Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Nóg ’n gerf plaaslike en Afrika-prente in Encounters
Ella Blumenthal (98) is die onderwerp van Jordy Sank se bekroonde dokkie 'I Am Here'. Dit is binnekort op die fees Encounters te sien.

’n Ondersoek na die ware redes vir die moord op die anti-apartheidsaktivis Dulcie September, die binnewerkinge van die Kaapse sirkusskool ZipZap, ’n fokus op die lewe van Regina Mary Ndlovu, ’n albino-aktivis, en ’n blik op die nasate van een van die oudste kulture ter wêreld is die onderwerpe van die Suid-Afrikaanse rolprente wat op die 23ste Encounters-rolprentfees vertoon gaan word.

Die fees word van 10 tot 20 Junie aanlyn aangebied. Die geleentheid vir moontlike vertonings in teaters word nog ondersoek.

• Enver Samuels se Murder in Paris speel soos ’n politieke misdaadriller af. Samuels ondersoek in die prent die motiewe van die moordenaars van die anti-apartheidsaktivis Dulcie September aan die hand van die ondersoekende joernalis Evelyn Groenink se speurtog.

September was met haar dood in 1988 die hoofverteenwoordiger van die ANC in Parys.

Die prent skets ’n portret van dié merkwaardige vrou en wys dat haar dood dalk meer te doen het met die apartheidsregering se nabye bande met die Franse wapenbedryf as om September, ’n belangrike figuur in die ANC, te stuit.

• Die 98-jarige Ella Blumenthal is die onderwerp van Jordy Sank se bekroonde dokkie I Am Here. Blumenthal is ’n welbekende persoon wie se borrelende persoonlikheid aan inwoners van die Kaapse voorstad Seepunt bekend is.

Sy wandel gereeld op Seepunt se promenade en swem nog gereeld in die openbare swembad.

In die prent word haar lewe in Nazi-Duitsland as jong meisie belig, asook haar reis na Suid-Afrika. Dit is ’n prent wat die broosheid van die lewe huldig en wys dat tyd nie alle wonde genees nie.

Kate Thompson-Gorry se 'Dare to Dream Zip-Zap Circus' wys die sirkus se opleidingsprogramme vir jong mense, wat dikwels uit nederige omstandighede kom.

Sank gebruik animasie om na die gruverlede in Duitsland te verwys en het aan die Atlanta Jewish Times gesê hy hoop ’n jonger geslag sal danksy sy prent van die Joodse Menseslagting leer en dat dit empatie en begrip sal ontlok.

• Aliki Saragas-Georgiou bekyk albinisme deur haar prent I, Mary, wat ’n portret van die albino-aktivis Regina Mary Ndlovu skilder.

• Die politieke aktivis Asjoer Sjamis se lewe in Libië onder heerskappy van kol. Moeammar Ghaddafi is die fokus van sy seun, Chalid Sjamis, se dokkie The Colonel’s Stray Dogs.

Beeldmateriaal uit die argief, asook openhartige gesprekke tussen pa en seun toon ’n persoonlike ontdekkingsreis vir die seun, wat oplaas besef wat sy pa se werk eintlik behels het.

• Bendegeweld in Zinder, ’n dorp in die Republiek van Niger, is die fokus van die prent Zinder.

Die regisseur Aicha Macky het daar grootgeword en van kleintyd haar lewe tussen die geweld deur probeer navigeer. Hier volg sy ’n klompie jeugdiges wat ’n toekoms vir hulself en hul geliefdes wil uitkerf sonder om ’n lewe van geweld te volg.

• Die LGBQTI-gemeenskap van Kenia is die onderwerp van I Am Samuel. Samuel is ’n gay man wat sy verhouding met sy lewensmaat, Alex, moet balanseer met sy plig teenoor sy familie in ’n land waar sy liefde ’n misdaad is. Die regisseur is Pete Murimi.

• Die Suid-Afrikaanse rolprentmakers Vincent Moloi en Lodi Matsetela se There Is Power in the Collar belig die werk van ’n queer-menseregte-organisasie in Botswana, wat veg om verhoudings tussen mense van dieselfde geslag wettig te kry. Die prent ondersoek die bande tussen die Christendom, kolonialisme en homofobie in Afrika.

In 'The Khoekhoe Saga: The Story of Southern Africa’s Herders' word die geskiedkundige inligting van die Khoekhoe-veewagters belig.

• Die grondvraagstuk kom in die dokkie We Rise for Our Land van die regisseur Kurt Ordeson onder die loep. Hier word die komplekse debat uitgelig soos dit tans in die drie lande, Eswatini, Mosambiek en Zambië, uitspeel.

• Die regisseur Kate Thompson-Gorry se Dare to Dream Zip-Zap Circus wys die sirkus se opleidingsprogramme vir jong mense, wat dikwels uit nederige omstandighede by die sirkus aansluit. In die prent word onderhoude gevoer met die afrigters en jong dromers wat in die sirkus wil werk.

In The Khoekhoe Saga: The Story of Southern Africa’s Herders word die geskiedkundige registers van die Khoekhoe-veewagters, ook Khoisan genoem, nagegaan en word onderhoude met hul nasate gevoer. Toonaangewende historici belig rotskuns en vondste uit opgrawingswerk om ’n nuwe geskiedenis van een van die oudste kulture in die wêreld te vertel. Johann Abrahams is die regisseur.

Besoek die webblad www.encounters.co.za. Nog rolprenttitels word binnekort bekend gemaak.

Webinare, gesprekke en vraagsessies maak deel van die aanlyn aanbod uit. – saamgestel deur Laetitia Pople uit bykomende bronne imdb, Atlanta Jewish Times en The Call Sheet

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.