Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Olwagen salueer SA ma’s met ‘Poppie’
Christiaan Olwagen op die stel van Poppie Nongena met Clementine Mosimane (middel) en Nomsa Nene. Foto: Melanie Cleary

’n Ontmoeting met Elsa Joubert het hom eindelik die nodige gerusstelling gegee om die legendariese skrywer se roman Die swerfjare van Poppie Nongena op die grootskerm te verbeeld soos hy dit goeddink.

Só sê Christiaan Olwagen, veelbekroonde regisseur, draaiboekskrywer en dramaturg, wie se jongste rolprent, Poppie Nongena, op die Silwerskermfees in die Bay Hotel in Kampsbaai te sien is. Olwagen het die draaiboek saam met die dramaturg Saartjie Botha geskryf.

Toe hy ’n paar jaar gelede genader is om by die projek betrokke te raak, het hy (toe) nog nie die ikoniese boek oor ’n swart vrou en ma se reuse-uitdagings in die apartheidsera gelees nie, erken hy.

“Ek het toevallig ’n kopie daarvan by die huis gehad – een wat ek uit my ma se biblioteek gesteel het – en dit was net een van daai boeke wat jy jouself altyd belowe jy sal lees, maar nooit doen nie.

“Toe ek eindelik het, het ek dit van begin tot einde gelees en gedink: Wat ’n storie! Ek het dadelik vir haar (Karen Meiring, kykNET-kanaalhoof) en Helena Spring (die rolprent se vervaardiger) laat weet ek is amptelik deel van die projek.”

Hy sê daar was “natuurlik druk – baie” om ’n roman te verwerk wat in sommige kringe as die belangrikste roman uit Afrika in die 20ste eeu beskou word.

“Ek probeer altyd om my eie persoonlike invalshoek te vind, maar daar het ’n punt gekom waar ek en Saartjie onsself afgevra het hoe op aarde ons hierdie lewensverhaal in net 120 minute gaan vertel.

“Dis toe dat ons die voorreg gehad het om Elsa Joubert te ontmoet. Sy het ons gevra of ons sukkel – en toe speel ons oop kaarte,” sê hy. “Ek sal nie haar raad aan ons vergeet nie: Moenie probeer om die hele ding te vertel nie. Sy’t gesê: Kies ’n wasgoedlyn – Saartjie onthou dit anders, as ’n ‘string pêrels’ – en hang daaraan wat jy moet om die storie te volbring.”

Dié groen lig het Olwagen en Botha vlerke gegee. Hulle het eindelik sowat 18 maande aan die draaiboek geskaaf – samewerking wat hom na aan die hart lê.

“Ons stap al ’n lang pad saam – hierdie is nie ons eerste rodeo nie. Ons het al ’n shorthand. Met haar is dit altyd ’n ongelooflike proses.

“Sy verstaan dat ’n draaiboek net ’n bloudruk van ’n baie groter prentjie is – dat ons vir die akteurs, byvoorbeeld, net die bene gee waarom hulle die vleis moet pak.

“En ons is verskillend, maar ons het dieselfde aanvoeling. Ek vertrou haar met my lewe en dit het my weer laat besef hoekom sy een van my gekose skryf-medewerkers is.”

Daar was al ’n paar struggle-stories op die silwerdoek, maar Poppie vertel ’n storie vanuit die oogpunt van die ma van ’n aktivis. Daar is nog baie wat ons moet sê oor die las wat veral swart ma’s in die apartheidsera moes dra; daarom beskou ek hierdie fliek as ’n liefdesbrief aan die moeders van Suid-Afrika in die hede én verlede.
Christiaan Olwagen

Benewens Botha, kan Olwagen nie uitgepraat raak nie oor die aktrise Clementine Mosimane, wat die hoofrol vertolk.

“Dit was ’n match made in heaven,” sê hy. “Sy’s ’n ongelooflike aktrise en ’n ongelooflike mens. Professioneel, positief, steunpilaar. Sy was nie net ’n ma vir my nie – sy was ’n ma vir almal.”

Ná ’n lang oudisieproses het sy pad met dié van Mosimane gekruis.

“Ek het later begin dink, wat gaan ons doen? Hoe gaan ons iemand kry wat Afrikaans en Xhosa magtig is, wat die regte ouderdom is, ensovoorts, ensovoorts?

“En toe kry ons ’n oudisie-opname uit Johannesburg – en sy was net ongelooflik. Ek hoop om in die toekoms weer en weer saam met haar te werk.”

Olwagen sê Mosimane was “kardinaal deel van die projek” om Poppie se storie te vertel – ’n deel van ons geskiedenis wat nog “rou” is.

“Daar was al ’n paar struggle-stories op die silwerdoek, maar Poppie vertel ’n storie vanuit die oogpunt van die ma van ’n aktivis. Daar is nog baie wat ons moet sê oor die las wat veral swart ma’s in die apartheidsera moes dra; daarom beskou ek hierdie fliek as ’n liefdesbrief aan die moeders van Suid-Afrika in die hede én verlede.”

  • Poppie Nongena is om 21:00 op Vrydag 23 Augustus by Theatre on the Bay te sien. Bespreek by Computicket.
  • Die rolprent word op 31 Januarie 2020 landwyd uitgereik.
Meer oor:  Silwerskerm19  |  Elsa Joubert  |  Silwerskermfees  |  Fliek  |  Christiaan Olwagen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.