Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘Noem my Skollie’-skrywer was ‘stil, wys, nederig’
John W. Fredericks (73), onder meer draaiboekskrywer van die trefferfliek Noem my Skollie, is Sondag aan pankreaskanker dood. Foto: Edrea du Toit

Stil. Nederig. Saggeaard. Wys. ’n Dromer.

So is die skrywer en rolprentregisseur John W. Fredericks deur kollegas en vriende beskryf nadat hy Sondag in die ouderdom van 73 aan pankreaskanker dood is.

Fredericks was veral bekend as draaiboekskrywer van die 2016-trefferfliek Noem my Skollie, wat Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir beste buitelandse rolprent by die Oscars in 2017 was. Dié rolprent en Fredericks se outobiografie, Skollie: One Man’s Struggle to Survive by Telling Stories, het ’n merkwaardige lewenspad saamgevat: sy grootwordjare in Kewtown, sy tienerervaring met bendes, hoe hy as 17-jarige weens diefstal vir twee jaar in Pollsmoor beland het en hoe hy die nommerbendes daar met sy gawe vir storievertel vrygespring het.

Die akteur Dann-Jaques Mouton, wat die hoofrol in Noem my Skollie vertolk het, sê sy tyd met Fredericks op die stel sal hom altyd bybly.

“Terwyl ek my karakter (Abraham, wat op Fredericks gegrond is) ondersoek het, het ek in Boeta John se kop probeer kom en hom gepols,” onthou hy.

“Dit was nie altyd maklik nie, maar nadat ek gemakliker geword het en vrae op die man af aan hom gestel oor wat regtig (in die tronk) gebeur het, het hy net geglimlag en gesê: ‘My bru, kom ek wys jou hoe dit rêrig gebeur het.’ En dan het hy die waarheid uitgespoeg soos net hy kan, met net die regte woorde en arms wat swaai, sigaret in die hand.

“Sy raad aan my was om my drome te droom in die teenwoordigheid van dromers.”

Sy raad aan my was om my drome te droom in die teenwoordigheid van dromers.
Dann-Jaques Mouton, akteur

David Max Brown, wat Noem my Skollie vervaardig het en die dokumentêr Freedom is a Personal Journey saam met Fredericks gemaak het, sê sy hart is stukkend.

“Ons het geweet dit kom, maar toe ons eindelik die nuus van John se dood kry, was ons platgeslaan,” sê Brown in ’n mediaverklaring.

Die kletsrymer HemelBesem sê dit was net ’n voorreg om John Fredericks te ken. Foto: Argief

“Almal wat met hom saamgewerk het, weet hoe geseënd ons was om ’n pad met hom te stap en om in sy teenwoordigheid saam met hom te droom. Ek hoop ander gebruik die pen soos hy het en neem sy groot veggees aan.”

Die kletsrymer HemelBesem, wat die titelsnit van die rolprent geskryf en gesing het, sê dit was net ’n voorreg om Fredericks te ken.

“Dit was absoluut ’n voorreg om te kon contribute (tot Noem my Skollie) omdat dit ’n geveg is om ons stories die lig te laat sien. Oral waar ek gaan, wanneer ek die lied ‘Noem my Skollie’ sing, vertel ek eers die verhaal van John Fredericks.”

Hy is ook vol lof vir Fredericks se rol in die vervaardiging van die dokumentêr Mr. Devious the First: My Life, wat belangrik vir hip-hop in Suid-Afrika en Afrikaanse hip-hop is.

‘Voete plat op die aarde, hande in die lug’

Lynden Jafta, radio-omroeper en eienaar van Paarl 96.7FM wat Fredericks as agent bygestaan het, sê sy lewe het verander nadat hy met hom bevriend geraak het. Hy het Fredericks Sondag kort ná sy dood by sy huis in Strandfontein finaal gaan groet.

“Hy het altyd gesê: ‘Voete plat op die aarde, hande in die lug.’ Hy was plat op die aarde en het altyd ’n wyse woord gehad, maar hy het nie nonsens gevat nie.”

Jafta en Fredericks het baie tyd saam op die pad deurgebring.

“Ek onthou op ’n dag hoe ek hom al 05:00 die oggend by sy huis gaan haal het en hom heeldag rondgery het van een radio-onderhoud na die volgende: Good Hope FM, Heart FM, Kfm, Fine Music Radio, Bush Radio. Dan kom ons eers ná 21:00 tuis. Hy het nie een keer gekla nie,” sê hy.

“Hy’t my ook so baie stories op die pad vertel. As ek weer ’n dag met hom kon deurbring, sou ek hom vra om alles vir my van voor af te vertel.”

Hy het ’n reuserol daarin gespeel om veral bendekinders te laat besef hulle het ook ’n bestaansrede wat hulle moet najaag.
Aletia Grundling, hoof van MCM

Aletia Grundling, hoof van Monte Christo Miqlat (MCM), ’n organisasie sonder winsbejag met ’n Christelike waardestelsel wat op gemeenskapsopheffing in die hele Drakenstein-gebied fokus, sê sy het ’n “kosbare hartsvriend verloor”. Fredericks was sedert 2017 die ambassadeur van MCM se drama- en skryfskool en was as mentor nou betrokke by ’n klas wat bendekinders in skryfkuns oplei.

“Ons het in 2016 ’n spesiale vertoning van Noem my Skollie gehou vir 37 lede van die Barbarians-bende. Ek het oom John genooi om saam te kom kyk. Ná die tyd toe staan hy op en praat met hulle in hul bendetaal. Ek onthou hoe hy vir hulle gesê het: ‘Dis nie cool om ’n nommer (in die tronk) te vat nie.”

Net ’n paar weke later het die leier van die bende by MCM se kantoor opgedaag en aangekondig hy het die bende verlaat. Volgens Grundling was dit as gevolg van Fredericks se boodskap dat bendelede altyd ’n keuse het – en dat dié keuse die sleutel is waarmee ’n bendelid ’n bende kan verlaat.

“Hy het ’n reuserol daarin gespeel om veral bendekinders te laat besef hulle het ook ’n bestaansrede wat hulle moet najaag.”

Grundling sal hom vir ewig onthou as nederig, saggeaard, stil en wys.

Dann-Jaques Mouton, wat die hoofrol in Noem my Skollie vertolk, sal sy tyd op stel met John Fredericks vir altyd koester. Foto: Edrea du Toit

Melt Myburgh, digter en opdraggewende redakteur by Penguin Random House, wat Fredericks se outobiografie in 2017 uitgegee het, onthou Fredericks as ’n “nederige mens” en beskryf hom as ’n “meesterverteller”.

“Ons is hartseer om van John se heengaan te verneem. Sy merkwaardige lewensverhaal is ’n kragtige getuigskrif oor die mag van woorde en stories in die mond van ’n meesterverteller,” sê Myburgh.

“Toe John in die tronk was, het sy gawe om stories te vertel hom letterlik van die tragiese lot gered wat bendeleiers vir hom in gedagte gehad het. Skollie (die boek) wat hy vir ons nalaat, sal altyd ’n inspirerende baken wees wat ons herinner aan die transformerende krag van woorde.”

Meer oor:  John W. Fredericks  |  Penguin  |  Boeke  |  Flieks  |  Hemelbesem  |  Noem My Skollie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.