Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Plaas gee vir Albert ‘vleuels van die verbeelding’

Die plaas buite Volksrust waar die akteur Albert Pretorius grootgeword het, het aan hom “vleuels van die verbeelding” gegee.

Albert Pretorius in Die rebellie van Lafras Verwey.

En die titelkarakter in die rolprent Die rebellie van Lafras Verwey (vertolk deur Tobie Cronjé) waarin Pretorius tans te sien is, het self ’n verbeelding.

Pretorius se karakter, Leon, trek die arme Lafras se siel uit. Ook nie alleen nie.

Leon werk saam met Lafras in die staatsdiens.

“Hy is ’n boelie en pik gereeld op Lafras, die oudste van sy kollegas. Ek dink daar is ’n kompleksiteit aan alle karakters. Almal het maskers en pas aan by situasies. Ons sien Leon net by die werk, maar ek dink hy is iemand heeltemal anders by die huis.

“Boelies boelie gewoonlik self uit pyn. Leon wys die aaklige kant van die samelewing wat altyd teen Lafras is, ‘the Man’, die stelsel wat ons almal tot die been slyp, die houe wat ons in realiteit vaspen, die dinge waarteen Lafras in opstand wil kom en ontvlug met sy revolusie en musiek en drome.”

Daar op die plaas het Pretorius homself vermaak.

“Ek het van kleins af gesing en aan sangkompetisies deelgeneem, in my sexy denimonderbaadjie en wit tekkies, en ook toe op skool aan skoolkonserte deelgeneem en talentkompetisies en so.”

Teatergangers sal Pretorius goed ken, maar hy begin nou ook vastrapplek op die skerm kry. Hy is ook te sien in Johnny is nie dood nie, wat later vanjaar landwyd uitgereik word.

Op die verhoog was hy onder meer in Die Seemeeu, Playland, Nouliks of niks en onlangs by die US Woordfees in Stellenbosch in Wild.

Vroeg in sy loopbaan het hy die rol van Ulrich in die sepie Binneland Sub Judice vertolk. Hy was ook in die reeks Buurtwag en verlede jaar in die rolprent Jonathan.

“Albei mediums het hul eie uitdagings. Ek vind dit hang maar van projek tot projek af. Watter rol ’n mens speel, wie saam met jou speel, die teks, die styl, alles speel ’n rol. Albei mediums het verskillende aspekte wat op hul eie manier moeilik kan wees, maar ek kan nie een bo die ander kies nie. Ek sukkel wel om na myself te kyk op film, so in daardie sin is die eindproduk van teater seker lekkerder, want ek hoef darem nooit na myself te kyk nie!”

Die name Hamlet en Macbeth duik op oor wat hy nog wil aanpak. “Ek is ook weer lus vir ’n Sam Shepard.”

Nuwe werk is ook maar vir hom altyd ’n bietjie vreesaanjaend.

Daar is vele goed waaroor hy nie beheer het nie. Soos mense wat nie van hom in die stuk hou nie of wat nie eintlik omgee nie.

“Maar ek het beheer oor my werk. Dis al wat ek kan doen. Om so eerlik as moontlik met die karakter, storie en visie van die regisseur te werk. Elke toneelstuk is ’n ontdekkingsreis. Dit laat mens met temas en emosies werk wat nie altyd naby aan jou sit nie, karakters wat ver weg van jou is of soms te naby en al wat ek kan doen, is om dit met eerlikheid te probeer ontdek en net die storie te vertel.”

Op laerskool het sy Engels-onderwyser, Bokkie Kirton, ’n groot invloed op hom gehad het. Op hoërskool het hulle na Pretoria verhuis en het hy ook later dramaklasse by die aktrise Shareen Swart ontvang.

Hy het al met soveel ander groot name die verhoog gedeel, soos Gerben Kamper. En Sandra Prinsloo het al sy ma vertolk.

“Ek is baie bevoorreg, ja! Ek leer vreeslik baie by hulle en hulle is wonderlike mense! Net plat-op-die-aarde-mense wat op hul werk fokus, soos dit moet wees.”

Die bekoring en opwinding van toneelspel is duidelik te sien.

“Daardie eerste keer as jy die teks lees en die hele journey is voor jou. Dis baie anderste prosesse. In teater repeteer jy vir weke voor die opening, terwyl jy met ’n rolprent elke dag stukkie vir stukkie aanmekaar lap. Maar die eerste dag het altyd bietjie elektrisiteit in die lug en ’n vlinder in die maag.”

* Die rebellie van Lafras Verwey is tans in rolprentteaters en Johnny is nie dood nie word op 5 Mei uitgereik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.