Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Lot van vlugtelinge in dokkie belig
’n Toneel uit die dokumentêre rolprent ‘The Last Shelter’ van Ousmane Samasse´kou.

The Last Shelter

***

Die lot van vlugtelinge kom onder die soeklig in die dokkie The Last Shelter wat op die pas afgelope dokumentêre fees Encounters as die beste Suid-Afrikaanse én Afrika-rolprent vereer is.

Belangstellendes kan dit weer aanlyn kyk as deel van die 41ste Durbanse Internasionale Rolprentfees, wat vanjaar weens die Covid-19-pandemie volledig aanlyn geskuif het en van 22 Julie tot 1 Augustus virtueel en gratis aangebied word.

The Last Shelter is deel van die Generation Africa-rolprentprogram, ’n beplande dokkiereeks van 25 rolprente wat die fokus op migrasie en ontheemding en die impak daarvan op jong Afrikane plaas. Dit is deur Steps, ’n bekroonde Kaapse vervaardigingsmaatskappy van dokumentêre rolprente, vervaardig. Steps het met 16 Afrika-lande saamgewerk om die dokkiereeks oor migrasie te maak.

Die regisseur van The Last Shelter is die Malinees Ousmane Samasse´kou en sy fliek fokus op die bedrywighede by die sogenaamde huis van migrante in die stad Gao in Samasse´kou se vaderland. Samassékou is nie ’n opdringerige rolprentmaker nie, hy wag en kyk. Hy rig sy kamera op die blou huis, ’n laaste oornagplek of skuilte vir vlugtelinge wat vandaar gewoonlik na Algerië koers kies en dan verder reis om hul heil in Europa te gaan soek.

Die regisseur van ‘The Last Shelter’is die Malinees Ousmane Samasse´kou.

Wat op almal wag, is ’n gevaarlike tog oor land waar hulle deur militêre rebellegroepe aangeval kan word, waar hulle die prooi van moderne slawehandelaars kan word of waar hulle gewoon nie hul eindbestemming veilig bereik nie. Dit is nou benewens die gebrek aan skuilte en kos en die latere seereis wat ook nog wag.

Daar is ook vlugtelinge wat terugkeer na die huis om hul volgende plan vir ’n beter toekoms te probeer beraam. Daar wag ’n matras, maaltye, ’n bietjie klere en mense wat die vlugtelinge bystaan. Dit is ’n halfweghuis, mense kom en gaan, baie van hulle het nie die nodige dokumentasie om enigsins te reis nie. Mense verwyl hul tyd deur sport op televisie te kyk of bordspeletjies te speel. Planne en die uitkoms is vir almal hier besonders vaag.

Ons ontmoet twee 16-jarige meisies wat aankom met net die klere aan hul lyf en ’n plastieksak of twee. Hulle het soos die ander vlugtelinge ’n deel van die Sahara-woestyn oorgesteek om Gao te bereik.

Die kyker hoor nie almal se stories nie, daar heers wantroue en hulle kyk weg as die kamera naby kom. Oor tyd wen die rolprentmaker egter die meisies se vertroue. Hulle praat later oor hul planne en hoekom hulle eintlik by die huis weg is.

Ons sit in as ’n weldoener verbonde aan die huis met hulle praat oor die gevare wat buite die huis wag: aanranding, verkragting, ontvoering en gedwonge prostitusie. Hy spreek hulle as “little sisters” aan.

Daar is ’n ouer vrou wat al vyf jaar by die halfweghuis skuil, haar storie bly duister. Snags sit sy alleen by flitslig omring met net haar karige besittings. Sy bid net en praat eintlik met niemand nie.

Dan vertrek die weldoener met ’n viertrekmotor vol jong mans – waarheen gaan hulle? Daar is vroeër die dag beloftes gemaak, hulp is aangebied, maar dit is nie duidelik wanneer die hulp gaan kom nie. Dit is ook gevaarlik om te veel inligting op kamera te gee.

Die mense maak op die goedheid en ondersteuning van vreemdelinge staat. Hulle is so uitgelewer.

Kykers kan moontlik uitwys dat die rolprent ’n vreemde aanslag vir ’n dokkie het – daar is so min inligting. Als is in elk geval so onseker. Mense word nie behoorlik geïdentifiseer nie en wie is vriend en wie vyand?

The Last Shelter gee wel insig en insae in die onsekerheid wat vlugtelinge daagliks beleef.

Besoek ccadiff.ukzn.ac.za vir inligting om die rolprent te kyk.

Meer oor:  Fliek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.