Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Silwerskerm:
Lewe se wrede toets aan egpaar

Ordinary Love.

Met Lesley Manville en Liam Neeson.

Regisseurs: Lisa D’Sa en Glenn Leyburn. 

****

Vrydag 4 Februarie was Wêreldkankerdag, waarin mense, veral dié wat nie kanker het nie, opnuut bewus gemaak is van die gevare verbonde aan kanker, hoe dit genees kan word indien dit betyds gediagnoseer word, en selfs voorkom kan word. Waarin hierdie rolprent slaag, is sodat fliekgangers, wat net op televisiesepies of in romans van kanker hoor, die impak kan sien wat dit op mense se lewens het, en hoe dit ’n doodgewone bestaan kan verander en omvergooi.

Lesers moet verstaan dat die vier sterre die gehalte van hierdie rolprent weerspieël. Dit is nie op vermaak ingestel nie en is vry van clichés. Die resensie gaan dus verduidelik hoekom die rolprent so goed is en waarvoor lesers hulle moet gereedmaak as hulle gaan kyk. Want dit is ’n belangrike en broodnodige rolprent, maar is in ’n mineursleutel gemaak en verduidelik noukeurig wat gedurende behande­lings gebeur sonder om te tegnies te raak, in ’n preek verstrengel te raak of ’n dokumentêr te word. Daarom die vierde ster: want dit neem twee doodgewone karakters en wys op onderhoudende wyse wat met hulle gebeur en waardeur hulle gaan. Maar dit bring ook hulde aan die ongelooflike dapperheid van diegene met kanker wat daarteen veg.

Wat die rolprent nog meer merkwaardig maak, is omdat dit die alledaagse so treffend en boeiend uitbeeld. Min flieks slaag daarin, veral omdat ons reeds bederf is deur blitsvinnige redigering (Birds of Prey), oorverdowende klank (Ford v Ferrari) of buitengewone kinematografie en spesiale effekte (die uitstekende 1917). Hier word die alledaagse uit ’n ander hoek bekyk omdat doodgewone mense in uitsonderlike omstandighede beland.

’n Middeljarige paartjie, wat gelukkig getroud is, is dol op hul rustige, ongekompliseerde lewe. Om kruideniersware te koop is ’n verkwiklike uitstappie. Om langs die see te wandel is ’n manier om nie net oefening te kry nie, maar alledaagse frustrasies te verwerk. Met ander woorde, dié twee mense skyn nie opgewasse te wees vir die toets wat die lewe nou aan hulle stel nie.

Eendag vind Lesley Manville as Joan uit dat daar ’n knop in haar bors is. Die stil vrees, die hoop dat dit van verbygaande aard is of vinnig genees kan word, word duidelik en met empatie en oortuiging oorgedra.

Nuwe flieks

Vergeet my nie ***

Dié rolprent is vir mense wat hou van romantiese melodrama, skoon romanse en mooi mense wat in moeilike situasies beland.

Dit is op die waarheid gegrond. ’n Meisie wat by ’n uitgewery wil werk, ontmoet (gedurende haar blitsjaar in Londen) ’n Namibiese boer, en hulle raak verlief. Maar akkommodeer doodgewoon en ambisieus mekaar buite die glans van Londen? Lesers wat in ’n romantiese bui is en net wil ontspan, hou dalk hiervan.

Tarryn-Tanille Prinsloo se draaiboek het egter nie genoeg om die lyf nie, terwyl die hoofkarakters soms dun is, en die laaste halfuur neig om te trek. Maar vir mense wat van televisiesepies hou, gee die rolprent presies waarna hulle soek.

Queen & Slim ***

Hierdie een is ’n harde neut om te kraak. Wanneer ’n polisieman ’n man en sy meisie van die pad aftrek vir ’n onbenulligheid, skop ’n reeks gebeure af wat hulle voor die gereg laat vlug en hul verhouding toets. Die spel is uitstekend, maar dis nie vermaak nie. Dis dikwels donker, selfs gewelddadig, met onverwagse kinkels, en dis boonop stroef, maar goed.

Dan die valbyl-oomblik. Kanker word by Joan gediagnoseer. Die skok, vrees en ongeloof op die aktrise se gesig alleen is ’n bekroning werd. Verskeie emosies vlek oor haar gelaat en gooi skaduwees oor haar oë. Nie op ’n melodramatiese manier soos in hospitaalsepies of Grey’s Anatomy reeks 16 nie, maar met stil verbys­tering. Skielik trap die dood in haar spoor. Hoe ervaar sy dit?

Maar net so belangrik: Hoe hanteer haar man, ’n onderspeelde en besadigde Liam Neeson as Tom dit? Natuurlik is sy liefde sterk genoeg sodat hy haar onselfsugtig bystaan. Maar kan ’n huwelik die jaarlange behandeling teen kanker deurstaan? Dan kry die woorde: “Ek sal jou bystaan. Ons is saam hierin,” van Tom ’n nuwe betekenis, veral ná ses maande se uitmergelende behandeling, en word sy liefde op ’n gedugte wyse getoets.

Die rolprent vat geen kortpaaie nie. Dit beeld die vermoeiende proses, van die diagnose tot chemoterapie, deeglik met sorg en simpatie uit. Maar hier is geen melodramatiese musiek of biggelende trane oor ’n verrimpelde wang nie. Net ’n stille vasberadenheid. Dit verduidelik hoe kankerpasiënte mekaar bystaan en dapper ondersteun. En hoe hulle daardie lang ure voor en ná behandeling deurbring.

Die spel is buitengewoon goed. Manville en Neeson skep die indruk dat hierdie twee karakters al dekades lank getroud is, en dat ’n uitstappie na ’n boom (waar ons sien hoe die seisoene verwissel) ’n lewenspad simboliseer. Want elke keer is Joan se stappie anders. Die trefkrag in haar spel lê juis in hierdie klein dingetjies wat haar vordering, of vrees vir die onbekende, kenmerk. Empatie en begrip is hier die wagwoorde.

As jy ’n kankerpasiënt is, of iemand ken wat kanker het, kan Ordinary Love jou besiel en bemoedig. Dit wys noukeurig dat ’n mens nooit mag opgee nie. En dit gee die “alledaagse” heeltemal ’n nuwe betekenis.

  • Beperking: Niemand onder 13 as gevolg van tonele met dwelmgebruik, seks en sterk taal.
Meer oor:  Ordinary Love  |  Liam Neeson  |  Silwerskerm  |  Fliekresensie  |  Fliekvlooi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.