Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
’n Nuwe ‘Fiela se kind’ vir ons tyd
Zenobia Kloppers vertolk die hoofrol in Fiela se kind.

Dit was die liefdesverhaal tussen ’n ma en seun wat hy wou vertel. Sy verwerking van Dalene Matthee se geliefde roman Fiela se kind is sy huldiging aan sy eie ma, “ ’n klein Libanese vroutjie met die naam Cynthia Innes”; sy het dieselfde vuur van Fiela en sal berge vir haar kinders versit. Dit is op haar skouers waarop hy vandag staan.

So praat Brett Michael Innes, die skrywer en regisseur van die nuwe Afrikaanse weergawe van Fiela se kind. Die prent, met Zenobia Kloppers in die hoofrol, open vanaand die 9de Silwerskermfees in Kampsbaai.

Die verhaal van die bruin Fiela Komoetie wat in die apartheidsjare veg om haar hanskind, Benjamin, te hou, het hom reeds op hoërskool diep ontroer.

“Toe die boek en later die rolprent uitgekom het, is die idee uitgedaag dat liefde en die moederlike band oor rasgrense bestaan. Vir die tyd was dit ’n uitdagende standpunt, en alle eer aan Dalene en Katinka Heyns om dit só vreesloos te maak.

“As ’n nasie het ons nou verder beweeg. Die mite van die Reënboognasie is nou soos Kersvader en die Paashaas, dit word bevraagteken. Weer is dit Fiela wat vir ons wys hoe ons regtig lyk. Deur haar oë beleef ons die Komoetie-gesin soos hulle toekyk hoe naarstigtelik hul ma na Benjamin soek. Ons kan nie identiteitspolitiek werklik rasioneel verstaan nie. Konsepte soos liefde, identiteit, land en ras: Fiela wys ons hoe verskillend en anders ons dit werklik ervaar.”

Die verhaal van Elias en die grootvoete het minder aandag in sy prent gekry.

Brett Michael Innes, die regisseur van Fiela se kind.

Fiela volg op Innes se bekroonde debuutprent, Sink, wat gehore aangegryp het reeds met die première op die Silwerskermfees. Daarna het dit lof en pryse ingesamel. In ’n sin het hy met Sink (as regisseur en draaiboekskrywer) vir homself ’n hoë standaard neergelê.

“Dit het my selfvertroue gegee, my eersgeborene was ’n sukses. Die eerste vra baie van jou, die tweede word uit meer selfvertroue gebore. Ek het baie meer kreatief gewaag met Fiela as met Sink.

Kloppers was ’n natuurlike keuse om die besondere hart en siel van Fiela na die silwerdoek te bring, ’n rol wat deur die aktrise Shaleen Surtie-Richards verewig is.

“Hoewel sy nie rolprentwerk gedoen het nie en eintlik bekender is vir haar verhoogwerk, het haar oudisie net daardie magic gehad.”

Hy is ook die draaiboekskrywer van Racheltjie de Beer wat Vrydagaand op die fees wys. Met die prent het hy ’n lang pad gestap – finansiering daarvoor het platgeval net voor hy in produksie daarmee sou gaan. “Toe het Sink en Fiela gebeur, ek was gereed om dit aan ’n ander regisseur te gee; Matthys Boshoff het ’n beeldskone film gemaak, ek het die voorreg gehad om dit te sien.”

Hy inspireer homself deur die rolprente van sy tydgenote te kyk, en “om nie te dink dat ek nou gearriveer het nie”.

“Dit is onaantreklik om die stem van die rolprentmaker te hoor bo die verhaal, ek vertrou dat ek my eie werk van my eie ego sal kan beskerm in die toekoms.”

Verwikkelde temas spoor hom aan. Sy volgende prent handel oor die Westdene-bustragedie van 1985 waarin 42 kinders van die Hoërskool Vorentoe gesterf het. Meer as 3 000 mense het hulle na die ongelukstoneel gehaas.

“Ek werk saam met die vervaardigers van Ellen Pakkies. Ek het die draaiboek geskryf en is ook die regisseur daarvan.

“Ek word seker maar aangetrek deur donker, swaar temas.”

Hoewel ons bedryf en plaaslike rolprentmakers met selfvertroue kan skouers skuur met die wêreldbedryf, rem gebrekkige gehoorondersteuning en geografiese isolasie van die wêreldbedryf die plaaslike toneel.

“Die Suid-Afrikaanse mark is klein. Dit beteken dat dit moeilik is om die geld wat bestee is aan die prent terug te verdien. Dit is ook moeiliker om te waag met prente; ek vind dat ons veilig speel deur by veiliger genres en verhaallyne te bly. Daarom is die sukses van ’n moeilike prent soos Ellen Pakkies so bemoedigend – mense het kaartjies gekoop daarvoor. Nog ’n moeilike besef is dat die hoofstroom-wêreldbedryf nie werklik omgee vir prente in ander tale of flieks met byskrifte nie.

“Hulle gee nog minder om vir prente met Afrika-inhoud, ondanks die taal, ras of kultuur wat uitgebeeld word. Hulle wil The Rock sien wat na Afrika toe kom en Amerikaanse Engels praat, nie Fiela Komoetie van die Langkloof wat Afrikaans praat nie.

“Dit is ’n bitter pil om te sluk, maar belangrik om in ag te neem as ons prente maak.”

Fiela se kind open op 13 September in rolprentteaters landwyd.

Die 9de kykNET-Silwerskermfees word van 21 tot 24 Augustus in The Bay Hotel in Kampsbaai aangebied.

  • ’n Spesiale voorvertoning van Fiela se kind word op 22 Augustus in die Labia-teater in Kaapstad aangebied. Kaartjies is slegs by die Labia beskikbaar. Navrae: 021 4245927.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.