Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Silverskerm:
MIB: Ai, hoe mis mens vir Will & kie

Men in Black: International met Chris Hemsworth en Tessa Thompson.

Regisseur: F. Gary Gray. **

Om die regte monsterkloutjie by die regte alien-oor te bring, moet die geskiedenis van die reeks eers vertel word. Will Smith en Tommy Lee Jones het die twee koel vegters van die skuim van die heelal klassiek gemaak. Hulle het dit egter duidelik gemaak dat hulle nie weer beskikbaar gaan wees om in nóg ’n vervolg te speel nie. Dalk het hulle geweet daar is nie meer ’n storie oor nie en dat hierdie ruimteperd nou sy vlerke verloor het.

Het die vervaardigers maar geluister, het hierdie gimnastiek-vir-die-oë en bombardement-van-die-oorgate nie die silwerdoek gehaal nie. Want daar is soveel desperate aksie op die skerm dat jou brein vries en jou oë moeg raak. Daar is selfs in John Wick-tradisie ’n woestyn-sekwensie. Regtig! Deur hoeveel landskappe kan een rolprent swiep?

Sewe jaar het verloop sedert die derde Men in Black, gegrond op ’n vermaaklike strokie, en tipies Hollywood is besluit om ’n goeie idee en ’n vermaaklike reeks nog verder leeg te melk. Boonop het die wêreld intussen verander. Daar is toe besluit om een van die twee vegters ’n vrou te maak. Op dié manier slaan die mooie Tessa Thompson as Agent M ’n welkome slag vir vroueregte. Lekker! En me. Thompson is omtrent die enigste ligpunt in ’n andersins vergeetbare potpourri van aksie, style, lawaai, spesiale effekte en ’n minuskule storie.

Daar is ook natuurlik besluit dat daar iets vir die vroulike oog moet wees, en ’n geforseerde toneel is geskep om Chris Hems­worth tjoef-tjaf uit sy hemp te kry. Hoe minder daaroor gesê word, hoe beter. Die toneel is ’n narsistiese verleentheid.

’n Mens verstaan ook nie hoe die koel man in swart later in die ongemaklike man in pienk verander nie. (Mense wat die fliek gesien het, sal die verwysing verstaan.) Genoeg om te sê dit is alles deel van die nuwe kitsrolprent se verglansing en banale nabootsings. Daardie pieng! wat jy hoor, kom van die rolprent-mikrogolfoond af.

Tevore moes die koel ouens met die swart dasse monsters uit die buitenste ruim oorwin. Dié slag is die meeste van die goggas nogal vriendelik, op enkele uitsonderings na. Die ware monster is verraad. Iemand in die Men in Black-organisasie verklap geheime. O aarde! Wie is dit? En kan die persoon gestop word?

As jy nie ná tien minute kan identifiseer wie dit is nie, sien jy nie genoeg flieks met flou kinkels in die kabel nie!

Die vraag is egter: is dit, soos Godzilla: King of the Monsters en X-Men: Dark Phoenix maar net nog ’n ontvriesde nabootsing van die vorige drie rolprente? Die antwoord is ’n oorweldigende ja. Dit verander later in ’n jukebox van spesiale effekte, waar musiek en dansende mense gebruik word om die swart gate in die storie te vul. Want daar is nie genoeg storie om die tyd te vul nie.

Daarom dat Hemsworth se spel so vol maniërismes is. Hy gebruik die ene koel kwinkslae, ’n mooi gesig wat op allerhande maniere getrek word en ’n trek van selfbewuste wenkbroue. Hy is nie ’n karakter nie, hy is ’n nabootsing van wat ’n karakter moet wees. Dis jammer, want hy is ’n goeie akteur. Maar wanneer hy ’n klein hamertjie gryp, is die verwysings en in-grappies oor die Thor-flieks luider as ’n simbaal. Ag nee man, Chris!

Die rolprent gebruik elke cliché in ruimtewetenskapfiksie om sy gehoor te bevredig, maar val in die proses tussen twee planete deur.

Dit probeer te hard en vernietig enige rapport tussen die gehoor en die rolprent binne die eerste 20 minute.

Toegegee, as jy meer as een boks springmielies verorber en net lus is om gedurende die langnaweek jou brein in die vrieskas te sit en jou oë te laat baljaar, sal jy die manewales geniet.

Maar dit neem nie die feit weg dat die rolprent aan vervolg-uitputting ly nie (die Amerikaanse sequelitis). Dit trap die reeds diep gevormde spore van sy voorgangers só deur dat dit later in die modder verdrink.

Ai, hoe mis ’n mens nie vir Will en Tommy Lee nie!

Kinders tussen 10 en 12 moet deur ’n volwassene vergesel word oor gruwels, taal en geweld.

Nuwe flieks

A Dog’s Journey ***

Onthou: Net so dikwels as wat jy haai-foeitog-Ma! gaan prewel, net so hartseer is die hondjie se manewales. Dit is ’n baster-vervolg op A Dog’s Purpose (2017) waar ’n brakkie verskeie kere sterf en gereïnkarneer word in ’n ander hondelyfie. Brakkie Bailey probeer dan weer kontak maak met sy oorspronklike eienaars. Een boks snesies gaan nie genoeg wees nie, en veral die ou heel kleintjies sal getroos moet word, maar soos die lokprent verklap, die einde is darem nie te hartseer nie. Dit word veral vir gesinne aanbeveel.

The White Crow ****

Lus vir ’n kunsfliek tussen al die superheld-eskapades dié week? Dan sal hierdie ware verhaal oor die balletdanser Rudolf Nureyev se oorloop na die Weste jou bevredig. Die ballettonele is pragtig, want die soepel Oleg Ivenko dans Nureyev se tonele foutloos, maar sy spel neig om te getemper te wees. Daar is net een staar-in-die-niet-oomblik te veel. Die lughawe-toneel, waar die verwaande Nureyev sy finale besluit neem, is egter spannend.

Meer oor:  Tessa Thompson  |  Chris Hemsworth
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.