Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Ses flieks in fel stryd op 9de Silwerskermfees
’n Toneel uit René van Rooyen se Toorbos wat op Dalene Matthee se roman met Elani Dekker in die hoofrol gegrond is.

Die feestafel is byna gedek vir die negende kykNET-Silwerskermfees wat van 21 tot 24 Augustus in die The Bay Hotel in Kampsbaai aangebied word.

Stories so eie aan mense soos hartklop, volksverhale, ’n grusame ware verhaal en ’n vroue-Western wys in die kompetisie op die fees. Die jaarlikse fees is nege jaar gelede begin om ’n platform aan jong talent te bied en ervare rolprentmakers om hulle te kom help touwys maak. Slypskole en besprekingsessies maak deel uit van die aanbod. Meer as 160 kort- en vollengte- rolprente is in die afgelope nege jaar vir die fees vervaardig.

Vanjaar se kompetisiefilms is:

 Griekwastad, wat fokus op die moord op die Steenkamp-ouerpaar en hul tienerdogter, waarvoor hul seun, Don, tans tronkstraf uitdien. Jozua Malherbe is die regisseur en die draaiboek is geskryf deur Tertius Kapp – albei is al vir hul werk bekroon. Arnold Vosloo (Boetie gaan border toe en The Mummy) vertolk die hoofrol. Dit is die eerste keer in meer as drie dekades dat ’n rol hom na sy vaderland teruglok. Hy sal ook die fees bywoon.

  • Die magiese Knysna is die agtergrond van twee rolprente in die kompetisie. Albei is gegrond op Dalene Matthee se geliefde romans. Fiela se kind van die skrywerregisseur Brett Michael Innes en Toorbos deur die regisseur en draaiboekskrywer René van Rooyen. Zenobia Kloppers is Fiela, die bruin vrou wat in die apartheidjare veg om haar wit hanskind, Benjamin, te behou, en Toorbos, wat draai om die karakter Karoliena Kapp,’n jong vrou met ’n groot liefde vir die bos en haar strewe na aanvaarding en liefde. Elani Dekker van Jou Romeo-faam vertolk die hoofrol. Dit speel in 1930’s af toe die staat houtkappers uit die bos verwilder het en hulle ’n ander heenkome moes vind.
  • Innes is ook die draaiboekskrywer van Racheltjie de Beer, ’n prent oor die Suid-Afrikaanse volksheldin. Die prent, geregisseer deur Mattys Boshoff, handel oor die jong Racheltjie wat omgekom het in die sneeu toe sy haar boetie probeer warm hou het. Die rol van Racheltjie word vertolk deur Zonika de Vries.)
  • Christiaan Olwagen is die regisseur van die rolprentweergawe van Elsa Joubert se ikoniese roman Die swerfjare van Poppie Nongena. Olwagen het vir die draaiboek saamgespan met Saartjie Botha. Dit handel oor die Afrikaanssprekende Xhosa-vrou wat haar plek in ’n apartheid-Suid-Afrika probeer beding. Clementine Mosimane vertolk die rol van Poppie. Olwagen se Kanarie het verlede jaar vyf Silwerskermfees-pryse ingeryg insluitend vir beste fliek.
  • Jenna Cato Bass se vroue-Western Flatland is ’n ko-produksie met Duitsland en het vanjaar die Panorama-afdeling op die Berlynse rolprentfees geopen. Nicole Fortuin, Izel Bezuidenhout en Faith Baloyi is te sien as drie vroue wat veg om uit hul omstandighede te ontsnap en ’n lewe wat hulle pas, te lei. Dit is in die omgewing van Beaufort-Wes verfilm.
  • Danie Marais is vanjaar die sameroeper van ’n nog stewiger dokumentêr-aanbod op die fees. Onder die 12 prente, wat groot aanklank op ander plaaslike feeste gevind het, was Buddah in Africa die wenner van vanjaar se dokkie-afdeling op die Durbanse rolprentfees. Dit volg die wedervaringe van Enock Alu, ’n Malawiese weeskind wat in ’n Chinese klooster grootword en poog om botsende kulture te versoen. Rolprente wat nog te sien is, is die veelbekroonde Stroop van Bonné de Bod, waarin renosterstropery aan die bod kom, Goldblatt, wat ’n blik bied op die werksaamhede van die ontslape veteraan-kunsfotograaf, David Goldblatt, wie se werk wyd oorsee uitgestal is, asook Whispering Truth to Power, wat op die laaste jaar van adv. Thuli Madonsela se termyn as openbare beskermer fokus.
Clementine Mosimane as Poppie Nongena en die aktrise Rolanda Marais as Magriet Swanepoel in Poppie Nongena van Christiaan Olwagen.

Benewens Vosloo word die Berlynse rolprentmaker Dorothee Wenner, wat al twee dekades betrokke is by die Berlynse rolprentfees en die sub-Sahara-streek verteenwoordig, asook die Britse vervaardiger Peter Cowley bekend om Tabloids: The Animated Web Series as gaste op die fees verwag.

Benewens die 14 kortprente, waaroor reeds berig is, is ook te sien vier digitale web-episodes op 21 Augustus op kykNET se webblad. Die publiek kan vir hul gunsteling stem.

Ander prente wat te sien is, is Exorcist of Apartheid oor Johan Heyns, in lewe moderator van die NG Kerk wat in 1994 in ’n sluipmoordaanval dood is en deur sy kleinseun Adams Heyns gemaak. Porselein en Far from the Castle is ook te sien.

Onder die speelfilms wat wys is Bhai’s Café, ’n prent oor ’n hoekkafee in Wynberg wat al vier dekades sake doen en die eienaar wat poog die gemeenskap saam te snoer wanneer ’n ontwikkelaar aanklop, asook Jahmil X.T. Qubeka se Knuckle City oor ’n vuisvoos bokser wat sy laaste geveg aanpak in die hoop dat dit sy gesin sal verenig. Al bei prente is pas op die Durbanse rolprentfees vertoon.

Kaartjies vir die vertonings in Theatre on the Bay kan by Computicket gekoop word.

Daarbenewens word ’n spesiale voorskou van Fiela se kind in die Labia-teater aangebied. Kaartjies is reeds by die Labia beskikbaar.

Meer oor:  Silwerskermfees  |  Silwerskerm19  |  Kampsbaai  |  Kyknet  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.