Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Misdaad-noir met stewige skep ironie

Baby Driver

Aksie/musiek/misdaad

****

Baby (Ansel Elgort) ken sy musiek, het ’n geldige rybewys en maak amok in Baby Driver.

As jy van vinnige motors, mooi maar gevaarlike mense en pol­sende musiek hou, is hierdie jou doepa. Die klankbaan is soos smeulende asem wat teen jou ore hyg, onrusbarend soms.

Baby Driver is misdaad-noir, met ’n eetlepel ironie, ’n teelepel draakstekery, stewige en eweredige toneelspel, asook vlymskerp redigering en regie.

Die ligging? Die metaforiese klipharde, wye en uitgestrekte Amerikaanse metropolis Atlanta, die dramatis personae ’n bonte sameraapsel van patologiese buitestanders en skobbejakke.

Dan is daar Baby (Ansel Elgort), met sy weerlose jongkêrel- gesig wat lyk asof hy op die skoolbanke moet sit as om met hierdie spul geharde wildewragtigs uit te hang. Sy kamerade is diewe wat in ’n japtrap kan toeslaan, steel en dan wegjaag.

Hy is die bestuurder en hy ken sy storie. As hulle in sy motor spring, is dit voet in die hoek, deur agterstrate, verkeersligte, oor sypaadjies, gewere wat skiet en rondomtalietonele met skreeuende bande wat jou bedwelmd gaan laat voel. Dit is pure bobaasjaer-ballet.

Elgort is in die werklike lewe ook ’n bekende platejoggie, onder die naam Ansølo.

Sy koelkomkommer-sonbril word amper nooit afgehaal nie, ook nie sy oorfone nie. Hy het die eksentrieke gewoonte om in die geheim gesprekke op te neem en dan musiek daarvan te maak.

Die hoof van dié bende is Doc, vertolk deur Kevin Spacey, wat met ’n onheilspellende glimlag op sy bakkies vir jou laat verstaan hý is baas van die plaas.

Jamie Foxx as Bats laat jou liggies bewe op plekke wat jy nie eens geweet het bestaan nie.

Daar is ook ’n tipiese rooi neon­lig Amerikaanse diner met ’n jong vrou, ene Debora, wat al van ver af na moeilikheid lyk. Sy en Baby wil graag meer as net kletspraatjies maak en met melkskommels rinkink.

Dié karakter word briljant deur Lily James vertolk. Sy is stout, snaaks, provokatief.

Wanneer sy sê sy sou graag die langpad na nêrens wou vat, in ’n motor wat sy nie kan bekostig nie, en met planne wat nie bestaan nie, weet jy sy en hy hoort saam. “Net ek, my musiek en die onbekende pad,” sê sy.

“Ja, ek sal daarvan hou,” antwoord hy.

Dit is dan wanneer jy weet: Hiér kom dikkedensie!

Met o.a. Ansel Elgort en Lily ­James. Regie: Edgar Wright. 112 minute. Ouderdomsperk: 16TG

Meer oor:  Baby Driver  |  Resensies  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.