Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Pa en seun sê ‘JA’ vir Afrikaanse stromingsdiens

’n Pa en seun wat al ’n paar jaar daarvan droom om ’n Afrikaanse stromingsdiens te begin, het tydens die staat van inperking besluit om werk daarvan te maak.

Die skeppers van die Afrikaanse stromingsdiens Jou Afrikaans (JA) hoop dit vat wêreldwyd vlam.

Samuel Frauenstein en sy pa, André, albei rolprentvervaardigers, het die stromingsdiens Jou Afrikaans (JA) saam met Pierre Smith geskep.

JA, wat amptelik vanaf 1 Junie teen R80 per maand aanlyn beskikbaar sal wees, beloof om ou gunstelinge én nuwe Afrikaanse reekse, rolprente, dokumentêre, kinderprogramme, verhoogproduksies, musiek en opvoedkundige programme aan te bied sodat Afrikaanse kykers wêreldwyd dit alles op een plek kan geniet.

Samuel, vervaardiger van rolprente soos Treurgrond (2015), Trouvoete (2015) en Mignon Mossie van Wyk (2016), sê die Covid-19-pandemie was een van ’n handvol redes wat hom en sy pa oortuig het om daad by die woord te voeg en die projek uiteindelik te laat realiseer.

“Rolprente was nog altyd een van ons groot liefdes, maar ons het ongelukkig met die uitbreking van die pandemie besef dat vermaak by die huis die nuwe norm gaan word.

“Suid-Afrika het ook onlangs baie verbeter wat internetspoed betref, wat dit (stromingsdienste) meer toeganklik maak.

“Daar is ook ’n groot aantal ekspats wat die wêreld oor woon en ’n behoefte het om Afrikaanse vermaak en kultuur te geniet.”

Samuel sê hulle het besluit om die projek ondanks mededingers soos Netflix, Showmax, Amazon Prime en binnekort ook BritBox na te jaag, “vir die eenvoudige rede dat daardie platforms nie ’n fokus op Afrikaans” het nie.

“Ons wil graag ’n platform skep waar ou en nuwe programme kan saamleef, ’n platform wat sorg dat Afrikaans soos ons dit ken, beskerm en uitgeleef kan word sonder hoegenaamd enige inmenging. Dít is broodnodig om ’n waarlik vrye taal en kultuur te hê.”

Hy sê JA se openingsaanbod sal 60 uur se inhoud insluit, insluitende ouer reekse wat ons vermaaklegendes huldig, soos Vyfster, Agter elke man, Ballade vir ’n enkeling, Liewe Heksie en Wielie Walie, asook splinternuwe reekse, onder meer Kruispad, wat aan die einde van Maart verfilm word.

Hul mikpunt is om elke maand nog tien uur se nuwe inhoud by hul katalogus te voeg; hulle gaan daarom ook finansiële steun aan rolprentmakers bied om hul drome te bewaarheid en nuwe inhoud in Afrikaans te skep.

Samuel erken dat die skep van ’n stromingsdiens – een wat daarby met groot mededingers wil meeding – ’n “duur storie” is, nie net om die platform te bou nie, maar om ook inhoud te koop en te vervaardig.

“Daar is gelukkig baie inhoud wat vervaardig is en weens beperkte platforms nooit die lig gesien het nie. Ons het tans so ’n paar beleggers betrokke, maar daar is nog beperkte aandele beskikbaar. Uiters bekostigbare beleggingspakkette is beskikbaar sodat almal ’n kans kry om betrokke te kan raak.”

Hy sê sy en sy pa se droom is dat JA “die maatstaf van Afrikaanse stromingsvermaak in die wêreld word. Vir die publiek en ander vervaardigers moet dit ’n veilige hawe wees om ons taal en kultuur te kan geniet en uit te bou vir dié wat dit dalk nie ken nie.

“Vir jong sterre of toekomstige rolprentmakers moet dit ’n geleentheid bied om hul passie te kan uitleef sonder inmenging. Ons wil graag meer werk verskaf aan ’n bedryf wat tans bloei weens afleggings, ’n gebrek aan platforms en ekonomiese druk.”

• Belangstellendes kan reeds op die webwerf www.jouafrikaans.co.za vir die stromingsdiens registreer, voordat dit op 1 Junie begin. Dit sal op alle digitale platforms gestroom kan word.

Meer oor:  Fliek  |  Netflix  |  Tv  |  Flieks  |  Showmax
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.