Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Nuwe weergawe van ‘Pet Sematary’ maak nie hond haaraf nie
Amy Seimetz, Hugo Lavoie, Jason Clarke en Jeté Laurence in ’n toneel uit Pet Sematary.Foto: Paramount Pictures

Die nuwe weergawe van Pet Sematary verveel eintlik terwyl dit moet bang maak. Petrus Malherbe gee dit twee sterrre.

Hoe ver is jy bereid om te gaan om ’n geliefde uit die dood te laat terugkeer?

Dié vraag klink dalk retories, maar in die geval van Pet Sematary word dit baie letterlik opgeneem.

Dié gruwelfliek is die tweede silwerdoekverwerking van Stephen King se gelyknamige roman. Die vorige fliek is in 1989 uitgereik.

Die jongste weergawe krap so ’n bietjie aan King se oorspronklike storie, maar in wese bly dinge dieselfde.

Louis Creed (Jason Clarke), ’n dokter, trek saam met sy gesin na ’n afgeleë dorpie in die Amerikaanse deelstaat Maine. Die gesin wil wegkom van die stad se geraas en ’n rustige lewe in die platteland lei.

Ongelukkig kan ons nie altyd kry wat ons wil hê nie. Binne die grense van die Creeds se nuwe woning is ’n geheimsinnige begraafplaas waar inwoners reeds dekades lank hul troeteldiere begrawe. Daarnaas, en versteek agter ’n groot versperring, is nog ’n begraafplaas, een met die bonatuurlike vermoë om mens en dier uit die dood te kan wek. Spoedig dwing ’n familietragedie Louis om met die hulp van sy eksentrieke buurman (John Lithgow) dié mitiese begraafplaas agter die een vir die troeteldiere te besoek.

Op papier klink die intriges van Pet Sematary dalk soos ’n droom vir enige liefhebber van gruwelflieks, maar ongelukkig slaag dié jongste fliekweergawe nie daarin om juis spanning te skep of te behou nie. Die konsep van ’n spookagtige begraafplaas waar mens en dier uit die dood terugkeer, is genoeg om enigiemand die ritteltits te gee, maar die regisseurs Kevin Kölsch en Dennis Widmyer maak veels te veel staat op skielike spronge wat jou in jou springmielies laat stik eerder as om volgehoue spanning te skep.

Die konsep van ’n spookagtige begraafplaas waar mens en dier uit die dood terugkeer, is genoeg om enigiemand die ritteltits te gee, maar die regisseurs Kevin Kölsch en Dennis Widmyer maak veels te veel staat op skielike spronge wat jou in jou springmielies laat stik eerder as om volgehoue spanning te skep.

Woesj! jaag ’n vragmotor naelskraaps by een karakter verby. Jy skrik jou boeglam, maar is jy bang?

Glad nie.

King se oorspronklike roman laat soveel ruimte vir die draaiboekskrywer om kwessies soos die dood en die vraag oor waarheen ons gaan as ons doodgaan te bespreek. Pleks daarvan stroop Jeff Buhler se draaiboek die verhaal van enige vleis.

In die slottonele val die pap behoorlik op die grond soos wat al die gewone clichés van die genre een vir een opduik.

Clarke doen niks om simpatie vir sy karakter te wek nie.

Hoewel jy op ’n menslike vlak die motief vir sommige van Louis se (donker) dade begryp, is dit frustrerend dat jy as kyker nie eintlik omgee oor wat met hom of enige van sy gesinslede gebeur nie. Louis is afsydig, kil en kortom oninteressant.

Trouens, dié beskrywing is ook in die kol vir Pet Sematary as geheel. Die potensiaal was daar, maar die eindresultaat is vaal verby.

Meer oor:  Pet Sematary  |  Stephen King
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.