Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Silverskerm:
Ou Errol Flynn draai in sy graf om

Robin Hood met Taron Egerton, Jamie Foxx en Ben Mendelsohn.

Regisseur: Otto Bathurst * 16

Kom nou. Dis tog maklik, dog pynlik om te onthou, en ons is almal al daardeur. ’n Vriend of vriendin maak ’n amateurvideo (sekerlik vir YouTube bestem!) van hul onlangse seevakansie. Of van die kinders, immer gereed vir ’n selfoon-selfie, wat modderkoekies bak en mekaar al popelend vir ’n onstabiele kamera daarmee peper. Of jy moes al deur kinderkonserte geworstel het waar pikkies met onsekere gesiggies die woorde van ’n Kersliedjie probeer onthou en ’n desperate poging aanwend om nie van die verhoog af te val nie. Ook om in fokus vir ouerlike selfone te bly. En jy moet natuurlik ’n staande toejuiging aan die einde gee. Dis nou maar die lewe!

Dit is hoe die jongste, en moontlik swakste weergawe ooit, van die Robin Hood-legende voel. Errol Flynn, die bekendste Robin Hood, draai in sy graf om. En daardie harde knal wat jy hoor, is Kevin Costner wat van sy rolprentstoel afgeval het terwyl hy na hierdie ontploffende koekstruif deur Otto Bathurst gekyk het. Swak was nog nooit swakker nie, en 2019 begin sommer op ’n oinkie-tjoing-noot wat dawerend deur teaters weerklink.

Hierdie skoolkonsert van ’n rolprent het die kat aan die stert beet. Dit is ’n blote opeenstapeling van wilde aksietonele. Wanneer karakterisering faal en daar omtrent soveel sjarme soos in ’n katspoegie is, wanneer spel die akteurs in die steek laat en wanneer ’n draaiboek net uitroeptekens het agter die woord “hardloop!!” weet jy: Jy het jou geld gemors. Dis soos vla in ’n tuimel­droër.

Dit is gemaak vir die selfoon­geslag wat op leë aksiekaperjolle grootgeword het, wat altyd vinnig vorentoe spoed deur rolprente wanneer hulle dit op DVD kyk en wat nie langer as drie sekondes op dieselfde skoot kan konsentreer nie. Juis daarom stel hierdie poging so ’n swak voorbeeld wat jou laat naar voel van oordadige bewegings-dronkheid.

Dit verbluf fliekgangers en herbevestig die hamburger-sindroom: As jy net vir mense kits-hamburgers en harde slaptjips gee, is dit al wat hulle uiteindelik sal wil hê. Dieselfde eentonige deuntjie, dieselfde storie vol bokspronge en pyle wat die helde telkens mis, asook honderde mense wat sidderend spesiaal vir die kamera sterf. Daar is nie ’n slak-streep se realisme in nie.

Dit spog ook met ’n misplaaste rolverdeling. Alhoewel Taron Egerton skynbaar uitstekend in die nuwe Elton John-rolprent Rocketman speel, en hy ’n jong James Bond bekwaam nageboots het in die Kingsman-reeks, is hy blatant ongemaklik en sonder charisma (en het geweier om tights te dra, stel jou voor!) as die man wat van die rykes steel en aan die armes gee. En omdat die vervaardigers anders probeer wees het, het selfs daardie storie ’n ander kinkel.

Ben Mendelsohn is so tong-troetelend selfbewus oor die warm aartappel in sy mond, dat ’n mens gedurig terugverlang na die beste sheriff van Nottingham: Alan Rickman. Mendelsohn se vertolking is so swak, dit val nie eens in Rickman se skaduwee nie. Maar die grootste fout was Eve Hewson as die vrome Maid Marian. Praat van bewus wees van ’n kamera met ’n vertoning so eentonig, jy neem ’n katslapie as sy op die skerm verskyn – en die rolprent val weer eens dawerend van die wa af.

En Jamie Foxx! Die ene kwinkslae en wysneus-dialoog (nie sy skuld nie) wat hy met oortuiging probeer uitbasuin. Die rolprent is soos ’n melktert vol van die verkeerde bestanddele. Jy byt in die bitterbessies, knoffelhuisies en meelbomme tot jou tande daarvan breek.

Indien jy een keer elke vyf jaar in ’n teater kom, is jy dalk tevrede met hierdie oormaat van ontwerper-aksie en oordadige komedie. Mense wat aksiefoendies is, sal egter binne vyf minute deur hierdie koekstruif van ’n oordadigheid sien.

Maar die beste bêre ons vir laaste. Fifty Shades of Grey se Jamie Dornan (met sy broek aan) speel Will Scarlet. Hy het ’n metroseksuele baardjie en modieuse haarjel. Kyk hoe ooglopend verveeld hy sy rol speel.

Robin Hood moet liewer ’n ander hoedjie opsit en sy kop in skaamte laat hang. Want Otto Bathurst sit die pot so ver mis, hy tuimel in die afgrond af.

Nuwe flieks:

DUMPLIN’ ****

En jy het gedink Jennifer Aniston is net mooi-gesiggie-Rachel in Friends. Hier speel sy die ma van ’n dogter (’n puik Danielle Macdonald), wat besluit om aan ’n skoonheidskompetisie deel te neem. Dié kritiek op skoonheidswedstryde, asook die huldeblyk aan meisie-moed en die bondgenootskap tussen ’n onwillige ma en vooruitstrewende dogter, is ’n inspirerende manier om 2019 te begin. Dit is snaaks, maar ook menslik en alte bekend as jy met puisies, ’n swak selfbeeld, en boelies met uurglaslyfies sukkel.

BLINDSPOTTING ****

Oppas! Rooi ligte! Die vier sterre beskryf die gehalte van dié ongewone drama met kru, gemotiveerde taalgebruik en uiterste geweld. Dit wys ’n tronkvoël wat op parool is (’n bedaarde en gekontroleerde Daveed Diggs), en sy verhouding met sy onstabiele macho-vriend (Rafael Casal). Dit wys dat om op die regte paadjie te bly, en uit die bevooroordeelde polisie se pad, nie met rose besaai is nie. Uitmuntende spel en ’n slim draaiboek maak hierdie fliek tydig, realisties en knap.

Meer oor:  Fliek  |  Fliekresensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.