Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Silwerskerm:
’n Pragtige prentjie van pure boosheid

Maleficent: Mistress of Evilmet Angelina Jolie en Elle Fanning.

Regisseur: Joachim Rønning.

***

Maleficent: Mistress of Evil
Maleficent: Mistress of Evil met Angelina Jolie en Elle Fanning..

Die Disney-ateljee slaan die lokettamboeryn vanjaar hard, want die verskietende ster wat oor sy logo span, skitter blinker as jou oë wanneer jy geld van die inkomstediens af terugkry.

Die rede? Hierdie baster- Sleeping Beauty is die tiende Disney-fliek wat die loket vanjaar omkrap. En met The Lion King wat ’n rekord van R120 miljoen by die Suid-Afrikaanse loket uitgebrul het, bied hierdie blink fliek genoeg lipstiek en ’n oormaat vermaak-kalorieë vir fliek-suikerbekkies.

En tog: Gaan dit dieselfde gehoor kielie wat so agter die leeuwelpies aangehol het?

Dit gaan ook oor ’n tragedie – ’n miskende karakter wat uit ’n donker onderbewussyn kruip om haar regmatige plek in die wêreld in te neem. ’n Ontwerperbondel haat wat pyn om haar mondhoeke ervaar wanneer sy glimlag.

Die 2014-rolprent het haar wortels destyds oopgegrawe en bevestig hoekom sy so bitter is. Die vervolg voer dit verder en motiveer die vrou met soveel emosionele bagasie om haar tasse uit te pak. Om vrede te maak met die koninkryk oorkant haar (en haar bose familieverbintenisse) en om in te stem dat haar peetkind (’n uitstekende Elle Fanning) met ’n vervelige prins (Harris Dickinson pleks van die destydse Brenton Thwaites) trou.

Maar haar familiebagasie gly rondomtalie op die sprokiesland-vervoerband, en sy is nie gereed vir vredesonderhandelings nie. Nog minder bevat haar sprokiespaspoort die nodige vredesvisum, want Maleficent is moerig!

En wie beter as Angelina Jolie om gestalte aan hierdie suur Liewe Heksie te gee? Sy is die ene horings, bloedrooi lipstiffie, verhewe kakebene, swart vlerke vol vlieëspuitgoed en ’n lang gesig wat lyk of sy twee skaaptjoppies in haar kieste dra. En moenie die leliewit gelaat en kontaklense vol gloeiende verwyte vergeet nie. Sy is ’n ontwerper-winkelpop van boosaardigheid.

Daarom steek die res van die karakters by haar af.

Nuwe flieks

Racheltjie de Beer ***

Matthys Boshoff het ’n stil, atmosferiese rolprent gemaak wat die legende oorvertel van ’n tiener wat haar lewe opgeoffer het om haar verkluimde boetie se lewe te red. Die kinematograaf het ’n raak aanvoeling vir die tydperk, terwyl die kunsregie die eenvoud van die plaashuis beklemtoon. Maar dis die uitsonderlike spel van Zonika de Vries, asook die onderspeelde vertolkings deur Antoinette Louw en Sandra Prinsloo wat verder gewig aan hierdie rolprent gee. Die storie is egter ’n bietjie skraps om die tyd en ruimte mee te vul, maar gee steeds insig in die probleme wanneer ’n pa en sy dogter bots. Ondersteun dit!

The Goldfinch **

Donna Tartt se roman, waarop hierdie rolprent gegrond is, is briljant, maar die regisseur raak verward tussen al die temas en terugflitse, sodat ’n meesterlike verhaal tussen die krake deurval. ’n Seun dra die gevolge van ’n diefstal ná ’n ontploffing in ’n museum waarin sy ma sterf. Die langdradige middelste gedeelte van die rolprent is so vermoeiend dat die rolprent uiteindelik uitrafel. Veral Nicole Kidman se talent word vermors.

Die aantreklike en talentvolle Harris Dickinson (wat so goed in Beach Rats was) lyk of hy verveeld na sy buisie haarjel soek in ’n rol wat bloot van hom vereis om narsisties rond te staar. As Aurora met hom gaan trou, gaan sy meer as sy lont aan die brand moet steek om ’n erfgenaam op te tower! Jy glo hierdie sprokiesverhouding nie vir ’n oomblik nie.

Voeg daarby die pap Robert Lindsay as sy pa, koning John, en die ondersteunende rolverdeling is so skraps soos die blertsies wolkies wat deesdae oor ons verdorde land hang.

Michelle Pfeiffer as die bose koningin Ingrith vergoed egter daarvoor, maar weer eens: ’n Bekroonde aktrise worstel met ’n stereotipiese karakter wat net boosaardig om haar rondstaar asof sy ontevrede is met die hoë pryse van Kersgeskenke, en frons wanneer sy iemand se ondergang beplan. Wat ’n jammerte.

Veel vroliker en so opwindend soos ’n oop parkeerplek by ’n oorvol winkelsentrum, is die feetjies. Die drie plomp tannies wat oor die gras sweef, en ander goggatjies soos ’n krimpvarkie-gedoentetjie wat spin wanneer hy praat, kaap die aandag. Hulle sal die kleintjies popelend laat oe! en aa!, en sorg vir meer onderhoudende storielyne.

Dus, as Mamas en hul dogters, wat deur oorvol winkelsentrums tot by teaters vorder, kaartjies koop, behoort dit hulle te bevredig. Prins Philip, wat soos ’n stuk waspapier lyk wat wag op ’n persoonlikheid, val darem sag op die oog, en die uiteindelike rekenaar-gedrewe extravaganza, waar die feetjies en die mense oorlog voer, sal veral in Nu Metro se eksklusiewe 4DX-teaters ten volle tot hul reg kom. Gaan kyk dit daar. Dit sal ’n gemiddelde fliek optert soos Brusselse spruite wat vla oor kry.

Maar uiteindelik wonder ’n mens: Gaan elke sprokie nou dieselfde behandeling kry? Gaan Rooikappie binnekort vir fliek-groepsterapie nadergetrek word? En moet sommige sprokies nie liefs tussen die bladsye van ’n boek bly, of in ma se rustige stem oorvertel word nie?

Maar hierdie fliek is rekenaarkaperjolle – ’n sprokie wat voor groen skerms geskiet is en min met rolprente te doen het. Jy wil dit eintlik met ’n afstandbeheerder in jou hand gade slaan.

Vir die koppe-vooroorgekrenk-selfoonbrigade sal dit vyf sterre werd wees.

  • Kinders tussen sewe en nege moet deur volwassenes vergesel word oor tonele met geweld en vooroordeel. (7 – 9 PG P V)
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.