Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘Parasite’ en ‘1917’ pak mekaar in die Oscar-loopgraaf
’n Toneel uit Sam Mendes se oorlogsprent 1917

Absoluut geen verrassings wag Oscaraand nie. Hollywood gaan komende Sondagaand die goue beeldjies aan die “usual suspects” uitdeel. En ál die prente verdien dit.

Aan die woord is Leon van Nierop, fliekfoendi en resensent vir onder meer Ontbytsake op RSG.

Die Oscars gaan volgens hom aan 1917 vir prent, Sam Mendes vir regisseur (van 1917), Joaquin Phoenix (The Joker) vir akteur, Reneé Zwellweger (Judy) vir aktrise en Parasite as beste buitelandse prent.

“Ek sal tevrede wees as Mendes se 1917 wen. Dit is ’n unieke konsep en herinner my aan Stanley Kubrick se Paths of Glory, wat dan ook vir Mendes geïnspireer het. Mendes verdien ook die regieprys - “die geheim lê daarin dat hy als in een skoot geskiet het, in die redigering kan jy vir die kyker iets wegsteek, hier kon hy nie. Dit het uiterste deursettingsvermoë geverg om só te verfilm om elke dag se nege minute só naarstigtelik te benader.”

Hy glo nie Quentin Tarantino verdien dit vir sy liefdesode aan die goue era in Hollywood, Once upon a Time in America, nie. “Tarantino is altyd goed, maar hy is altyd Tarantino. Met 1917 kan jy nie glo dit is dieselfde regisseur as byvoorbeeld American Beauty nie.”

Phoenix gaan almal in die beste akteur-kategorie uitstof, glo Van Nierop. “Hy het my laat voel vir hom ondanks sy donker kant en het ’n unieke karakterisering geskep met daai hoonlaggie en slapbeen van hom. Jy kon verstaan waar sy haat vandaan kom.”

Al die pryse wat Reneé Zwellweger tot dusver ingehark het vir haar vertolking van Judy Garland in Judy is welverdiend glo hy. “Sy was Garland in al haar maniertjies, die stywe nek en hoe sy haar sigaret gehou het. Ek kyk gereeld na Garland se prente, en is ’n reuse-bewonderaar.”

In die afdeling vir beste internasionale rolprent troon die Suid-Koreanse komedieriller, Parasite, van die regisseur Bong Joon-ho uit, glo hy. “Wáár kry ’n mens nog sulke stories? Het jy daardie kinkel verwag? ’n Mens voel vir al die karakters of hulle nou ryk of arm is. Dit het my stomgeslaan.”

Van Nierop beskou die Oscars as mosterd na die maal en “ingeteeld”. “Dit is nou die allerlaaste toekenningsaand van die seisoen en Hollywood verheerlik mos maar homself. Dit is eintlik ’n groot reklamefoefie. Ek dink daar is te veel pryse, die Golden Globes is byvoorbeeld oortollig. Almal verwys na hul Oscar en nie na hul Globe nie.”

’n Toneel uit die Suid-Koreaanse rolprent, Parasite, wat onder meer vir ’n Oscar benoem is as beste rolprent en buitelandse rolprent

Hy verstaan nie hoekom daar elke jaar so baie Oscar benoemings vir een betrokke prent is nie, en niks vir ander verdienstelike prente nie. Die feit dat die regisseur Greta Gerwig van Little Women-faam vanjaar nie benoem is nie is, ’n groot skande, meen hy.

Herman Eloff, die vermaak- en leefstylredakteur van News24 se Channel 24 meen Parasite verdien die toppryse.

“Die Oscars hou daarvan om Hollywood onverwags te betrap met hul beste fliek-kategorie. Sam Mendes se 1917 mag die voorloper wees, maar dalk word ons verras met Joker of Parasite wat met die goue beeldjie huis toe stap. Dit sal ’n anders voorspelbare aand die onverwagse einde gee waaroor almal sal praat. My stem gaan vir Parasite. Dit verdien ál die glorie.” Eloff meen dit moet Oscars vir beste prent en beste internasionale prent wen.

Eloff kies ook Phoenix en Zwellweger as beste akteurs en Mendes as beste regisseur.

Agtergrond:

Parasite, is ’n fel kommentaar op klas en kapitalisme. Dit handel oor arm Koreaanse gesin wat vir ’n ryk gesin gaan werk. Die titel is dubbelsinning en sinspeel dat ryk en arm wedersyds op mekaar teer.

Dit is vir ses Oscars benoem, dit het verlede jaar in Mei op die Cannes-rolprentfees die aandag begin trek toe die jurie dit eenparig aangewys het as wenner van die gesogte Goue Palm. Sover het Parasite vyf toppryse in spesifiek die Hollywood-skouerklopseisoen gewen. Dit het die oorspronklike draaiboekprys by die Writers Guild gewen vir draaiboek en die ensemble is vereer by die Screen Actors Guild- die eerste nie-Engelstalige prent om so vereer te word. Voeg daarby pryse van die American Cinema Editors, die Art Directors Guild asook die Motion Picture Sound Editors. Dit het die Golden Globe vir beste buitelandse prent gewen en die Bafta vir beste nie-Engelstalige prent en oorspronklike draaiboek.

Die Eerste Wêreld-oorlogsprent, 1917, het tien Oscarbenoemings ontvang. Mendes het die aksieavontuur en heroïsme van die gebruiklike oorlogsprentr gesystap en oorlog gewys soos dit is - jong seuns wat grusaam sterf in sinnelose skermutselinge. Dit het toekennings van die Producers Guild en die Directors Guild-toekenning ontvang. Ook in die sakkie is toekennings van die American Society of Cinematographers en die Motion Picture Sound Editors-Dit het die Bafta’s oorheers met sewe pryse in die top kategorieë en dit het die toppryse vir beste fliek en regisseur gewen op die Golden Globe-aand.

*Die Oscars word Maandagoggend 10 Februarie regstreeks van 03:00 op kanaal 104 op M-Net uitgesaai en Maandagaand om 21:00 op kanaal 101.

Meer oor:  Oscars  |  Flieks  |  2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.