
Rolanda Marais en Albert Pretorius in ’n toneel uit die rolprentweergawe van Die seemeeu.
Met die nuus nog vars dat die regisseur Christiaan Olwagen se musiekdrama Kanarie vyf Safta-benoemings losgeslaan het en van Junie af in Amerikaanse rolprentteaters gaan wys, kom die nuus dat sy derde vollengterolprent, Die seemeeu, op 5 April hier in fliekteaters begin.
Meer as ’n 100 jaar nadat Anton Tsjechof, Rusland se grootste dramaturg, Die seemeeu geskryf het, het Olwagen dit vir die verhoog aangepas en dit in die 1990’s laat afspeel. Dit is ’n wegholsukses op kunstefeeste met onder andere Sandra Prinsloo, Marius Weyers en Albert Pretorius in die hoofrolle.
Nou het hy dit vir die silwerdoek aangepas.
Die fliek speel af op ’n familieplaas waar ’n uitgebreide gesin vergader. Getrou aan Tsjechof se inslag wroeg die karakters met die lewe en hulself. Irene (Prinsloo) is ’n teaterdiva, gewoond aan haar gloriedae op die verhoog, maar wat nou moet aanvaar dat sy nog net op kunstefeeste kan optree. Irene se sieklike ouer broer, Piet (Weyers), peins oor sy verspilde lewe en Konstant (Pretorius) soek net aandag en erkenning van sy ma.
Die ander karakters word vertolk deur Cintaine Schutte – wat verlede jaar ’n Silwerskermprys gewen het vir haar vertolking as die teneergedrukte Masha, Rolanda Marais, Gerben Kamper, Deon Lotz, Martelize Kolver, Geon Nel en Alyzzander Fourie.
Die rolprent is naby Hermanus in die Wes-Kaap verfilm. Die stelontwerp is deur Rocco Pool, die grimering deur Mari Conradie en die kostuums deur Mariechen Vosloo.
’n Voorskou van die fliwk word op 3 Maart in die Pulp-teater op Stellenbosch aangebied as deel van die US Woordfees en op 4 Maart by die Rapid Leon-rolprentfees in die Markteater in Johannesburg. By dié geleentheid neem Olwagen deel aan ’n gesprek oor transformasie in die rolprent- en teaterbedryf saam met die akteur John Kani.
Op 6 Maart om 10:30 is dit die fokus van ’n Woordfees-gesprek met die akademikus Andries Bezuidenhout wat Olwagen se rolprente Johnny is nie dood nie, Kanarie en Die seemeeu in die Pulp-teater bespreek. Op 9 Maart om 20:00, ook op die Woordfees, is daar ’n spesiale voorskou met ’n onthaal, waar lede van die geselskap teenwoordig sal wees.
Die rolprent se amptelike première is op 31 Maart in die Fugardteater in Kaapstad.
Kaartjies vir die Woordfeesprogram is by Computicket beskikbaar.