Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Silverskerm:
Outydse en soepel storie met waardes

The Guernsey Literary and Potato Peel Pie Societymet Lily James en Matthew Goode.

Regisseur: ­Mike Newell

***

Soms is die vlastroompie na jou hart nie ’n fliek waarin Tom Cruise met sy tandepastaglimlag oor ’n afgrond hang met daardie verwaande “oe, ek is darem mooi”-grynslag nie.

Of Dwayne Johnson wat ongedeerd van gebou tot brandende gebou spring nie.

Soms is die mees besielende ervarings daardie introvert-rolprente met ’n titel wat soos ’n warm aartappel in jou mond bokspring, en lyk na ’n doodgewone storie sonder spesiale effekte of superhelde wat met wapperende mantels deur die heelal sweef.

In The Guernsey Literary and Potato Peel Pie Society is dit juis hierdie respekvolle intimiteit en deernis wat tref en die rolprent teen melodrama beskerm.

Jy gaan sit, ontlont jou geteisterde breinselle wat deur Marvel-superheld-springmielie-sages in ’n verstopte drein gedruk is, en dínk en besin terwyl jy fliek.

En dit is wat van hierdie rolprent met die byna onuitspreeklike titel so ’n genot maak: sy intelligensie, stewige draaiboek en doodgewone storie wat so onderhoudend aangebied word.

Die waarheid is egter nog interessanter as die (gedeeltelik) fiktiewe storie, en mense wat die roman ken, sal die fliek nog meer waardeer.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het Mary Ann Shaffer ’n roman geskryf oor wat destyds in Normandië gebeur het. ’n Groep Britte het ’n aandklokreël oortree en is toe voorgekeer deur die Duitsers wat die Kanaaleilande daardie jare beset het. Om te verhoed dat hulle in hegtenis geneem word, het hulle ’n fiktiewe boekklub, The Guernsey Literary and Potato Peel Pie Society opgetower waarheen hulle glo op pad was vir hul gereelde Vrydagaandvergaderings. Op dié manier het hulle inhegtenisneming vrygespring.

Iets wat jou laat dink, jou laat wonder oor die innerlike goedheid van die mens waaroor Anne Frank geskryf het, en jou verryk.

Die boekklub het toe ’n gewoonte geword om die hel van die besetting vry te spring, maar daar was ’n kinkel in die kabel in die vorm van Elizabeth McKenna (uitstekend gespeel deur Jessica Brown Findlay) wat verdwyn het. Wat het van haar geword?

’n Skryfster van prulverhale, Juliet Ashton (’n onberispelike
Lily James), word ná die oorlog deur ’n lid van die aartappel-brigade gekontak om hul storie te skryf. Maar, kom Juliet toe agter, daar is sommige verhale waarvan die waarheid nooit volledig vertel moet word nie.

Shaffer het toe ’n roman geskryf gegrond op die gebeure. Dit is verskeie kere deur ’n uitgewer teruggestuur, en sy moes dit herverwerk. Sy het egter die roman nooit voltooi nie, en ná haar dood is dit deur haar niggie Anne Burrows klaargemaak. Dit is eers in 2008 gepubliseer en het toe een van daardie moet-lees-boeke geword wat nie deur Tom Clancy of Stephen King geskryf is nie. Die rolprent is ’n klein huldeblyk daaraan.

Wat tref is die fyn, afgewerkte regie waarin elke toneel met groot sorg geregisseer is. Ook die charismatiese karakters wat sensitief afgerond en duidelik omlyn is, en ’n storie wat netjies beplan en gekonstrueer is. Die room van Britse akteurs (baie van hulle van die TV-reeks Downton Abbey soos die altyd betroubare Penelope Wilton) gee gestalte aan karakters wat vlees-en-bloed-mense word. Maar dit is die talentvolle James wat die paprika oor die aartappelpastei strooi. Vergelyk haar jolige danskaperjolle in die Mamma Mia!-fliek met haar sensitiewe spel in Guernsey. Sy is ’n fees.

Waardering ook aan Michiel Huisman wat ’n macho, dog sensitiewe boer vertolk wat haar aandag trek.

’n Storie kan dus aandag trek en mense betower sonder dat derduisende in die naam van vermaak al bloedspattend sterf.

Dit voel eintlik soos daardie besoeke aan jou grootouers se plaashuis (destyds sonder elektriese omheinings en helikopters) toe jy nog ’n kind was. ’n Mens waardeer eers daardie eenvoud, pasteie en liefde wanneer jy self ouer is. En dit is soortgelyke nostalgiese, liefdevolle herinneringe wat die rolprent terugroep.

Daarom: In ’n naweek waarin groot flieks open waarvan ’n mens net ná jou geboorte al bewus geraak het vanweë oorweldigende reklameveldtogte (soos die haai-sage The Meg), sou dit jou die moeite loon om die kinders by die animasiefliek Charming af te laai en na ’n soepel rolprent met waardes te gaan kyk.

Iets wat jou laat dink, jou laat wonder oor die innerlike goedheid van die mens waaroor Anne Frank geskryf het, en jou verryk.

Nuwe flieks:

Stroomop ***

Dié huldeblyk aan vroue wat traumas verwerk deur in die boendoes deur stroomversnellings te vaar, gaan ’n treffer wees. Chanelle de Jager lewer uitstekende spel wat die balans tussen komedie en hartseer uitmuntend ondersteun. Knap spel deur Simoné Nortmann, Donnalee Roberts en Ilse Klink.

Maar dit is die beplanning om op onbegaanbare terrein te skiet wat die vervaardigers so kundig hanteer het, C.A. van Aswegen se gladde redigering en Tom Marais se aksievolle kamerawerk wat die fliek kenmerk. Ivan Botha se regie is professioneel.

Die draaiboek het egter nog drie weergawes nodig gehad om meer intrige (veral in ’n staptog) te verskaf en enkele onwaarskynlikhede te motiveer. Maar dit kan dalk vroue inspireer.

Charming ***

Kinders wat verveeld neul, sal hierdie spitsvondige animasiefliek gate uit geniet. ’n Prins kan nie nee sê vir ’n huweliksaansoek nie, en laat verskeie vroue in benarde situasies agter.

Die spitsvondigheid, outydse tekeninge, ’n geesdriftige snaakse storie waarin volwassenes die subteks sal raaksien, sal hiervan ’n treffer maak.

Veral vir kleuters aanbeveel.

Meer oor:  Lily James
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.