Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
KYK: ‘Opbeurende’ Cannes-fees vind weer plaas

Die 74ste Cannes-rolprentfees vind eindelik plaas nadat dit verlede jaar weens die koronaviruspandemie uitgestel is en vanjaar van Mei na 6 tot 17 Julie geskuif is in die hoop dat die Covid-19-maatreëls minder streng sou wees.

Alle besoekers moes nietemin tien dae in kwarantyn deurbring, insluitende die sterre vir wie die rooi tapyt met die opening op 6 Julie uitgerol is. Heelwat minder glansmense is uitgenooi as in vorige jare, maar “die gees is opbeurend omdat die rolprentwêreld weer byeen kan kom”, het die feesdirekteur, Thierry Fremaux, gesê.

* Die openingsprent is die Franse regisseur Leos Carax se lang verwagte Annette, ’n musiekprent wat in die kompetisie-afdeling meeding en een van dié wat deur resensente uitgesonder is.

Adam Driver vertolk ’n uittartende skerpskertser en die lieflike Franse aktrise Marion Cotillard ’n wêreldbekende sopraan. Hul lewe word omgekeer deur hul kind wat met ’n geheimsinnige gawe gebore is.

* Ook op die gesogte lys is die semi-outobiografiese drama Bergman Island oor ’n vreemde filmmaker (Vicky Krieps) wat saam met haar lewensmaat (Tim Roth) ’n skrywersreis na die Sweedse eiland onderneem waar die gevierde Ingmar Bergman sy flieks verfilm het. Die vraag is of die karakters fiktief is en of hul lewe vervleg is met werklike mense in die regisseur Mia Hansen-Løve se geheue.

* Drive my Car van Ryûsuke Hamaguchi lok hoë verwagtinge nadat dié regisseur se onlangse prent, Wheel of Fortune and Fantasy, as ’n meesterstuk bestempel is.

In Drive my Car aanvaar ’n bekende akteur ’n uitnodiging om Uncle Vanya in ’n teater in Hirosjima te regisseer in ’n poging om die hartseer oor sy vrou se dood twee jaar tevore te demp. Sy chauffeur in die Japanse stad is ’n pragtige en misterieuse vrou wat sy hart roer.

* Memoria, met die aktrise Tilda Swinton en Thaise regisseur Apitsjhatpong Weerasetakoel, gaan oor ’n vrou wat, terwyl sy deur Colombië se hoofstad, Bogotá, reis, uit die bloute deur die ontploffing-sindroom in haar kop getref word. Op die platteland neem die ontploffings dieper dimensies aan.

* Mothering Sunday is die Franse regisseur Eva Husson se filmweergawe van die gelyknamige roman deur Graham Swift. Die storie klink bekend: Die Eerste Wêreldoorlog is pas verby en ’n jong, aanvallige huiswerker is ná ’n lang verhouding verloof aan ’n plaaslike edelman, maar dinge is aan’t verbrokkel. Kenners meen Husson se talent voorspel ’n onverwagte wending in ’n verhaal wat op die oppervlak bekend blyk te wees.

Die ster-rolverdeling sluit in Odessa Young en Josh O’Connor as die verliefdes, asook Colin Firth, Olivia Colman en Sope Dirisu.

* Red Rocket van die regisseur Sean Baker fokus op die voormalige pornografiese ster Simon Rex wat terugkeer na sy tuisdorp in Texas, waar niemand regtig van sy teenwoordigheid gehou het nie.

Baker is bekend vir sy neorealistiese benadering en onkonvensionele karakters soos dié in Prince of Broadway, Tangerine en The Florida Project.

Op grond hiervan word ’n opwindende fliekervaring deur die Rex-karakter voorspel.

  • Saamgestel deur Elretha Britz uit bronne indiewire.com, wikipedia.org, festival-cannes.com, dw.com.
Meer oor:  Marion Cotillard  |  Adam Driver  |  Covid-19-Pandemie  |  Pandemie  |  Inperking  |  Staat Van Inperking  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Koronavirus  |  Fliek  |  Cannes  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.