Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Oscar wink beslis vir Zhao

Alle oë is op Chloé Zhao, rolprentvervaardiger, draaiboekskrywer en regisseur, om die Oscar as beste regisseur te wen vir haar rolprent, Nomadland. Sy kan vanjaar die eerste Asiatiese vrou, asook die eerste vrou van kleur word om die gesogte verering.

“Dis hoog tyd. Geluk Chloé,” het Barbra Streisand getwiet nadat Chloé Zhao (38), rolprentvervaardiger, regisseur en vervaardiger, die Golden Globe vir beste regisseur gewen het vir haar rolprent Nomadland – net die tweede vrou, ná Streisand, wat dié eer te beurt geval het. Streisand het die Golden Globe in 1984 vir die rolprent Yentl gewen.

Chloé, ’n Chinese immigrant in Amerika, maak ook geskiedenis as die eerste Asiatiese vrou om die Golden Globe-prys te kry en daar word verwag dat sy op 25 April die Oscar hiervoor kan losslaan. Sy is ook die eerste vrou van kleur wat vir dié Oscar benoem is.

Trouens, teen middel Februarie het sy al 34 pryse vir regie, 13 vir die draaiboek en nege vir redigering van dié rolprent gewen.

Nomadland handel oor Fern, (Frances McDormand), ’n vrou in haar sestigs, wat in die groot Amerikaanse resessie alles verloor en met haar paneelwa deur Arizona, Nebraska, Nevada, Kalifornië en Suid-Dakota reis. Sy doen los werkies waar dit ook al beskikbaar is en bly in haar paneelwa. Die rolprent word as ’n neo-westerse drama beskryf en is gegrond op die niefiksieboek Nomadland: Surviving America in the Twenty-First Century, van die joernalis Jessica Bruder. Interessant genoeg maak Chloé gebruik van professionele akteurs, gewone mense, ware nomade, wat ’n outentieke tekstuur in haar rolprent skep.

Chloé Zhao ryg die pryse in met haar rolprent ‘Nomadland’. Sy is die regisseur, draaiboekskrywer en medevervaardiger.

Chloé het vroeg in haar loopbaan besef sy moet liefs uit New York na die Amerikaanse weskus uitwyk om rolprente te maak – met die fokus van haar stories op die “underdog” en as poging om dinge beter te maak.

Reeds met haar debuut, Songs My Brothers Taught Me, fokus sy op die arm gemeenskap van die Pine Ridge Indiane-reservaat in Suid-Dakota en takel sy moeilike temas soos geweld, gesinsverhoudings en alkoholmisbruik. Vir dié rolprent het sy baie navorsing onder die plaaslike gemeenskap gedoen en ook ’n kombinasie van akteurs en gewone mense gebruik om die storie so outentiek as moontlik oor te dra. Hiervoor het sy in 2015 ’n benoeming by die Cannes-rolprentfees ontvang vir die beste debuut.

Maar dit is egter The Rider (’n tipe cowboy-fliek), wat gesorg het dat McDormand haar nader getrek het vir die Nomadland-projek, waarvan sy benewens die hoofspeler ook die vervaardiger is. Terloops, Barak Obama het The Rider op sy jaarlikse lys van moet-sien rolprente gesit.

Oor The Rider het McDormand gesê: “Binne die eerste paar raampies is ek weggevoer na ’n ander wêreld. Dít is die soort stories wat ek ook wil vertel.” Sy het dit op die internasionale rolprentfees in Toronto gesien waar Three Billboards Outside Ebbing, Missouri ook vertoon is waarvoor McDormand in 2017 die Oscar vir beste aktrise gekry het.

Lang storie kort, die twee het mekaar ontmoet en ’n meesterstuk gemaak.

Terug na Zhao. In onderhoude het sy gesê jy hoef nie meesterlik in enigiets te wees as jy ’n goeie regisseur is nie, net ’n “Jack of all trades”. Sy glo dit is wat sy is.

Die Brits-gebore kinematograaf Joshua James Richards, haar geliefde en rolprentvennoot, het al drie rolprente van haar verfilm. Hulle woon in die Topatopa-berge buite Los Angeles met hul twee honde en ’n paar hoenders in ’n huis vanwaar hulle oor lemoenboorde uitkyk.

Zhao en McDormand het in mediaonderhoude erken dit was lekker om saam te werk, danksy ’n gedeelde visie. Laasgenoemde het trouens aan Deadline Hollywood, ’n vermaaklikheidswebtuiste, oor hul gesamentlike projek gesê hulle kon vinnig beweeg en improviseer waar nodig, asook deel word van die “karavaangemeenskap” sonder om in te dring, en het só meer insig in dié wêreld gekry.

Frances McDormand vertolk die hoofrol in ‘Nomadland’ en was ook deel van die vervaardiging daarvan.

Zhao se agtergrond is self ietwat nomadies. Sy is in 1982 in Beijing gebore in ’n bevoorregte huisgesin, maar was rebels op skool en erken sy was ’n lui leerling. Sy was mal oor manga (Japannese strokies en grafiese romans), Michael Jackson, en die rolprente van Wong Kar-wai, soos Happy Together. Haar ouers is later geskei.

Sy kon nie wag om die Weste te gaan verken nie en is op 14 na ’n soort “Hogwarts-kosskool” (soos sy spot) in Londen, hoewel sy bykans geen Engels kon praat nie.

Op 18 is sy na ’n hoërskool in Los Angeles. Aanvanklik het sy belang gestel in politieke wetenskap en het ’n kursus van vier jaar aan Mount Holyoke College in Massachusetts voltooi. Ná ’n paar jaar se “niksdoen” in New York waar sy bietjie kelnerin gespeel het en ander los werkies gedoen het, het sy besef sy moet iets met haar lewe doen.

Só beland sy by die New York University Tisch School of the Arts en volg ’n graad in rolprentkunde. Later sou sy in onderhoude erken heelparty van haar medestudente het, nes sy, ’n kwarteeu-krisis beleef en het om dié rede daar beland.

Nou is sy méér as gefokus.

Haar volgende projek is ’n $200 miljoen lokettreffer, die superheld-rolprent The Eternals, wat in November vanjaar wêreldwyd uitgereik word. Angelina Jolie en Salma Hayek is in die hoofrolle. Dit gaan oor onsterflike wesens wat die geskiedenis van die aarde en sy beskawings gevorm het en is gegrond op die gelyknamige boek deur Jack Kirby. Dan werk sy ook aan ’n wetenskapsfiksie-western wat losweg op die verhaal van die bloedsuier Dracula gegrond is.

Sy het aan Vanity Fair gesê die feit dat sy nou groot rolprente maak, beteken nie dat sy nie meer kleiner rolprente soos The Rider gaan maak nie. “As die regte storie na vore kom, sal ek beslis. Eenhonderd persent.”

Aanvullende bronne: Wikipedia; Vulture, The Hollywood Reporter en die BBC.

Meer oor:  Oscar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.