Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Mda: Dís hoekom Excelsior se storie vertel moet word

Die verlede sal hom herhaal as mense dit nie konfronteer en die trauma hanteer wat dit veroorsaak het nie.

So sê die skrywer Zakes Mda, wie se boek, The Madonna of Excelsior, nou in ’n fliek verwerk word.

Mda sê hy hoop hulle sal ’n wonderlike storie maak wat getrou is aan die waarheid en regverdig teenoor almal, swart én wit, is.

Hy het uit Ohio in Amerika aan Netwerk24 gesê as medevervaardiger sou hy graag op stel wou wees wanneer dit vanaf 2 Februarie vanjaar op Excelsior verfilm word.

“Maar ek hoop om by te wees voordat die redigering plaasvind.”

Zakes Mda Foto: Charl Blignaut

Hy was in die hoërskool in Lesotho toe hy in die koerant The Friend van die ontugskandaal in Excelsior gelees het.

“Dit was niks nuuts nie. In die tyd toe die ontugwet uitgevaardig is, het hierdie soort skandale oor die platteland heen voorgekom.”

Mda sê die verskil met hierdie een was dat dit groot was en dat baie mense, onder wie leiers van die Nasionale Party, betrek is.

“Dit het soveel verleentheid vir die Nasionale Party-regering veroorsaak dat hy die saak onttrek het.”

Maar nie voordat dit baie verwoesting in die dorp veroorsaak het en van die mans hul eie lewe geneem of probeer het om dit te doen nie.

Jare later, in 2000, het Mda in sy huis in Roodepoort gesit en die storie van Excelsior onthou.

“Ek het gewonder wat van die mense van Excelsior geword het – die swart vroue, die Afrikanermans en die kinders wat uit daardie skandaal gebore is.”

Baie van die swart vroue en kinders wou met hom daaroor praat, maar nie baie van die Afrikanermans nie.

Maar die storie is belangrik, want dit is deel van ons geskiedenis, sê hy.

“Dit is deel van wat ons gemaak het wie ons vandag is.

“Ons is wie ons vandag is danksy wie ons gister was.”

Diegene wat verkies om “geheueverlies” oor die verlede te hê sal weer dieselfde foute maak.

Hy het lank reeds afgetree as emeritus-professor aan die Universiteit van Ohio en het voor Covid-19 minstens elke tweede maand na Suid-Afrika gekom om aan verskeie projekte te werk.

Dr. Maboreng Maharaswa, ’n kundige op die gebied van hoër onderwys in Bloemfontein, is die besturende direkteur van St. Francis Productions, wat die fliek vervaardig.

Ons is wie ons vandag is danksy wie ons gister was.

Volgens haar het Mda se stories haar as student meegevoer toe hy in die 1980’s vir haar klas in kreatiewe skryfkuns aan die Nasionale Universiteit van Lesotho gegee het.

“Ek het hom onlangs genader om die fliek te maak, waarvoor hy dadelik te vinde was.”

Die akteurs bestaan uit welbekendes, asook ontluikende akteurs.

The Madonna of Excelsior gaan vir haar oor meer as net politieke wroegings. Dit gaan oor die daaglikse wroegings van vroue in die algemeen.

Meer oor:  Zakes Mda
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.