Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘Meerkat maantuig’ praat nou Duits en Grieks

Terwyl die rolprent Meerkat maantuig volgende week in Duits in rolprentteaters in Duitsland uitgereik word, is dit reeds in Grieks op sommige televisiekanale in Griekeland te sien.

Die Duitse oorklanking volg op ’n prys wat die fliek in 2018 op die Schlingel-kinderrolprentfees in Chemnitz, Duitsland, gekry het.

Themba Ntuli en Anchen du Plessis in ‘Meerkat maantuig’.

“Dit is as die beste kinderfliek aangewys,” sê Hanneke Schutte, regisseur van dié fliek, wat op Riana Scheepers se jeugroman Blinde sambok gegrond is en in 2017 op die Silwerskermfees in Kampsbaai, Kaapstad, gedebuteer het.

Hanneke Schutte, regisseur van ‘Meerkat maantuig’. Foto: Sharief Jaffer

“En een van die pryse wat ons in Duitsland gewen het, was ’n oorklankingskontrak. Die fliek is kort ná die fees oorgeklank. Ons het die Duitse verspreidingsregte gekry danksy mense wat ons op die fees ontmoet het.”

Die regte is ook aan ander lande verkoop wat Duitse flieks in rolprentteaters aanbied, maar dit is nog nie daar uitgereik nie.

‘Meerkat maantuig’ word volgende week in Duits in rolprentteaters in Duitsland uitgereik.

Die Griekse vertaalregte is sowat ’n jaar gelede bekom, maar net vir sekere platforms en TV-kanale in Griekeland.

Meerkat maantuig handel oor ’n jong meisie (vertolk deur Anchen du Plessis) met die naam Gideonette de la Rey met ’n vrees oor die vloek wat op al die Gideon de la Reys in haar familie rus.

Ná haar pa se onverwagte dood gaan bly sy by haar ouma en oupa op die plaas, waar sy bevriend raak met ’n dowe seun, Bhubesi (Themba Ntuli).

Die fliek verskil ietwat van die storie in die boek, maar Schutte het Scheepers vooraf daaroor in kennis gestel. Ander spelers in die fliek sluit in Pierre van Pletzen en Rika Sennett.

“Omdat die vrese oor ’n meisie gaan wat haar vrese oorkom, vind soveel kinders daarby aanklank,” sê Schutte.

“Die fliek is in Rusland vertoon, en die kinders het gehuil. Dit maak nie saak waar in die wêreld jy is nie, as jy ’n storie met ’n universele tema het, is dit iets wat kinders aan die hart gryp. Almal is bang. Almal het ’n monster wat hulle nie in die oë kan kyk nie.

“Snaaks genoeg, toe ons in Duitsland was, het ’n klein seuntjie ’n briefie aan Anchen (wat ook die fees bygewoon het) gestuur. Hy het vir haar gesê dit was so wonderlik om jou monsters of vrese buite jou liggaam te kon sien. Sodra jy hulle in die oë kan kyk, kan jy dit eintlik oorkom. Hierdie seuntjie het aan depressie gely en dit het hom gehelp om te sien dat ander kinders ook vrese het. Dis ’n wonderlike ding as jy ’n fliek daar buite kan vertoon en weet dis betekenisvol vir mense.”

Meerkat maantuig is op verskeie buitelandse rolprentfeeste vertoon en het pryse gewen.

Meer oor:  Flieks  |  Meerkat Maantuig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.