvoor daar plek is op die skerm.

Om vir 40 minute waar te neem hoe rekenaarfoendi’s en spesiale-effekte-towenaars hierdie twee kolosse touchers laat speel is geesdodend. Iesegrimmigheid bereik ’n hoogtepunt.

Daar was meer soortgelyke gevegte tussen dié twee in fliekmartelings as wat daar slaggate in die pad duskant Dullstroom is, en die meeste se avonture is minder interessant as om Eskom se beurtkragskedule uit jou kop te leer. Eskom se verskoning oor hoekom ons beurtkrag kry, is dalk opwindender as hierdie monster-kaperjolle. Kan die desperate Hollywood regtig niks beter uitdink as hierdie flou nabootsing nie? Goggabie maak vir baba bang.

Dit gaan oor Godzilla wat vies is omdat ’n kloon van haar gemaak word en meer verwoesting as die mense saai wat jou asblikke soggens uitkeer en die vullis op sypaadjies gooi. King Kong vang graag prehistoriese monstervoëls en suig hul nekke soos murg uit, groen spaghettislym en al. Kong word daarna soos ’n reusetante Koba na ’n kerkbasaar in ’n net vervoer om Godzilla te kalmeer. Net sonder die koesisters. Dis die enigste interessante skoot in die fliek.

Om vir 40 minute waar te neem hoe rekenaarfoendi’s en spesiale-effekte-towenaars hierdie twee kolosse touchers laat speel is geesdodend. Iesegrimmigheid bereik ’n hoogtepunt.

Monster-testosteroon trek soos die sikloon Eloise oor stede en die prehistoriese oupas takel mekaar met vuiste, ’n stert, vuur (nadat jy vuursteen onder jou braaivleisvuur gepak het) en tande groter as jou kredietkaartskuld. Uitmergelend.

Kortom: Dis die verveligste, mees niksseggende papsak-fliek van die jaar, en is die eerste groot monsterfliek wat ons op die silwerdoek mag meemaak sedert Covid-19 teaters gesluit het.

Groter langdradigheid kan jy nie kry nie behalwe in jou geskiedenisonnie se klas, rottang en al, wat sy eentonige poging tot ’n klas interessant in jou probeer inneuk het.

As jy die kleinspan bo tien gou wil aflaai en The Father verkies, het jy seker nie meer selfoontentakels in jou ore nie. Anders as op volgepakte vliegtuie moet fliekgangers steeds afstand in teaters handhaaf. Hulle sal egter twee sitplekke van mekaar moet oorleun (tensy hulle gesinne is) en agter modieuse maskers kerm oor hoe vervelig die monsters maalvleis van mekaar maak.

En dink logies (moeilik in ons chaotiese land, toegegee.) Sal Hollywood regtig sy geliefde gruwelmonsters vermoor en die pad sluit vir ’n vuurspuwende vervolg? Dit sal volgende week se gewildste fliek wees. Ek hoop nie die resensie is “immer toegeeflik” nie.

Ek sal eerder ’n kolonoskopie ondergaan as om weer hierdeur te sit. Godzilla vs. Kong is die moeder van alle slymerige, radio-aktiewe rampe.

Under Suspicion: Uncovering the Wesphael Case met Bernard Wesphael en Véronique Pirotton. Skeppers: Georges Huercano en Pascal Vrebos. *** Op Netflix. Beperking 13

Die Belgiese politikus Bernard Wesphael verdink sy vrou van ontrouheid, kwaadwilligheid en onstabiliteit. Hulle gaan op ’n tweede wittebrood dat die katels knak en die donsvere waai, volgens die bure in naburige hotelkamers.

Maar toe ontspoor die liefdesneltrein. Wesphael se vrou, Véronique Pirotton, had ’n minnaar en raak, volgens hom, die kluts kwyt tydens ’n gewelddadige woordewisseling. Uitgemergel nadat hy hom glo teen haar moes beskerm, gaan slaap hy terwyl sy in die badkamer huil. Vyftig minute later ontwaak Wesphael en vind sy vrou versmoor in die badkamer. Alles dui daarop dat hy haar aangerand en vermoor het. Hy beweer dit was selfdood.

Daar was ’n plastieksak op haar gesig gedruk, maar nie oor haar kop getrek nie. Bisar.

Indien jy iemand werklik wil versmoor, sou jy nie die plastieksak oor haar kop trek nie? Dit is die raaisel. Van hier ontleed die fliekmakers die ondersoek, aantygings, skuldgevoelens en hofsaak net te noukeurig, wat dit vermoeiend maak.

Meer oor:  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.