The Mule
Misdaad
***

Clint Eastwood as Earl Stone in The Mule.
Clint Eastwood is die verpersoonliking van “oud maar nie koud nie”. Dié veteraan-akteur en regisseur (hy word vanjaar 89) beïndruk in sy rol as Earl Stone in The Mule, en dan het hy nog in die regisseurstoel ook gesit vir dié fliek.
The Mule is gebaseer op ’n artikel deur Sam Dolnick in The New York Times met die titel “The Sinaloa Cartel’s 90-Year-Old Drug Mule”, wat die ware verhaal vertel van ene Leo Sharp, ’n veteraan van die Tweede Wêreldoorlog wat op sy rype ouderdom ’n dwelmkoerier vir die Sinaloa-kartel geword het.
In die fliek is Stone ’n kweker van daglelies en hy is so obsessief daaroor dat hy sy gesin totaal afskeep totdat hulle niks meer van hom wil weet nie.
Dinge loop finansieel skeef vir Stone en skielik is hy werk- en haweloos. Al wat hy het, is sy geroesde ou Ford-bakkie, en ’n talent vir veilig bestuur.
Hy raak betrokke by ’n Meksikaanse dwelmkartel en begin (aanvanklik) onwetend vir hulle sakke vol dwelms van een staat na ’n ander karwei. In ruil daarvoor word hy met koeverte vol kontant betaal. Hy is die perfekte koerier, want wie gaan ’n ou wit man in ’n bakkie verdink?
Intussen is die DEA-agent Colin Bates (Bradley Cooper) op die spoor van die kartel en hul koeriers en dit is ’n feit dat sy pad een of ander tyd met dié van Stone gaan kruis.
The Mule is nie ’n fliek propvol aksie nie; dit is eerder vol spannende nuanses want die wêreld waarin Stone beweeg, is vol gevaarlike mense en geweld kan enige tyd uitbars.
Dinge loop finansieel skeef vir Stone en skielik is hy werk- en haweloos. Al wat hy het, is sy geroesde ou Ford-bakkie, en ’n talent vir veilig bestuur.
Eastwood is uitstekend as ’n man wat regtig oud en afgeleef voorkom, maar dit allermins is. Al die ander akteurs speel tweede viool (selfs groot name soos Andy Garcia en Laurence Fishburne), maar Cooper is soos altyd indrukwekkend.
En, as jy hou van countrymusiek, bly sit aan die einde van die fliek vir die treffende “Don’t Let the Old Man In” deur Toby Keith.
The Mule wys ’n mens is nooit te oud vir enigiets nie, en dit is nooit te laat nie, of dit nou is om hartsdinge met jou naastes reg te maak, of om ’n nuwe loopbaan te begin . . .
Met o.a. Clint Eastwood, Bradley Cooper en Laurence Fishburne. Regie: Clint Eastwood. Tydsduur: 116 minute. Ouderdomsperk: 16