Ordinary Love
Romantiese drama
*

Liam Neeson en Lesley Manville in ’n toneel uit Ordinary Love.
Dié fliek is beslis wat die titel beloof – ordinêr. Ek verstaan eintlik glad nie die attraksie van flieks soos hierdie nie, behalwe miskien Liam Neeson. Dit is nou as jy ’n groot aanhanger is (ek verkies hom enige dag in ’n skop-en-skiet-moewie soos Taken).
Tom (Neeson) en sy vrou, Joan (Lesley Manville), is ’n doodgewone middeljarige paartjie, totdat Joan een dag ’n knop in haar linkerbors ontdek. So begin ’n wipwarit van onsekerheid, doktersbesoeke en siekte, alles teen die agtergrond van ’n mistroostige grys stad (ek dink dit is Belfast in Ierland, maar dit word nooit duidelik gemaak nie) en ’n vorige verlies waardeur die paartjie moes worstel.
Hoe dit ook al sy, die fokus van die fliek is Tom en Joan se verhouding en hoe hulle die kankermonster gaan aandurf. Hulle kommunikeer deur ’n aanhoudende gekibbelry, wat aan die begin getemper word deur opsigtelike geneentheid, maar soos die fliek vorder, word dit al hoe meer geniepsig. Neeson is uitstekend as die verslae man wat hom nie sy lewe kan indink sonder sy vrou nie, terwyl Manville toepaslik tragies is as ’n vrou wie se lewe deur die groot K omvergewerp word.
In ’n neutedop, Ordinary Love se temas van kanker, die dood en verlies sorg nie vir ligte, romantiese kykgenot saam met jou geliefde nie (veral nie op Valentynsdag nie).
As jy voel dat jy die afgelope ruk dalk té veel geglimlag het of geteister is deur ’n gevoel van genoegdoening en geluk, gaan kyk Ordinary Love.
Jy sal hartseer en met ’n gevoel van verslaenheid by die teater uitloop . . .
Met o.a. Liam Neeson en Lesley Manville. Tydsduur: 92 minute. Ouderdomsperk: 13 OL.