Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
’n Orgie van mooi, aanloklike geweld...

John Wick: Chapter 3: Parabellum met Keanu Reeves en Halle Berry.

Regisseur: Chad Stahelski ***

Hier moet ’n resensent fyn trap tussen die bloedige pietersielie, want waag jy om hierdie wewenaar te kritiseer, pak sy bewonderaars jou met venyn. Daar is boonop sprake dat hy sy eie reeks (franchise) gaan kry, dus loop Wick op heilige bloeddeurdrenkte grond.

Dit het alles met ’n brak, Daisy, begin toe geweldenaars die “vreedsame” kluisenaar se hond doodgemaak het. Hy het wraak gesweer.

Wick het intussen darem ’n nuwe hond gekry, en daardie brak het ander viervoetige vriende gemaak wat deur die beeldskone Sofia (Halle Berry) afgerig word. Maar die dierasie oorleef terwyl honderde mense videospeletjiestyl afgemaai word.

Meer mense sterf hier as in vele onlangse burgeroorloë.

Dié slag tel die rolprent ’n uur op nadat hoofstuk 2 geëindig het met ’n losprys van $14 miljoen (ongeveer R196 miljoen) op Wick se kop. Hierdie strak anti-held se dood kan iemand baie ryk maak!

Voeg daarby Sofia, wat ook bygesleep word, en ’n sexy a-seksuele spinnekop van ’n geweldenaar (Asia Kate Dillon) en die tafel word gedek vir grusame geweldspeletjies waarin die kollig ook op vroue val.

En moenie van Anjelica Huston as ’n klipgesig-balletomaan vergeet nie. Swanemeer verander in ’n Moordmeer-ballet as hierdie rolprent eers vlamvat.

Die regisseur was tevore Reeves se waaghals-dubbel in die Matrix-reeks, en het al verbysterende waaghalstoertjies uitgevoer. Daarom is hy sedert hoofstuk 1 die regisseur, vandaar die asemrowende gevaarlike motorfiets- en perdetonele. Net die choreografie en gevegstonele sorg vir die derde ster in hierdie resensie.

Die ergste is: Reeves haal nie eens sy das af wanneer hy mense doodskiet nie. Hy verwissel darem van ’n wit hemp in ’n swarte, met sy olierige hare wat ’n gordyn om sy gesig vorm.

Sien is glo, en wanneer Reeves verduidelik hoe hy tydens die verfilming op sy perd vasgegespe was, waarvan daar in die rolprent natuurlik nie ’n teken is nie, besef jy hoe goed die spesiale effekte-towenaars (CGI) is.

Hulle is eintlik die sterre waaraan Reeves bloot ’n gesig gee.

Die morele probleem wat ’n resensent het – en sy bewonderaars skel jou uit dat jy nie die reeks “verstaan nie” – is omdat geweld so pragtig, koel en byderwets uitgebeeld word. Die agtergrond – ’n neo-noir New York met bloedige neonligte – verfraai die bloed. En moenie die noukeurig beligte sale vergeet waarin die doodsballette voltrek word nie! Doodskiste word met riffelpapier uitgevoer.

Van skerms waarop lawa in psigedeliese wolke ineensmelt, tot noukeurige beligting en gevegsarenas waar liggame grasieus deur die lug trek, is die rolprent gevaarlik aantreklik en selfs betowerend. Geweld in al sy vorms het selde so aanloklik gelyk.

En dan is daar die vreemde tonele wat in die Sahara-woestyn afspeel. Reeves het erken hy het ’n gier gekry om ’n toneel in die Sahara te gaan skiet met hom in sy pak klere, en Halle Berry by hom, en twee honde teen die duine. Dit is in die draaiboek ingewerk.

Soos in vele ander aksiedramas moet ’n mens jou logika afskakel. Jy kan net in verwondering staar na wat rolprente deesdae so oortuigend kan regkry.

Die ergste is: Reeves haal nie eens sy das af wanneer hy mense doodskiet nie. Hy verwissel darem van ’n wit hemp in ’n swarte, met sy olierige hare wat ’n gordyn om sy gesig vorm.

Hy neem hiermee die plek in van Dirty Harry, maar met ’n hond, en Die Man Sonder Naam, maar sonder die cowboyhoed. Hy benodig nie rede om dood te skiet nie. Sy lisensie is die kamera en sy motivering sy gehoor se verwagtings.

Dit is dus nie die soort rolprent waar jy logiese vrae vra, motiverings bevraagteken of kapsie maak teen die verglansing van geweld nie. Die geweldorgie maak geld soos bossies en die styl waarin dit verfilm is, is die videospeletjie-superster. Dis bloedige kougom vir die oë. Hoe groter die skerm waarop mense doodgeskiet word, hoe “vermaakliker”.

Daarom: As jy teen geweld bestand is en daagliks dosyne videospeletjies kafdraf, sal die derde hoofstuk nog meer intens en kleurvol vermaaklik as die voriges wees. Maar as jou geweld­pyngrens laag is, kan jy dalk geskok wees oor die getal sterwendes wat ineenstort en wat ook vir die hoë ouderdomsperk verantwoordelik is. ’n Troos: Hier is darem nie drake nie!

As Reeves tog net sy pak klere en das wil laat droogskoonmaak!

  • Niemand onder 18 as gevolg van erge geweld en taalgebruik.
Nuwe flieks

Pokémon Detective Pikachu ***

’n Kombinasie van lewende aksie en animasie. ’n Ernstige seun se speurder-pa sterf. Hy ontdek ’n slim Pokémon-kreatuurtjie, speurder Pikachu, wat boonop kan praat, en hy vra die wol-dingetjie met rooi wange om hom te help om die oorsaak van sy pa se dood na te vors. Dit is ’n reuse-produksie wat miljoene gekos het, en elke dollar wys. Die spel is beter as wat ’n mens van so ’n fliek sou verwag. Selfs ouers kry dalk, soos ek, ’n vrolike verhouding met die Pokémon-kultuur. Die einde is werklik verrassend.

The Stolen Princess: Ruslan and Ludmila **

Hoe hanteer uurglaslyfie-prinsessies verleidelike kalorieë? Hulle beveg dit met ’n mes en aggressie! Dié psigedeliese, formeel-getekende animasieprent uit Rusland gaan oor ridders, ’n bleeksiel-kunstenaar, kwaai pa’s, dol towenaars en haarlokke. Dis die soort Saterdagoggend-fliek waarby jy die kroos kan aflaai (sewe- tot nege-jariges moet deur volwassenes vergesel word). “Vir altyd gelukkig saam gelewe” kry hier ’n kontinentale houding. Kindervriendelik, maar niks spesiaals nie.

    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.