Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Mooier ‘Colette’ getrou aan skrywende vrou wat stem kry

In die rolprent oor die lewe van die Franse skrywer Colette word ’n fyn analise gemaak van vrouwees en hoe vroue se werk gekaap kon word deur mans. Joan Hambidge ken vier sterre aan die rolprent toe.

Keira Knightly as Colette.

Die Franse skrywer Colette se lewe in haar jonger jare word in hierdie rolprent ondersoek. Sidonie-Gabrielle Colette (1873 – 1954) begin haar skrywersloopbaan as ’n jong vrou wat gemanipuleer word deur haar man, ’n regte libertyn, ene Henry Gauthier-Villars wat haar werk onder die pennaam Willie publiseer.

Hy neem haar weg van die Boergondiese platteland na ’n eksotiese bestaan in Parys waar sy haar lesbiese identiteit ontdek. Aanvanklik orkestreer en beheer hy haar lewe nes haar skrywersloopbaan. Sy word toegesluit om elke dag te skryf sodat sy uitspattige bestaan gefinansier kan word deur háár kreatiwiteit. Uiteindelik wanneer hulle skei, kan sy bewys dat die werk hare was. Hy verkoop onder meer die kopiereg sonder haar toestemming.

Die rolprent ondersoek veral haar verhouding met die openlik lesbiese Missy (Mathilde de Morny) wat mansklere dra en in die pantomime Rêve d’Égypte veroorsaak hul soen ’n ligte skandaal. Dit het tot gevolg dat hulle nie meer kan saambly nie.

Denise Gough vertolk die rol van Missy teen haar skoonheid in. Keira Knightley transformeer van ’n meisie met vlegsels tot ’n uitgesproke feminis, en meer nog, ’n woman-identified-woman. Soos sy eienaarskap verkry in haar verhouding met haar man (uitstekend vertolk deur Dominic West), haar ouer eggenoot wat haar telkens belieg en verhoudings het met ander vroue, word Colette al hoe mooier. In ’n stadium het haar man selfs met een van haar minnaresse ’n verhouding en die verraad loop uit op ’n roman. En weer eens: ’n skandaal.

Wash Westmoreland se fliek is besonder vernuftig. Dit karteer die eeuewending en hoe die sedes en gebruike verander het. Besonder veelseggend is hoe die regisseur uiteindelik die gegewe romantiseer. Die beeldskone Knightley – ’n mens kan die fliek gewoon net geniet vir haar danstonele – is aantrekliker as wat Colette was. Ons sien dit in die slot wanneer daar ’n kort geskiedkundige verslag gegee word met foto’s van hoe die karakters werklik gelyk het. ’n Endnoot as regstellende aksie, kan ’n mens argumenteer.

Die rolprent werk omdat die spelers nie probeer om ’n faux-Franse aksent aan te plak nie. Hulle praat in hul oorspronklike aksente.

Daar word dus ’n fyn analise gemaak van vrouwees en hoe vroue se werk deur mans gekaap kon word. In hierdie tyd moes vroue dikwels onder manlike pseudonieme publiseer – of verkieslik die swye bewaar.

Die fliek gee nie die volledige prentjie van ’n komplekse lewe weer nie. Dit ekstraheer belangrike aspekte van haar jonger lewe. Colette publiseer in 1944 Gigi, die verhaal van die 16-jarige Gilberte, ’n courtisane wat vele rolprente en opvoerings ontlok het.

Katherine Anne Porter en Truman Capote was bekoor deur Colette. Capote het ’n verhaal oor haar geskryf. In Frankryk was daar egter tydgenote soos André Gide en Marcel Proust wat tereg groter as sy beskou was.

Haar werk, soos hierdie biografiese drama uitwys, fokus egter op die skrywende vrou wat stemhebbend raak. ’n Mens sien hoe daar met die hand en ’n vulpen geskryf is: stadig in die inkpot gedoop. Die Franse feminis Hélène Cixous se White Ink word so geaktiveer: vroue wat onsigbaar is, maar deur skryf ’n identiteit vind.

Juis omdat dit met die hand geskryf het, kon daar uiteindelik bewys word dat dit Colette se werk was en nie haar mentor s’n nie.

Regisseur: Wash Westmoreland. Met onder andere Knightley, West, Eleanor Tomlinson, Gough en Aiysha Hart in die rolverdeling. Tydsduur: 1 uur 52 minute. Ouderdomsperk: 18 TNS.

Meer oor:  Colette  |  Joan Hambidge  |  Keira Knightley  |  Flieks  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.