Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Oscars gee vanjaar 2 humanitêre pryse

Die eerste keer in die byna 100 jaar van die Oscars se bestaan sal twee Jean Hersholt- humanitêre pryse oorhandig word en nie net een nie. Daarby word die tradisie verder verbreek deur die prys ook vir die eerste keer aan ’n organisasie toe te ken.

GOLETA, CA - DECEMBER 06: Actor Tyler Perry atten
Tyler Perry. Foto: Getty Images

Die Motion Picture & Television Fund (MPTF) word beloon vir sy “buitengewone groothartigheid” teenoor talle mense en gesinne in die pandemietyd en oor die afgelope nege dekades, sê David Rubin, president van die Akademie.

Erkenning word ook gegee aan Tyler Perry, ’n vervaardiger, regisseur, akteur, skrywer, entrepreneur en filantroop, wat die afgelope jaar maatskaplike geregtigheid oor ’n wye front laat geskied het. Sy bydraes het ’n groot verskil in die lewe van talle mense gemaak, sê Rubin.

Perry het ’n private rolprentateljee met 12 klankverhoë in Atlanta, Georgia, op die been gebring en bied sodoende werk aan honderde mense in rolprent- en televisieproduksies. Hy het ook ’n plan gemaak om vroeg in die pandemietyd al op ’n veilige manier aan produksies te kan werk.

Van die rolprente op Perry se kerfstok is A Fall from Grace, Acrimony, Madea Goes to Jail en Diary of a Mad Black Woman. Sy bydraes vir televisie sluit in The Haves and the Have Nots, The Oval en House of Payne.

Hy het ook talle toneelstukke vir die verhoog geskryf.

“Perry se kulturele invloed strek ver verby sy werk as rolprentmaker. Hy fokus reeds van die begin van sy loopbaan op humanitêre kwessies en sien om na mense wat dikwels geïgnoreer word,” sê Rubin.

Die MPTF bied emosionele en finansiële verligting aan lede van die vermaakbedryf en het in 2020 ondersteuning aan sowat 9 000 lede gegee.

Jean Hersholt, na wie die Akademie se humanitêre prys genoem is, was van 1938 tot 1956 president van die MPT-fonds.

Perry en die MPTF sal hul Oscar-beeldjies vanjaar tydens die Oscars-oorhandigingseremonie kry.

Oscar-seremonie vanjaar

Dis nog nie ’n uitgemaakte saak watter formaat die 93ste oorhandigingseremonie van die Oscars op 25 April sal aanneem nie, maar dit is feitlik seker dit sal ’n hibriede geleentheid wees.

Volgens die Akademie sal die Dolby-teater, die tuiste van die Oscars, vanjaar nie stampvol gepak wees met rolprentsterre en -makers nie.

“Miskien sal die benoemdes wat reeds teen Covid-19 ingeënt is, in die ouditorium in Los Angeles wees. Ander sal in satellietlokale elders wees en van hulle alleen tuis of in rolprentateljees met uitsaaitegnologie,” sê Rubin.

“Aangesien talle pryse in die rolprentbedryf in aanloop tot die Oscars oorhandig word, onder meer die gewilde Golden Globes op 28 Februarie, sal ons dié geleenthede kan dophou om te sien watter formaat vir ons werk.”

Die geleentheid sal wel soos voorheen op Amerikaanse TV gebeeldsend word en ook regstreeks na sowat 225 lande.

Vanjaar se aanbieders is Jesse Collins, Stacey Sher en die vermaarde rolprentmaker Steven Soderbergh.

Collins het al talle prysuitdelingseremonies vervaardig, insluitende die Grammys. Sher is as vervaardiger vir beste rolprent benoem vir Django Unchained (2012) en Erin Brockovich (2000), en Soderbergh was die wenner van die Oscar vir beste regie vir Traffic in 2000. Hy het in drie dekades meer as 30 rolprente die lig laat sien, onder meer die Oceans-reeks, Good Night, and Good Luck (2005), Contagion (2011), Citizenfour (2014) en The Report (2019).

– Saamgestel deur Elretha Britz met bykomende bronne: variety.com, oscars.org en cinemablend.com

Meer oor:  The Oval  |  Contagion  |  Grammy  |  Grammys  |  Traffic  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Inperking  |  Koronavirus  |  Pandemie  |  Staat Van Inperking  |  Covid-19-Pandemie  |  Academy Awards  |  Oscars  |  Fliek  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.