Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Meetsnoere val nét reg vir dié Kortom-kortfliek
Hillétje Möller-Bashew en Gerben Kamper in ‘’n Dag vir ’n oomblik’. Foto: Leopold Frechow

“Hoekom nie probeer nie,” het Hillétje Möller-Bashew vir haarself gesê toe sy oor die Kortom-projek lees. Sy wou nog altyd ’n verhaal skryf, maar het nog nooit so ver gekom nie. Sy het besef die uitdaging van ’n kortfliek is die ideale geleentheid.

“ ’n Week later het ek gehoor my storie is een van die nege wat gekies is en ’n week daarna is die kortfliek verfilm en in die kan.”

Hillétje sê die projek het baie vereistes gestel. Jy mag net ’n slimfoon vir die opname gebruik, geen musiek of ander toevoegings mag agterna ingetrek word nie, die fliek mag nie langer as tien minute wees nie en die span voor en agter die kamera mag nie uit meer as ses lede bestaan nie.

’n Dag vir ’n oomblik gaan oor Frank Visser, ’n eksentrieke man wat ’n oudhedewinkeltjie bedryf. ’n Vreemde musikale karakter begelei hom en tower magiese oomblikke in ’n oënskynlik gewone dag op. Hillétje, ’n violis, vertolk die vreemde karakter en skep atmosfeer op haar ukulele.

Hillétje Möller-Bashew as die vreemde karakter en Gerben Kamper as Frank Visser in die kortrolprent ‘ ’n Dag vir ’n oomblik’. Foto: Leopold Frechow

Die meetsnoere vir die span wat vir so ’n projek nodig is, lê mildelik om haar gesaai. Die akteur Gerben Kamper, vir wie sy die verhaal geskryf het, vertolk Frank. Kamper was Hillétje se dosent en mentor toe sy drama en musiek aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) studeer het.

Hillétje se man, Zee, is ’n animasiekunstenaar wat sy eie stories skryf, regisseer en animeer. Hy was dus die regisseur. Kamper se skoonseun, Leopold Frechow, is ’n fotograaf en was in dié geval die kinematograaf. Marijda, getroud met Frechow en Kamper se dogter, is ’n aktrise en teaterbestuurder en vir die kortfliek in beheer van die klank en kos.

Die meetsnoere het selfs reggeval toe Hillétje ’n geskikte plek vir hul rolprentstel gesoek het. “Ek het elke dag verby ’n winkel gery wat ligte verkoop en gedink dis ideaal, maar die een dag wat ek gaan vra of ons daar kan verfilm, was dit gesluit. Dit was reeds inperking.”

Net daarna loop sy ’n ou vriend raak wat oudhede herwin en ’n stoor met al sy wonderlike handwerk in sy agterplaas het. “Ek kon nie vir beter gewens het nie. Dit is nou hoe Bloemfontein is – ’n bietjie beperk, veral met die Covid-19-pandemie, maar met ’n ongelooflike netwerk van vriende en op die ou end tog met alles wat jy nodig het.”

’n Verwonderde Frank (Gerben Kamper) in die kortrolprent ‘ ’n Dag vir ’n oomblik’. Foto: Leopold Frechow

Hillétje kan nie uitgepraat raak oor die kreatiwiteit wat die projek verg nie. “Jy besef dan wat alles agterna in flieks bygevoeg word. Ons moes alles in die opname inwerk – klankeffekte, die regte beligting, goeie klank, musiek, alles. Dit was ’n fantastiese ervaring en toeganklik vir enigeen.”

Begeerlike lewe

Hillétje en Zee voer ’n bestaan wat ’n mens net kan begeer.

Die storie begin toe Hillétje ná haar universiteitstudie met ’n beurs New York toe is om method acting te leer. Haar ma se suster, Tilla Henkins, wat vir die gewese Bloemfonteiner Clarabelle van Niekerk tjellolesse gegee het, sê Hillétje moet een naweek daar gaan kuier. Sy bly naby New York. So gesê, so gedaan en daar ontmoet sy haar man, Clarabelle se seun, Zee.

Hy was aan die begin van sy loopbaan en om nader aan die kern van die bedryf te wees, het hulle na Los Angeles getrek. Hillétje het twee jaar lank as straatviolis geld gemaak, “wat daar ernstig opgeneem word”.

“Jy kan Bach-partitas speel en verbygangers sal dit herken. Ek het drie keer ’n week gaan speel en goed geld gemaak. Jy moet dit net nie in Beverly Hills doen nie – daai ryk mense is vreksuinig.”

Toe Hillétje ’n oudisie as aktrise by ’n teatergeselskap slaag, het sy busking gelos en haar in eksperimentele toneelwerk uitgeleef.

Op ’n dag besef sy en Zee hulle is al agt jaar in Los Angeles en in dié tyd het hulle al hul energie in ander mense gestort. Dis tyd dat hulle na hulself omsien.

“Ons het al ons goed verkoop en ’n jaar in Viëtnam gaan woon. Ek het Engels gegee en Zee het as vryskut ’n eie animasiestorie op YouTube geskep waarvoor ek die stem-oorklanking doen.

“Ná die jaar besluit ons om Bloemfontein toe te kom en dit ’n jaar kans te gee. Omdat ons self ons inkomste is, kan ons enige plek werk. ’n Ruk gelede het ons drie maande in Bulgarye gebly en drie in Montenegro. Bulgarye is die best kept secret. Die land is esteties mooi, het vinnige internet en Bloemfontein-pryse.

“ ’n Mens hoef nie meer in groot stede te wees om ’n kreatiewe bestaan te maak nie. Ons hou van plekke wat nie duisende toeriste lok nie en is gemaklik daarmee dat ons nie weet wat die toekoms inhou nie.”

In hierdie stadium is Bloemfontein hul anker. Hillétje is omring van haar uitgebreide familie, en wat werk betref is haar talente oral in aanvraag.

Kortom

Kortom is ’n Afrikaanse kortrolprentprojek wat Netwerk24 en die KKNK aanbied om ’n inkomste vir kunstenaars in die inperkingstyd te skep. Benewens Hillétje Möller-Bashew is die ander skrywers Nico Scheepers, Philip Rademeyer, Vinette Ebrahim, Gaerin Hauptfleisch, Carla Smith, Soné Rossouw, Marelize Viljoen en Figure of 8 Dance Collective.

Die eerste fliek word op 4 Augustus op Netwerk24 uitgesaai.

Meer oor:  Kortom  |  Flieks  |  Netwerk24
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.