Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Miljoene rand nodig om ‘Toorbos’ tot by Oscars te kry

Om Toorbos, Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir vanjaar se Oscars, ’n kans te bied om die benoemingslys te haal, kos miljoene rand.

Dries Scholtz, Toorbos se vervaardiger, sê R3 miljoen is nodig om die langlys te haal en daarna is nog geld nodig om vir die lys van vyf benoemdes vir die beste internasionale fliek in aanmerking te kom.

Elani Dekker as Karoliena Kapp in die fliek Toorbos. Dié prent, gegrond op Dalene Matthee se vierde bosroman, is Suid-Afrika se inskrywing vir die 93ste Oscar-toekennings wat vanjaar in April aangebied word. Foto: Fathom Media

Scholtz sê die eerste stap is die veldtog For your consideration.

“Omdat die paneel Oscar-beoordelaars net sowat 10 uit 90 flieks hoef te kyk, moet jy jou land se inskrywing so goed moontlik bemark. Dit verg ’n uitgebreide en doelgerigte mediaveldtog in die VSA om ’n fliek op die beoordelaars se kyklys te kry,” sê hy.

“Ons koop onder meer advertensies in die tydskrifte The Hollywood Reporter, Screen International, Variety, The Wrap en ander, wat perperduur is. Daarby moet ons virtuele vertonings reël om nog geleenthede te bied vir die beoordelaars om ons fliek te kyk.”

Hulle het net tot einde Januarie tyd om genoeg geld te kry om Toorbos die beste moontlike kans te gee om die beoordelaars se aandag te trek.

Dit is maar net die eerste helfte van die proses. As Toorbos die langlys haal, is nog geld nodig om die prent vir ’n benoeming te bemark.

“Ons het al die hulp nodig wat ons van plaaslike korporatiewe of organisasieborge kan kry om ons droom te verwesenlik. Ook individue kan help, selfs al gaan kyk mense dit net in fliekteaters of deur DStv Box Office (ook beskikbaar vir nie-intekenare). Elke sent help,” sê Scholtz.

Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad, een van die private instansies wat die veldtog steun, sê Toorbos is ’n wêreldklas-kandidaat vir ’n Oscar-prys.

“Die inskrywing kan egter struikel omdat die stelsel in Hollywood dit vir ’n rolprent uit ’n land soos Suid-Afrika uitermate duur maak om die beoordelaars se oog te vang. Toorbos moet byvoorbeeld opvallend aanlyn teenwoordig wees en mense moet op sosiale media daaroor praat. Mediadekking in Hollywood is ontsettend duur,” sê Steenkamp.

“Die Afrikaanse Taalraad hoop dus weldoeners sal hierdie geleentheid aangryp om ’n slag vir die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf en Afrikaans as inheemse taal te slaan.”

Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, ook ’n ondersteuner van die veldtog, sê die rolprent is aktueel omdat dit die rol van die vrou en haar relevansie belig, al speel die verhaal byna 100 jaar gelede af.

“Die kwessie van vrouebemagtiging en -identiteit, asook ’n sentrale omgewingstema, sluit baie nou aan by vandag se tydsgees. Die fliek het ’n baie goeie kans om benoem te word indien almal hul deel doen om dit daar te kry.”

Toorbos, die vierde boek van Dalene Matthee se bosromans, is in meer as tien tale vertaal. Dit het ’n wêreldgehoor bereik wat nou ook met die fliek gepoog word.

Scholtz sê hulle het al hulp gekry van MultiChoice, een van die rolprent se uitvoerende vervaardigers, terwyl die Nasionale Rolprent- en Videostigting (NRVS) hulle ook ondersteun. Die NRVS het reeds met produk- en bemarkingsfinansiering gehelp.

Toorbos is in hierdie stadium nog in agt bioskoopteaters te sien en sal in Februarie weer op Box Office gekry kan word in opvolg op die eerste speelvak wat verstryk het.

Die verhaal gaan oor ’n jong vrou wat een van die laaste inwoners van die Knysna-bos in die 1930’s was. Karoliena Kapp voer ’n innerlike stryd tussen haar liefde vir die bos en die man wat sy liefhet.

Wanneer sy teen haar sin met ’n dorpsman trou, word sy bewus van vooruitgang, maar ook onderdrukking in die gemeenskap. Te midde van die uitdagings moet sy ’n manier vind om getrou te bly aan wie sy is.

Elani Dekker en Stiaan Smith is in die hoofrolle en René van Rooyen is die regisseur. Sy sê die fliekproses het meer as agt jaar geduur, maar elke oomblik was vir haar ’n liefdestaak.

Van Rooyen is die derde Suid-Afrikaanse vrou wat Suid-Afrika op die Oscar-langlys verteenwoordig. Sy volg in die spore van Katinka Heyns vir Paljas in 1997 en Jann Turner vir White Wedding in 2009.

Suid-Afrika skryf sedert 1989 rolprente vir die Oscars se kategorie vir beste internasionale rolprent in. In 2005 was Darrell Roodt se Yesterday een van die vyf benoemdes en in 2006 het Tsotsi deur Gavin Hood die Oscar as beste internasionale rolprent ontvang.

Enigeen wat geld wil skenk sodat Toorbos die beste moontlike kans het om ’n Oscar in te palm, kan Dries Scholtz by dries@thefilmfactory.co.za kontak.

Meer oor:  Oscars  |  Flieks  |  Toorbos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.