Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘Met’-opera in kollig by Ster-Kinekor

Operaliefhebbers wat te platsak is om self ’n draai by die gesogte Metropolitan-operahuis, oftewel Die Met, in New York te maak, hoef nie van die operahuis se beste produksies mis te loop nie.

Ster-Kinekor gaan vir die soveelste maal opnames van Die Met se betowerendste operas plaaslik op Cinema Nouveau se grootskerm uitreik.

Die rolprentverspreider se 2019-’20-operaseisoen sluit tien van Die Met se operas in, waarvan vier reeds voor die einde van die jaar in plaaslike rolprentteaters sal draai.

’n Opname van die Metropolitan-operahuis se produksie van die opera ‘Turandot’ is plaaslik van 2 November in Cinema Nouveau-teaters te sien.Foto: www.metopera.org

* Die opera-aanbieding het reeds op 2 November begin met die Italianer Giacomo Puccini se laaste opera, Turandot.

Die verhaal wentel om prinses Turandot (vertolk deur die sopraan Christine Goerke) wat drie raaisels aan voornemende huweliksmaats stel – en hulle tot die dood veroordeel as hulle ’n enkele verkeerde antwoord gee.

Dié produksie, wat die wêreldbekende aria “Nessun Dorma” insluit, is deur die legendariese regisseur Franco Zeffirelli vervaardig, wat in Junie vanjaar in die ouderdom van 96 jaar oorlede is. Die dirigent is Yannick Nézet-Séguin. Die tydsduur is 192 min.

‘Manon’ is van 16 November te sien.Foto: www.metopera.org

* Die Fransman Jules Massenet se komiese opera Manon, wat 135 jaar gelede die eerste keer uitgevoer is, is van 16 November op die fliekspyskaart.

Die opera vertel die verhaal van die 15-jarige Manon (Lisette Oropesa) wat onderweg na ’n klooster op Chevalier des Grieux (Michael Fabiano) verlief raak en saam met hom na Parys vlug. Hul liefdesbootjie vaar egter op troebel waters wanneer sy onder meer uitvind dat hy as priester georden moet word.

Fliekgangers wat vir die opera in vyf bedrywe kans sien, sal genoeg koffie moet drink om wakker te bly: Laurent Pelly se lywige produksie duur meer as vier uur! Maurizio Benini is die dirigent.

‘Madama Butterfly’ word op 30 November uitgereik.Foto: www.metopera.org

* Nog ’n Puccini-opera, dié keer die gewilde Madama Butterfly, word op 30 November uitgereik. Die produksie is vervaardig deur Anthony Minghella, die Oscar-bekroonde regisseur van The English Patient.

Die Chinese sopraan Hui He vertolk die rol van Cio-Cio-San, wat met luitenant Pinkerton (Andrea Carè) trou. Pinkerton verlaat haar egter kort ná die troue en keer eers drie jaar later terug – met sy nuwe vrou.

Die opera word wêreldwyd beskou as een van die hartseerste, veral weens die tragiese storielyn en die aria “Un bel dì vedremo”. Die dirigent is Pier Giorgio Morandi. Die tydsduur is 202 min.

Die kontratenoor Anthony Roth Costanzo vertolk die titelrol in die opera ‘Akhnaten’, wat op 14 Desember deur Ster-Kinekor uitgereik word.Foto: www.metopera.org

* Vanjaar se opera-aanbieding sluit op 14 Desember af met die opera Akhnaten, wat in 1984 deur die Amerikaner Philip Glass gekomponeer is.

Die storielyn fokus op Akhnaten (vertolk deur die kontratenoor Anthony Roth Costanzo) se stryd met ou gode om sy pa as die koning van Egipte op te volg.

Die opera word onder meer in Engels en Hebreeus gesing, met die aria “Hymn to the Sun” wat gewoonlik uitgevoer word in die taal wat die gehoor praat.

Karen Kamensek is die produksie se dirigent. Die tydsduur is 221 min.

* In 2020 word nog ses Met-operas deur Ster-Kinekor uitgereik, onder meer Alban Berg se opera Wozzeck, met die Suid-Afrikaanse sopraan Elza van den Heever in die hoofrol, op 1 Februarie.

Porgy and Bess deur George Gershwin volg op 22 Februarie, George Handel se Agrippina op 21 Maart en Richard Wagner se Der fliegende Holländer op 11 April.

Die Russiese superster Anna Netrebko is op 2 Mei in Puccini se Tosca te sien, en die opera-seisoen eindig op 6 Junie met Gaetano Donizetti se Maria Stuarda.

Kaartjies vir al die operarolprente kan op www.sterkinekor.com bespreek word.

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier met bykomende bronne: www.naxos.com, www.metopera.org

Meer oor:  Manon  |  Musiek  |  Akhnaten  |  Opera  |  Puccini  |  Massenet  |  Madama Butterfly  |  Ster-Kinekor  |  Metropolitan-Operahuis  |  Elza Van Der Heever  |  Philip Glass  |  Anna Netrebko  |  Turandot
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.