Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Pitkos op dié bloedige nagmerrierit welkom

It Chapter Two

Gruwel, riller

****

Die hanswors It gaan bangbroeke omtrent skrik op die lyf jaag in It Chapter Two. Foto: www.junkee.com

Gruwelprente is een van die laaste rolprentgenres waarin ’n mens goeie pitkos verwag. Bangmaakrolprente laat gewoonlik net die bloed spat sonder dat lewenslesse ook deel van dié nagmerrieritte is.

Uitsonderings is daar wél: Netflix se spookstorie The Haunting of Hill House, Jordan Peele se Get Out en Us, en selfs Ari Aster se onlangse Midsommar maak jou skrik, maar vergeet nie dat daar in donker penaries ook ’n geleentheid is om die lig op die samelewing, menswees, verhoudings of rou te skyn nie.

Hoewel die regisseur Andy Muschietti se aanslag in It Chapter Two nie dié van ’n kunsfliek is nie, kan ’n mens die opvolg tot 2017 se It, wat saam op Stephen King se gelyknamige 1986-roman gegrond is, ook by dié uitgesoekte lysie voeg.

Ja, dit is ’n sonderlinge en onverwagse insluiting – hoe “diep” kan ’n rolprent oor ’n hanswors wat kinders afgryslik opvreet nou regtig wees? Maar die antwoord is juis die verrassing: Benewens al die gruwelikheid, is daar ook in die fliek van bykans drie uur plek gemaak om die gevolge van kindertrauma op volwassenes te illustreer.

Die fliek is egter g’n drama nie – ’n gruwel is dit in murg en been. Fliekgangers met ’n irrasionele vrees vir narre en hansworse (glo bekend as koulrofobie) en bloed (hemofobie) gaan sewe soorte hel in die rolprentteater ervaar.

Die vertelling speel 27 jaar ná afloop van die gebeure in die eerste rolprent af, toe sewe kinders in die fiktiewe dorp Derry die mensvretende hanswors Pennywise ore aansit. Dié keer keer Pennywise na Derry terug om wraak te neem op die kinders, almal nou volwassenes, wat hom eens in die verleentheid gestel het.

Wat Pennywise opdiep, is grusaam en uit ’n kritiese oogpunt tog ook besonders: Monstertjies wat uit fortuinkoekies broei, goggas met menskoppe, kaal monsteroumas en kinders wat rondhardloop nadat hulle middeldeur gesaag is, is nie . . . wel . . . afgesaag nie. Selfs geharde gruwelaanhangers het ’n sopie brandewyn nodig vir dié kaskenades, wat darem plek-plek met welkome komedie deur Richie (Bill Hader) verlig word.

Dit is egter die sewe hoofkarakters se reis na gister – en hul onderskeie verledes wat hulle daar konfronteer – wat die knoop vir dié resensent deurhak. Dit is deurdringend en tydsaam, soms te ooglopend en net-net te lank, maar dit is dalk net die skop onder die bas wat volwasse gehore nodig het om te besef dat hulle nie hul demone met hulle moet saamdra nie. Kyk dit liewer vreesloos in die oë. Stry daarteen. Bewerk dit soos deeg. Maak dit los van jouself.

Indien nie, gaan die swartkolk in jou binneste jou nes Pennywise verorber.

  • Met onder andere James McAvoy, Jessica Chastain, Bill Hader, Isaiah Mustafa, Jay Ryan, James Ransone, Andy Bean en Bill Skarsgård. Regie: Andy Muschietti. Ouderdomsbeperking: 16 GGT (geweld, gruwel en taal). Tydsduur: 168 min. In 2D, 4DX en in Imax-teaters.
Meer oor:  It  |  It Chapter Two  |  Flieks  |  Stephen King
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.