Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Netflix, Sony skenk nog miljoene vir SA rolprentlui

Netflix en Sony Pictures Entertainment (SPE) het elk miljoene rand in twee aparte noodfondse gestort om Suid-Afrikaanse werknemers in die rolprent- en TV-bedryf te steun.

Netflix het verlede jaar in samewerking met die Suid-Afrikaanse Silwerdoekfederasie (Sasfed) en die Organisasie vir Onafhanklike Vervaardigers (IPO) ’n Covid-19-rolprent-en-TV-hulpfonds op die been gebring en R8,3 miljoen in die fonds gedeponeer vir werknemers in die bedryf wat weens die uitwerking van die pandemie swaarkry.

Luidens ’n mediaverklaring is meer as 3 500 aansoeke vir hulp uit die fonds ontvang en kon ’n raps meer as 550 mense elk ’n lafenis van R15 000 kry, voordat die fonds uitgeput was.

Netflix het Donderdag aangekondig dat hy die fonds met nog R7,5 miljoen gaan aanvul sodat rolprent- en TV-lui wat verlede jaar om ’n finansiële inspuiting aansoek gedoen het, maar weens ’n gebrek aan finansiering nie gehelp kon word nie, nou broodnodige steun kan kry.

Slegs aansoekers wat verlede jaar aansoeke ingedien het maar nog nie voordeel uit die fonds kon trek nie, sal vir die bykomende finansiering in aanmerking kom. Tshikululu Social Investments, wat die fonds vanuit Johannesburg administreer, sal direk met dié aansoekers in verbinding tree.

Meer besonderhede is by www.ipo.org.za/5186-2/ beskikbaar.

• Werknemers in die rolprent- en TV-bedryf wat dié kans verlede jaar misgeloop het, het gelukkig danksy SPE nog ’n geleentheid waar hulle om hulp kan aansoek doen.

SPE het net soos Netflix hande met Sasfed en die IPO gevat en saam die Suid-Afrikaanse Skermsektor-hulpfonds begin.

Luidens ’n mediaverklaring is die SASSSF deel van die Suid-Afrikaanse Skermsektor-hulpinisiatief (SASSSI), wat deur Sasfed en die IPO begin is om die hele bedryf weer op die been te kry.

SPE het $250 000 (sowat R3,7 miljoen) aan dié fonds geskenk. Die Nasionale Kunsteraad (NAC) en die Nasionale Rolprent-en-Video-stigting (NFVF) het dit reeds met skenkings van onderskeidelik R570 000 en R100 000 opgevolg.

Hoewel aansoeke vir individuele werknemers reeds gesluit het, is aansoeke tot 5 April oop vir organisasies of ondernemings wat dié werkers in diens neem.

Die aansoekvorm, aansoekvereistes, en al die bepalings en voorwaardes is by www.sssi.co.za/the-fund/ beskikbaar.

Suid-Afrikaners wat ook tot dié fonds wil bydra, kan by www.sssi.co.za/donate/ skenkings tussen R50 en R20 000 maak.

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Pandemie  |  Inperking  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Nasionale Rolprent-En-Video-Stigting  |  Nac  |  Nfvf  |  Nasionale Kunsteraad  |  Ipo  |  Tv  |  Netflix  |  Fliek  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.