Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Silwerskerm:
’n Donker reis na die hart van waansin

Jokermet Joaquin Phoenix.

Regisseur: Todd Phillips. 

*****

Vyf sterre vir hierdie veelbesproke en opswepende rolprent waaroor in banieropskrifte gedebatteer word omdat dit mense vermoedelik kan aanhits tot nabootsingsgeweld?

Feit is: Dit is ’n suiwer en meesterlike rolprent-kragtoer wat die gereedskap van film eerstehands aanwend soos selde tevore. Dit kan jou egter onthuts, aantas en destabiliseer. Deesdae word alles mos voor groen skerms vervaardig, of met spesiale effekte opgetert (Marvel Universe, Disney), sodat rolprentfoendies smag na film in sy suiwerste vorm. Dit is so ’n produk, maar wees gewaarsku: Die ambivalente en gruwelike reis na die hart van waansin en chaos kan onthuts.

Selde indien ooit vantevore het ’n geniale akteur so diep tot in die hart van weersin, haat, gruwels en morbiditeit afgetuimel. Joker is Munch se Skreeu-skildery wat vir twee uur beweeg. Die hoofkarakter is ’n skroewedraaier van ’n grieselgees wat sy seningrige lyf in allerlei kontorsies wriemel en die skroewe in jou kop een vir een losdraai. Dit is ’n hellevaart na die onderbewuste. ’n Ode aan die weggooisiele van die gemeenskap wat misken word en nou ’n stem kry, maar pynlik wraak neem. Wat chaos en trauma omhels en as wapens in ’n woeste oorlog gebruik.

Joker gaan oor ’n onkruidblommetjie wat uit ’n skeur groei in ’n baksteenmuur. Nou kry die flenterblaartjies kans om soos ’n venusvlieëvanger oop te vou en die gruwels om hom te verorber. Maar daardie haat verander in ’n makabere dans van die dood wanneer die blomblare oopgaan en die chaos opgooi.

Arthur Fleck ly aan ’n siekte wat hom soos ’n weerwolf onbeheers aan die lag laat gaan. Lemmetjies kerf die lag uit sy keel. Hy word deur die gemeenskap verwerp en in ’n agterkamertjie saam met sy waansinnige ma (Frances Conroy) opgesluit, weg van “normaliteit”. Maar wanneer hy ’n komediant (Robert de Niro) raaksien wat blootstelling aan sy “talent” kan verleen, poog hy om op sy televisieprogram te beland om op die ontvanklike mensdom wraak te neem. Die oordeelsdag het aangebreek.

Dit is ’n banale meesterstuk wat volkome rolprent is.

Todd Phillips se film is ’n aanval op kapitalistiese verwaandheid wat uitgeworpenes onderdruk vir eie gewin. Maar ’n wanskapige nar raak oorversadig. Soos ’n wafferse Travis Bickle uit Taxi Driver wil hy die strate suiwer van narsistiese politici, zoem hy soos ’n besete tor rond – eintlik Rupert Pupkin uit The King of Comedy, om bekendes rondom hulle te gebruik om sy boodskap te verkondig. Hy voer galgehumor tot ekstreme uiterstes.

Nuwe flieks

Late Night ***

Emma Thompson as ’n venynige laataand-kletsprogramgasvrou is soos Liewe Heksie op steroïede. Haar tong is skerper as ’n laser. Met katterige genoegdoening gooi sy kwinkslae soos diskusse rond, maar maak haar rug regop as iemand haar beledig. Tot sy gedwing word om ’n vrou deel van haar skrywerspan te maak. Twee bekkige ystervroue bots. Die genot lê daarin om die poeierkwasoorlog te beskou en te luister hoe Thompson maalvleis van haar dialoog maak. Die teks is egter net te bestudeerd en noukeurig uitgedink om natuurlik te wees.

Abominable ***

Flikflooierig, gerig op kleuters, veilig, oordadig, raserig en met albasterogies wat kleurvol uitpeul. Dis die enigste manier om hierdie gemiddelde animasie te beskryf wat nie tegnologies so gevorderd as Disney se ooglekkergoed is nie!

’n Jeti word ontdek. Maar sal geldwolwe die rare kreatuur misbruik? Of toelaat dat sy vriendskap met ’n grootoog-meisie floreer? Uitbundig, lawaaierig en hartlik. Potsierlike vermaak vir ’n leë Saterdag­oggend met springmielies.

Joaquin Phoenix lewer ’n monumentale vertolking as die astrante Joker – ’n nar met ’n bloedige gevreet wat vir die wêreld grynslag en gille in giggels omskep. Wat oopbek predik dat sy lewe dalk niks beteken het nie, maar dat sy dood daarvoor sal vergoed. Sy grimering drup in die proses swart trane vol suur oor sy wange. Alhoewel Joker sy oorsprong in die DC-strokieskultuur het, het dié besete noir-rolprent min te doen met superheld-flieks. As jy net nog ’n Batman of Avengers soek, is jy in die verkeerde teater. Dit is ’n diaboliese ondersoek na die diepste wilsand-hoekies van die siel. Dit tokkel ’n wanskapige psalm uit die fliekganger se psige.

Phoenix het 24 kg vir die rol verloor. Dit lyk of sy skedel en ruggraat deur sy vel gaan bars. Dit sluit aan by die benerige frustrasie wat sy siel besmet. Hy klim daagliks 100 trappe na die buitewêreld, vermaak siek kinders in hospitale met ’n siel wat self siek is, terwyl sy minagting saam met sy grimering insmelt. Die mombakkies en die goeie man wat mal word, word een.

Donkerder en vreesaanjaender kry jy nie. Wees gewaarsku dat eksplisiete geestelike geweld jou kan teister. Dis ’n donker ode aan ’n stad en korrupte wêreld wat moreel bankrot is en waarvoor daar net een uitkoms is: onbeteuelde anargie. Gevaarlik? Beslis. Vermaaklik? Nee. Maar hierdie skokstok sal jou ten minste tot besinning ruk.

Sliertige agterstrate wat soos snelweë na die hel lyk, gotiese vullis, kotsgroen kleure en neurotiese eensaamheid kenmerk ’n kragtige en opsienbarende film wat geen fliekganger onaangeraak kan laat nie. Dit is ’n banale meesterstuk wat volkome rolprent is.

Dié man se moermeter bloei.

  • Niemand onder 16 weens ekstreme geweld, taalgebruik en dwelms.
Meer oor:  Joker  |  Joaquin Phoenix  |  Todd Phillips  |  Fliekresensie  |  Fliek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.