Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Oscars se reëls vir volgende jaar aangepas

Die raad van die Academy of Motion Picture Arts and Sciences (Ampas), wat jaarliks die Oscars uitdeel, het met die oog op volgende jaar se toekennings weer aan sy bestaande reëls en regulasies getorring.

Die gesogste rolprentprys ter wêreld, die Oscar-beeldjie. Foto: Getty Images

Ampas het verlede jaar weens die Covid-19-pandemie omvattende veranderinge aangekondig om rolprentmakers en -vervaardigers te akkommodeer. Rolprente wat op stromingsdienste gedebuteer het, is byvoorbeeld ook toegelaat om vir die Oscars in te skryf. Daarby is die jaarlikse sperdatum vir wanneer rolprente moet debuteer, van 31 Desember tot 28 Februarie geskuif.

Rolprente wat op stromingsdienste debuteer, sal steeds volgende jaar ingeskryf kan word, terwyl slegs rolprente wat in teaters in ses spesifieke gebiede in Amerika wys, in aanmerking vir Oscars mag kom.

Luidens ’n mediaverklaring hoop Ampas om vir die toekenningsplegtigheid in 2023 premières in rolprentteaters in meer gebiede toe te laat – wat moontlik daarop dui dat hulle dalk die groen lig vir rolprente op stromingsdienste in die toekoms kan hersien of selfs kan terugtrek.

Die volgende reëls geld voortaan ook:

  • Die sperdatum van 31 Desember is weer ingestel. Rolprente – ook dié in Suid-Afrika wat in die kategorie beste internasionale rolprent wil meeding – moet voor 31 Desember in ’n rolprentteater wys of op ’n stromingsdiens debuteer.
  • Ampas het besluit dat hy van volgende jaar af beslis tien rolprente in die kategorie beste rolprent sal benoem. Hy kon voorheen enigiets van vyf tot tien benoem het.
  • Ampas het vanjaar vir die eerste keer 15 rolprente op die langlys in die kategorie beste internasionale rolprent toegelaat – en het besluit om dié reël vas te maak.
  • Die langlys in die kategorieë beste kortprent (dokumentêr), beste kortprent (animasie) en beste kortprent is ook van tien tot 15 verleng.
  • In die kategorie beste klank sal voortaan ’n langlys van tien rolprente opgestel word.
  • ’n Rolprent kon voorheen slegs in die kategorie beste klankbaan meeding as 60% van die klankbaan uit nuwe, oorspronklike musiek bestaan het. Dit is nou tot 35% verlaag.
  • In die kategorie beste liedjie kan geen rolprent meer as vyf liedjies inskryf nie.

Ampas het ook die sweep geklap oor sogenaamde stemwerwing – die strategieë wat vervaardigers toepas om Ampas-lede se guns en eindelik hul stem te wen. ’n Dokument van nege bladsye, wat alles van uitnodigings vir etes tot kommunikasie met Ampas-lede reguleer, is ook gepubliseer.

Die 94ste Oscars-toekenningsplegtigheid vind volgende jaar op 27 Maart plaas nadat dit vanjaar weens die pandemie ietwat later op 25 April aangebied is.

Dit sal volgende jaar na die Dolby-teater terugkeer nadat die Oscar-beeldjies vanjaar ook weens die pandemie in Union Station uitgedeel is.

Besoek www.oscars.org/rules vir meer besonderhede. – Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

Meer oor:  Dolby-Teater  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Pandemie  |  Inperking  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Flieks  |  Oscars  |  Fliek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.