Mile 22
Spioenasie-aksieriller
*
Dié fliek probeer vreeslik hard om die kyker te beïndruk met ’n hoofkarakter wat geen nonsens vat nie maar tog ook menslik bly, en ’n storie met ’n kinkel in sy kabel, maar die hele affêre val plat op sy gesig vanweë oordadige geweld en irriterende klein jakkalsies.

Mark Wahlberg in ’n toneel uit Mile 22.
James Silva (Mark Wahlberg) is ’n lid van Overwatch, ’n geheime Amerikaanse taakmag. Hy is baie intelligent en vreesloos, maar sukkel met persoonlikheidsprobleme. Om hom te help met sy humeur het hy ’n geel plastiekbandjie om sy arm waarmee hy die hele fliek deur elke nou en dan homself “skiet”. Hierdie foltering word ook vir die kyker ’n foltering en jy wil met geweld daardie bandjie van sy arm afruk en weggooi.
Die aksie draai om Silva en sy span wat hulself in Indonesië bevind wanneer ’n plaaslike polisieman, Li Noor (Iko Uwais) hom aan die Amerikaanse ambassade oorgee. Hy wil landuit en belowe om hulle in ruil vir ’n eenrigtingvlug te lei na die ligging van ’n hoogs giftige stof, sesium, voordat dit in die verkeerde hande val.
Noor het sy eie irriterende gewoonte waarmee hy konstant besig is (ek is steeds nie heeltemal seker wat die doel van hierdie aksie is nie, besluit maar self).
Lang storie kort, Silva en sy span stem in om Noor te vergesel na ’n wagtende vliegtuig om hom na Amerika te bring. Die Overwatch-spanleier James Bishop (John Malkovich) en ander tegno-slimmes hou die hele proses van ver af dop en gee raad en rigting in Silva en sy span se ore. Op pad na die vliegtuig spat bloed en koeëls en spanlede byt links en regs in die stof.
Uiteindelik bereik hulle die vliegtuig, en dit is hier waar die kabel sy kinkel maak. Die einde is taamlik stomp en ek vermoed daar word dalk ’n tweede fliek beplan. Ek hoop van harte nie so nie, dié een was meer as genoeg.
Mile 22 is net vir Mark Wahlberg-aanhangers, maar ek sou aanbeveel jy moet eerder Daddy’s Home kyk as jou enigste doel is om dié akteur onder oë te kry.
Met o.a. Mark Wahlberg, John Malkovich en Lauren Cohan. Regie: Peter Berg. Tydsduur: 94 minute. Ouderdomsperk: 16GT.