Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘My Octopus Teacher’ se komponis wen groot prys

Die laaste ding wat Kevin Smuts met sy musiek vir My Octopus Teacher verwag het, is om saam met die wêreld se bekendste fliekkomponiste vir ’n internasionale prys benoem te word. Dat hy hulle uitgestof het, voel vir hom steeds onwerklik.

Die Kapenaar Kevin Smuts het hoog aangeskrewe internasionale komponiste uitgestof toe hy ’n internasionale prys vir die beste klankbaan vir ‘My Octopus Teacher’ gewen het.
Die Kapenaar Kevin Smuts het die klankbaan vir ‘My Octopus Teacher’ geskryf.

Dié goeie nuus het Smuts vandeesweek van die International Documentary Association (IDA) in die VSA verneem.

Geld is nie deel van die prys nie, Smuts kry net ’n trofee, maar wie gee om as jy Steven Price en Daniel Pemberton op hul neus kon laat kyk? Price het musiek vir niks minder nie as David Attenborough: Life on our Planet gekomponeer en die Britse Pemberton musiek vir Rising Phoenix.

Die ander twee benoemdes is ook van die VSA, David Mitcham vir Dancing with the Birds en Chapavich Temnitikul vir Hope Frozen: A Quest to Live Twice.

Smuts sê komponiste soos die bogenoemdes ontvang groot begrotings om mee te werk terwyl hy met aansienlik minder oor die weg moes kom. Dit maak sy prys nog meer uitsonderlik, waaroor hy net sy kop kan skud.

Dié Kapenaar, wat musiek aan die Universiteit van Kaapstad se Musiekkollege studeer het, werk al verskeie jare saam met die rolprentvervaardiger Craig Foster, wie se fassinerende verhouding met ’n seekat in die dokumentêr My Octopus Teacher uitgebeeld word en al wat fliekganger is, aan die praat gehad het.

Octopus is nie jou gewone natuurverhaal nie. Dit gaan oor die besonderse band tussen ’n mens en ’n dier en is in wese ’n liefdesverhaal – en dit is wat ek met my musiek moes verklank,” sê Smuts.

“Craig het my genooi om saam met hom te gaan duik, maar die koue water is nie vir my nie. Dit was ook nie nodig om die kelpwoude in die Atlantiese Oseaan self te besoek nie, ek kon dit op die skerm sien – dit was absoluut asemrowend en dit is werklik nie moeilik om daardeur geïnspireer te word nie. Ek glo bittermin Suid-Afrikaners weet van die wonderwêreld onder die see.”

Smuts kon met erns die musiek begin skep toe Netflix My Octopus Teacher aanskaf en geld dus beskikbaar geword het, maar teen daardie tyd het hy net vier maande gehad om die werk te voltooi.

“Ek het so hard gewerk en soveel ure voor die rekenaar deurgebring dat ek hartkloppings gekry het en dokter toe is. Gelukkig het dit verdwyn toe die projek afgehandel is.”

Sowat 90% van die klankbaan bestaan uit musiek deur klavier en strykinstrumente wat Smuts op die rekenaar gegenereer het. Hy het ook ’n kort tjellostuk geskryf wat Barbara Kennedy uitvoer en aan die begin en einde van die dokkie kan ’n mens Matthew Dennis se sang hoor.

“Die idee was nie om wysies te komponeer nie. Dit gaan oor ’n klankwêreld wat ’n sekere gevoel weergee.”

Smuts se loopbaan het op ’n opwindende noot begin toe hy in 2010, die jaar dat hy gegradueer het, die Prix de la Meilleure Adaptation Musicale-prys op die 37ste jaarlikse Wêreldfees vir onderwaterfoto’s in Marseille, Frankryk, gewen het. Die musiek was vir die dokkie Into the Dragon’s Lair wat ook deur Foster vervaardig is en oor krokodille in die Okavango-delta gaan.

Smuts sê om in Suid-Afrika ’n lewe van uitsluitlik komposisie te maak, moet jy musiek vir TV-flieks skep en klingels vir advertensies, veral TV-advertensies. Sy portefeulje sluit musiek in vir onder meer FNB-, Nedbank- en Takealot-advertensies wat hy doen om die pot aan die kook te hou.

Maar sy hart lê in natuurdokkies. Hy het deur die jare ’n wye kennis oor die natuur en wild opgedoen en ’n besondere liefde daarvoor ontwikkel.

“Ek glo ek skryf my beste musiek vir dié soort dokumentêre rolprente en flieks, veral as dit oor die interaksie tussen mens en dier gaan.”

Smuts het op skool reeds in komposisie belang gestel en smiddae in sy slaapkamer musiek geskryf. Op universiteit het hy by Grant McLachlan, ’n bekende in die bedryf, skaduwerk gedoen en deur hom die regte mense ontmoet wat deure vir hom oopgemaak het. Hy sê egter hy het ook baie hard gewerk om die nodige toerusting te kon aanskaf.

Hoeveel ’n internasionale prys soos dié van die IDA baie werd is, het Smuts kort ná die aankondiging nog iets uitgevind wat hy kan vier. Hy het ’n oproep uit Amerika gekry om musiek vir ’n dokumentêre rolprent te komponeer. Die beste hiervan is dat hy in dollar betaal word, wat al die harde werk tot nou deur en deur die moeite werd maak.

  • Benewens die prys vir die beste musiek het die IDA ook die Pare Lorentz-prys aan My Octopus Teacher toegeken. Dié prys is vir ’n dokumentêr wat voldoen aan “die hoogste produksiewaardes en kunstenaarskap in regie, teks, komposisie, kamerawerk, redigering en navorsing”. Pippa Ehrlich en James Reed is die regisseurs en Craig Foster die vervaardiger.
Meer oor:  Craig Foster  |  Takealot  |  Nedbank  |  Fnb  |  Netflix  |  Dokumentêr  |  Flieks  |  Fliek  |  My Octopus Teacher
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.