Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Oscars-oorsig: Goud vir SA, ‘Nomadland’

Charlize Theron het dit in 2004 vermag, toe doen die Suid-Afrikaanse misdaaddrama Tsotsi dit in 2006 weer.

Pippa Ehrlich en James Reed, regisseurs van ‘My Octopus Teacher’, bring hul Oscars huis toe! Foto: Getty Images

Nou, 15 jaar later, laat ’n Oscar-oomblik Suid-Afrikaners landwyd weer bars van trots nadat die plaaslike dokumentêr My Octopus Teacher vroeg Maandagoggend (SA tyd) met ’n Oscar-beeldjie bekroon is.

Die dokumentêr, wat die “liefdesverhaal” tussen die rolprentmaker Craig Foster en ’n seekat in Valsbaai se waters vertel, het die groot kanonne Collective, Crip Camp, The Mole Agent en Time kant toe gevee en vermoedelik die eerste dokumentêr vanuit Afrika geword wat in die kategorie beste vollengte dokumentêr met Oscar-goud bekroon word.

“Dankie aan die Akademie,” het die regisseur Pippa Ehrlich oorbluf gesê toe sy en die regisseur James Reed hul Oscars vir die rolprent in Los Angeles in ontvangs neem.

“Ek wil Craig Foster en sy gesin bedank, wat hul harte vir ons oopgemaak het, wat ons gesteun het, wat ons gevoer het en ons toegelaat het om hul huis vir drie jaar in ’n vervaardigingsmaatskappy te omskep.”

Ehrlich en Reed neem die Oscar vir beste vollengte dokumentêr in Union Station, Los Angeles, in ontvangs. Foto: Getty Images

Ehrlich het onder meer Off The Fence, hul produksievennoot in Nederland, asook Netflix, die kinematograaf Roger Horrocks en die Sea Change Project, wat hulle onder meer toespits op die bewaring van die Groot Afrika-seewoud, vir hul leeueaandeel in die rolprent bedank.

“Ek weet daar is seker baie Suid-Afrikaners wat tans wakker is en die seremonie kyk. Hierdie storie is op talle vlakke ’n persoonlike storie wat in ’n seewoud aan die onderpunt van Afrika afspeel, maar op ’n meer universele vlak gee dit ons ’n kykie na ’n ander tipe verhouding tussen die mens en die natuur.”

Ehrlich en Reed het hul Oscars ontvang in Union Station, waar vanjaar se Oscar-toekenningsplegtigheid plaasgevind het. Die Oscars sal eers volgende jaar na sy tuiste, die Dolby-teater, terugkeer.

Terwyl benoemdes rondom klein tafeltjies in ’n vleuel van die treinstasie saamgedrom het, het die seremonie ondanks streng Covid-19-protokol vlot verloop – en die Oscars is taamlik gelykop verdeel.

Die drama Nomadland is met drie Oscars die aand se “grootste” wenner. Chloé Zhao het die prys vir beste rolprent en beste regisseur gewen en daarmee slegs die tweede vrou naas Kathryn Bigelow (vir The Hurt Locker in 2009) geword wat as beste regisseur bekroon word.

Zhao het die prys vir beste rolprent met die aktrise en vervaardiger Frances McDormand gedeel, wat ook vir haar hoofrol met die Oscar vir beste aktrise bekroon is. McDormand het haar met dié prys by ses akteurs aangesluit wat in die geskiedenis van die Oscars drie of meer beeldjies vir toneelspel kon wen – en sy is saam met Katharine Hepburn en Daniel Day-Lewis die enigstes wat al hul Oscars vir hoofrolle ontvang het.

“Ek het nie woorde nie,” het McDormand in ’n kort toespraak gesê.

“My stem is in my swaard. Ons weet die swaard is ons werk – en ek hou van werk. Dankie dat julle dit weet en dankie hiervoor.”

Die span van ‘Nomadland’ met hul Oscars vir beste rolprent. Frances McDormand (tweede van links) en Chloé Zhao (middel) het elk ’n bykomende Oscar vir onderskeidelik beste aktrise en beste regisseur gewen. Foto: Getty Images

Ses ander rolprente – Judas and the Black Messiah, Mank, Ma Rainey’s Black Bottom, Soul, Sound of Metal en The Father – het elk twee Oscar-pryse losgeslaan.

Die enigste opspraakwekkende wenner is die prys vir beste akteur aan Anthony Hopkins vir sy vertolking van ’n demensielyer in The Father. Beroepswedders en kritici het hul kop op ’n blok gesit dat die ontslape Chadwick Boseman, wat verlede jaar aan kolonkanker dood is, dié prys postuum vir sy trefferspel in Ma Rainey’s Black Bottom sou ontvang. Hopkins (83), die oudste akteur tot nog toe wat die Oscar vir beste akteur wen, het waarskynlik ook so gedink en het nie die toekenningsplegtigheid in Los Angeles bygewoon of vanuit Engeland daarvoor ingeskakel nie.

Hier is die volledige wennerslys in die volgorde soos dit aangekondig is:

  • Beste oorspronklike draaiboek: Emerald Fennell (Promising Young Woman)
  • Beste verwerkte draaiboek: Christopher Hampton en Florian Zeller (The Father)
  • Beste internasionale rolprent: Another Round (Denemarke)
  • Beste byspeler: Daniel Kaluuya (Judas and the Black Messiah)
  • Beste grimering en haarstilering: Sergio Lopez-Rivera, Mia Neal en Jamika Wilson (Ma Rainey’s Black Bottom)
  • Beste kostuumontwerp: Ann Roth (Ma Rainey’s Black Bottom)
  • Beste regisseur: Chloé Zhao (Nomadland)
  • Beste klank: Jaime Baksht, Nicolas Becker, Philip Bladh, Carlos Cortés en Michelle Couttolenc (Sound of Metal)
  • Beste kortprent: Two Distant Strangers
  • Beste kortprent (animasie): If Anything Happens I Love You
  • Beste animasierolprent: Soul
  • Beste dokumentêr (kortprent): Colette
  • Beste dokumentêr (vollengte): My Octopus Teacher
  • Beste visuele effekte: Scott R. Fisher, Andrew Jackson, David Lee en Andrew Lockley (Tenet)
  • Beste byspeelster: Youn Yuh-jung (Minari)
  • Beste produksie-ontwerp: Donald Graham Burt en Jan Pascale (Mank)
  • Beste kinematografie: Erik Messerschmidt (Mank)
  • Beste redigering: Mikkel E.G. Nielsen (Sound of Metal)
  • Beste oorspronklike klankbaan: Trent Reznor, Atticus Ross en Jon Batiste (Soul)
  • Beste oorspronklike liedjie: D’Mile, H.E.R. en Tiara Thomas vir “Fight for You” (Judas and the Black Messiah)
  • Beste rolprent: Nomadland
  • Beste aktrise: Frances McDormand (Nomadland)
  • Beste akteur: Anthony Hopkins (The Father)

Die Oscars-toekenningsplegtigheid word Maandag om 22:30 op DStv-kanaal 101 herhaal. My Octopus Teacher kan in Suid-Afrika op Netflix gekyk word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.