Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Nog ’n SA fliek haal stil-stil Oscar-kortlys

Terwyl alle oë tydens die aankondiging van vanjaar se Oscar-kortlyste op die Suid-Afrikaanse dokumentêr My Octopus Teacher en die drama Toorbos was, het nog ’n Suid-Afrikaanse kortprent die kortlys stil-stil gehaal.

Die animasierolprent The Snail and the Whale, gegrond op die Engelse kinderboekskrywer Julia Donaldson en die Duitse kinderboekillustreerder Axel Scheffler se gelyknamige 2003-kinderboek, is een van tien rolprente wat op die kortlys vir beste kort animasierolprent ingesluit is.

Die kortprent, wat hier in Suid-Afrika op Showmax te sien is, is deur Magic Light Pictures in Engeland vervaardig – maar dit is in Kaapstad deur Triggerfish Animation Studios geanimeer.

Magic Light Pictures en Triggerfish Animations Studios se samewerking aan die kort animasierolprent Revolting Rhymes is in 2018 in dieselfde kategorie vir ’n Oscar benoem.

“Ons het net ’n paar dae gelede gespog oor The Snail and the Whale se briljantheid – en vandag (Woensdag) is ons spoggery geregverdig,” lui ’n inskrywing op Triggerfish se Facebook-blad.

“Hierdie prag-kortprent is deur die Akademie (die Academy of Motion Picture Arts and Sciences, wat die Oscars uitdeel) gekies as een van tien kort animasieprente wat vir vanjaar se Oscars gekortlys is. Wat ’n merkwaardige prestasie! Geluk aan Magic Light, (die draaiboekskrywer) Daniel Snaddon, (die skrywer-regisseur) Max Lang en almal by Triggerfish wat dít met hul bydraes moontlik gemaak het.”

Die rolprent handel oor ’n seeslak wat die wêreld wil verken en ’n “saamrygeleentheid” op ’n boggelrugwalvis se rug kry om dié tog aan te pak. Dame Diana Rigg is die verteller, terwyl die Oscar-benoemde aktrise Sally Hawkins en die Britse komediant Rob Bydron onderskeidelik die stemme van die slak en walvis verskaf.

In ‘The Snail and the Whale’ verken ’n seeslak die wêreld saam met ’n boggelrugwalvis. Foto: Magic Light Pictures / Showmax

Die rolprent is saam met die rolprente Burrow, Genius Loci, If Anything Happens I Love You, Kapaemahu, Opera, Out, To Gerard, Traces en Yes-People op die Oscars-kortlys in die kategorie vir beste kort animasierolprent ingesluit.

Netwerk24 het vroeër berig dat My Octopus Teacher saam met 14 ander rolprente in die kategorie vir beste vollengte dokumentêr gekortlys is. Toorbos het nie die paal in die kategorie vir beste internasionale rolprent gehaal nie.

Luidens ’n mediaverklaring het 96 rolprente vanjaar vir die kategorie vir beste kort animasierolprent gekwalifiseer. Lede van die Akademie se takke vir kortprente en animasierolprente gaan nou stem watter van dié tien rolprente die topvyf moet haal en daarmee saam ’n Oscar-benoeming moet ontvang.

Die benoemings vir die 93ste Oscars-toekenningsgeleentheid word op 15 Maart aangekondig. Die Oscars word vanjaar weens die Covid-19-pandemie eers op 25 April uitgedeel, heelwat later as die gebruiklike prysuitdeling in Februarie.

  • The Snail and the Whale is op Showmax beskikbaar. Dit duur sowat 26 minute en is vir alle ouderdomme geskik.

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

Meer oor:  Triggerfish  |  Showmax  |  Revolting Rhymes  |  Opera  |  Fliek  |  My Octopus Teacher  |  Academy Awards  |  Oscars  |  Flieks  |  Oscar  |  Toorbos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.